Danie Marais oor die gebrek aan raskwessies in Afrikaanse digkuns
Ná die saamstel van die poësiebundel, Nuwe Stemme, en in die konteks van broeiende rassespanning in Suid-Afrika, het digter Danie Marais opnuut bewus geword van die “vreemde, benoude stilte” van jong (wit) Afrikaanse digters wanneer dit by kultuur- en kleurkwessies kom.
Marais skryf in ‘n opstel op Versindaba, getiteld “Stilte in die hof” dat daar in die laaste dekade geen digbundels verskyn het wat rassespanning aanraak nie. Hy sluit sy eie werk hierby in en stel voor dat hyself, en ander digters, die tema verken. “En is die poësie nie juis ’n ruimte waarin die individu die volle skrikwekkende kompleksiteit van sy menslike verstrikking kan verken nie?”
Lees ook die onderhoud wat Louis Esterhuizen ná die verskyning van die opstel met Marais gevoer het.
Hulle sê in die Europese hemel is die Britte die polisiemanne, die Duitsers die ingenieurs, die Franse die kokke, die Italianers die minnaars en die Switsers organiseer alles. In die Europese hel is die Duitsers die polisiemanne, die Franse die ingenieurs, die Britte kook, die Switsers is die minnaars en die Italianers organiseer alles.
Toe ek in die laat 90’s in Duitsland gebly het, was dit ’n grappie wat ek gereeld by verskeie partytjies gehoor het. Almal kon daaroor lag en niemand het dit as rassisties of hatig beskou nie. En laat ons gerus onthou, hierdie volke het mekaar oor eeue in verskeie oorloë afgemaai. Maar dit sou moeilik wees om ’n Suid-Afrikaanse vertaling vir dié grap te vind wat niemand aanstoot gee nie. Die gevoelighede oor die verlede lê nog te naby aan die oppervlak van ons verdeelde samelewing. Om die waarheid te sê, 16 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing klou ons in die parlement, om die raadstafel, in restaurante en by die vergaderings van ouer-onderwysersverenigings desperaat aan die goeie tafelmaniere van politieke korrektheid, terwyl die kakkerlakke van ou wrewel, wantroue en haat so hard onder die vloerplanke lawaai dat ons mekaar dikwels skaars kan hoor.
In die eerste deel van die onderhoud sê Marais dat digters nie gedwing moet word om sosiaal betrokke te wees nie, maar dat dit goed sou wees as die “digkuns die huidige emosionele landskap van ons taalgroep nog meer volledig en waagmoedig wou karteer”
Danie, ten eerste – veels geluk met ʼn belangwekkende essay oor die stand van ons digkuns. In ʼn persoonlike opmerking het jy aan my genoem dat jy lank gewroeg het aan die skryf van dié betrokke essay … Wat was dan die katalisator wat jou daartoe genoop het om dié pleidooi teen die kerkdeure vas te spyker?
Baie dankie vir die kompliment Louis, maar ek weet nie lekker waar om te begin met ’n antwoord op jou vraag nie. Want dit was geen enkele katalisator nie – dis ’n ding waaroor ek al lank broei.
Iets wat beslis ’n rol gespeel het, is my betrokkenheid by die Beeld Jeugberaad in die afgelope vyf jaar. Elke jaar moedig ek en die ander gespreksleiers (Andries Bezuidenhout is ook ’n gereelde medewerker) al die 17-jarige toekomstige hoofseuns, hoofmeisies en toppresteerders aan om betrokke te raak by die gesprekke in Suid-Afrika; om nie uit die staanspoor te aanvaar dat hulle as lede van ’n Afrikaanssprekende minderheid onwelkom is by provinsiale of nasionale instansies waar besluite geneem word nie.
In die tweede helfde van die onderhoud sê Marais daar is wel jongmense wat hierdie kwessies in ander genres aanpak. Hy verwys onder andere na lirieke van Fokofpolisiekar se “Oop vir misinterpretasie” wat nou in Nuwe Stemme opgeneem is.
In oorsese digkunste, veral die Amerikaanse en Latyns-Amerikaanse digkunste, bestaan daar natuurlik ‘n lang tradisie van aktuele digkuns met sy gepaardgaande harde en direkte aanslag op die leser. Normaalweg is dit ook meer toeganklike verse met veel minder resonansie as die gebruiklike liriese aanslag wat ons eie digkuns in ‘n groot mate kenmerk. Is ons plaaslike poësielesers en kritici ooit in staat om diesulke verse na waarde te skat, wonder ek meteens?
Laat ek uit die staanspoor sê: Die resepsie van poësie of enige kulturele produk bly vir my ‘n fassinerende raaisel. Ek is telkens verstom oor dinge wat gewild raak (onder die publiek en/of kritici) en net so gereeld oor boeke of musiek wat nie kopers of kritiese aanvaarding vind nie. Ek kan net beaam wat Margaret Atwood in Negotiating with the Dead: A Writer on Writing (2003) sê: Daar is net vier soorte boeke – goeie boeke wat verkoop; goeie boeke wat nie verkoop nie; slegte boeke wat verkoop, en slegte boeke wat nie verkoop nie.
Boekbesonderhede
- Nuwe Stemme 4 saamgestel deur Danie Marais, Ronel de Goede
Boektuisblad
EAN: 9780624048732
Find this book with BOOK Finder!
- Al is die maan ‘n misverstand deur Danie Marais
EAN: 9780624047612
Find this book with BOOK Finder!
















Please register or log in to comment