Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Joan Hambidge en Heilna du Plooy bring hulde aan TT Cloete by US Woordfees

TT Cloete

OnversadigTT Cloete is ‘n ware intellektueel en ‘n denker met ‘n wetenskaplike ingesteldheid. As ‘n digter het hy ook die vermoë om daardie kennis esteties in taal weer te gee.

Só het Heilna du Plooy tydens ‘n profiel oor die lewe en werk van TT Cloete, ter viering van sy 86ste lewensjaar by die US Woordfees gesê. “Cloete se poësie is intellektueel,” het du Plooy gesê. “Maar dit beteken nie dat dit emosieloos is nie. Cloete bring doelbewus sy vreugdes, foute en smart in sy gedigte in. Hy skram nie weg van sy hartseer nie.” Cloete het by dieselfde geleentheid sy nuwe digbundel, Onversadig, wat grotendeels ná die dood van sy vrou geskryf is, bekendgestel.

“Die dood is ‘n deel van die lewe,” het Cloete by die geleentheid gesê. “Ons moet nie daarvan wegskram nie. Ons moet daaroor praat soos ons oor geboorte praat.”

Cloete het al ‘n hele paar keer self die dood in die oë gestaar sedert hy as eerstejaarstudent polio gehad het, maar volgens Du Plooy het hy altyd aangehou om voluit te leef. Hy het eers op 56-jarige ouderdom met sy eerste digbundel gedebuteer, ná nog ‘n siekbed. Sy vrou het hom aangemoedig om iets met al die gedigte in sy laaie te doen, as ‘n vorm van terapie, maar dit het toe tot ‘n ernstige digtersloopbaan gelei. “Ouderdom het niks met die skryf van gedigte en romans te doen nie,” het Cloete gesê. Hy is van plan om aan te hou skryf lank ná sy 86ste lewensjaar.

Joan Hambidge het by die geleentheid gesê Cloete se jongste digbundel is “een van die grootstes” wat sy in ‘n lang tyd gelees het. Die 196 bladsye van die bundel bevat gedigte oor alles en nóg wat: van Dakar tot sokker en ‘n “spoof van Miemie Coertse se lied “Heimwee”. “Cloete is werklik ‘n verbysterende digter,” het Hambidge gesê. “Iemand wat soveel epigone en navolgers soos Cloete het, is werklik ‘n gróót digter.”

Joan Hambidge en TT CloeteTT CloeteHeilna du Plooy en TT CloeteTT CloeteHeilna du Plooy

Elizabeth Frandsen het toonsettings van Cloete se gedigte gesing, wat deur André Strijdom gekomponeer is.

‘n Dankbare Cloete het gesê dat hierdie geleentheid by die Woordfees een van die hoogtepunte van sy lewe was.

Hy het sy digterskap vergelyk met die kere wat hy as kind in die Vaalrivier baljaar het. Hulle het op die klippe in die rivier gesit, maar as dit vinnig afgekom het, is hulle van daardie klippe afgeslaan. Die literêre sisteem plaas digters soms hoog op ‘n “klip”, maar met hul woorde slaan hulle daardie selfde digters soms weer af.

Cloete het vertel hoe hulle een keer kaal in die rivier geswem het en nie besef het dat ‘n tweede vloed oppad was nie. Toe hulle na die wal toe swem om hul klere te kry, het dit reeds weggespoel. “Dit is hoe dit soms gaan in die letterkunde. Jy word van jou troontjie afgeslaan, jy’s poedelkaal en jy moet by die huis kom.”

Maar, het Cloete gesê, Hambidge en Du Plooy se mooi woorde oor hom by hierdie huldigingsaand, het vir hom ‘n “harnas” gegee wat hy in die vervolg sal kan aantrek om hom hierteen te beskerm.

Net so is die literêre sisteem ook vir Cloete soos ‘n wasgoedlyn. “Jy sien hoe mense klere daarop hang met jou naam op, maar jy weet dit is nie joune nie en die klere is vuil. Hulle hang selfs onderklere met jou naam daarop op die draad en jy weet dit is nie joune nie.”

Maar ‘n gedeelte van die wasgoedlyn is “oopgelos” en Hambidge en Du Plooy het daar vir hom ‘n “groot groen vlag” opgehang wat hy in die vervolg as “soos ‘n atleet om sy skouers” sal dra as mense hom wil “uittrek”.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment