Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Amanda Gouws gesels met Helena Gunter by die bekendstelling van Met koffer en kaart

Amanda Gouws en Helena Gunter

Met koffer en kaartDie titel van Helena Gunter se nuwe kortverhaalbundel, Met koffer en kaart, verwys na Joernaal van Jorik deur DJ Opperman, waarin die kolonis Jorik met sy koffer en kaart in Afrika aanland.

“Op ‘n ironiese wyse praat ek terug met Jorik,” het Gunter gisteraand in gesprek met prof Amanda Gouws by die bekendstelling van die bundel gesê. Met haar verhale sê sy vir Jorik dat die koffer en kaart wat ons ontvang het nie meer van toepassing is in die hedendaagse bestel in Suid-Afrika nie. “Ons moet ‘n nuwe koffer en kaart kry en ons weg in Afrika soek.”

Die koffer verwys ook na die bagasie van die geskiedenis wat Suid-Afrikaners met hulle saamdra. “Ek glo dat hoe meer jy jou met die geskiedenis bemoei, hoe makliker verstaan jy die hede,” het Gunter gesê. Volgens Gouws kry Gunter dit in haar verhale reg om die verlede op ‘n konkrete manier in die hede in te bring.

Gouws, ‘n lektor in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, was eers verbaas dat Gunter haar gevra het om die gesprek by Treat Patisserie in Durbanville te lei, aangesien sy nie ‘n letterkundige is nie, maar toe sy Met koffer en kaart gelees het, het sy besef hoe Gunter in haar verhale die persoonlike polities maak.

Só skryf Gunter byvoorbeeld in die eerste verhaal in die bundel oor ‘n vrou wat ‘n aborsie ondergaan. Wanneer die “pa” van die grensoorlog terugkeer, is hy so vasgevang in sy eie verlies dat hy nie haar intense persoonlike verlies raaksien nie.

Gouws meen Gunter se verhale spreek veral tot hul generasie – mense wat ongeveer in hul 50′s is en grootgeword het gedurende apartheid. Hierdie generasie probeer sin maak van hul verlede en die transisie na demokrasie. Hulle probeer hul pad en identiteit vind in die hedendaagse Suid-Afrika.

In die laaste vier verhale van die bundel skep Gunter die karakter Mara wat uit hierdie generasie kom. “Mara is so ‘n bietjie rassisties en wil dit nie erken nie. Sy hanteer nie die nuwe Suid-Afrika so goed nie.” Die “koffer en kaart” wat aan haar generasie gegee is, is dat hulle westerse kinders in ‘n eerste-wêreld land is. “Na 1994 moes hulle besef dat hulle eintlik in ‘n ontwikkelende land woon en dat hulle voorouers hulle in hierdie land wangedra het.”

Volgens Gouws spreek Gunter “tot die kollektiewe psige van die Afrikaner”. Dit is iets wat al dikwels vanuit ‘n manlike perspektief gedoen is, maar Gunter bied hierteenoor ‘n belangrike vroulike perspektief en stem.

Facebook galery

FacebookFacebook

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment