Carina Stander se Wildvreemd met vuurdanse en kunsuitstalling bekendgestel
Dit is nie net Carina Stander se digkuns wat met vele vlakke van betekenis werk nie. In haar eerste vollengte prosawerk, die roman Wildvreemd, word verskillende betekenisse reeds deur die titel opgeroep.
“Die titel kan eerstens verwys na ‘verwildering’, want in die roman word ‘n vrou uit die samelewing verwilder,” het Stander by die bekendstelling van haar boek by Lanzerac-wynlandgoed buite Stellenbosch gesê. In Wildvreemd is die hoofkarakter ‘n stom vrou wat in ‘n woud woon en met bye boer. Al die dorpenaars maak hul eie stories oor haar op, byvoorbeeld dat sy ‘n heks is of ‘n hoer, dat sy klein seuntjies vergiftig en dat sy stom is omdat ‘n hiëna haar aan die nek gebyt het.
“Tweedens,” het Stander, in gesprek met haar redakteur Francois Smith gesê, “kan die titel na ‘wildernis’ verwys”. Daar is volgens haar ‘n sterk bewaringstema in die boek. “Dit gaan egter nie net oor die bewaring van die natuur nie, maar ook oor die mens se sielslewe.” Volgens haar suggereer die titel ook die “barbarisme” van mense wat die natuur skade aandoen.
“En dan is ‘Wildvreemd’ natuurlik ook iets wat ‘baie vreemd’ is.” Stander wys daarop dat al die karakters in Wildvreemd ‘n bietjie ongewoon is. Trouens, Stander meen elke mens het ietsie “vreemds” aan hom of haar. “Ek het nog nooit ‘n vervelige persoon ontmoet nie,” sê sy.
In die gesellige atmosfeer van ‘n kamer met ‘n kaggel, gedempte beligting en groot gemakstoele by die Lanzerac-hotel, het Stander vir die gaste ‘n voorsmakie van haar boek gegee met ‘n voorlesing uit Wildvreemd. Kyk ‘n video van die voorlesing:
- Laai dit nie? Kyk op BOOKVideoSA TV
Daar is beslis ooreenkomste tussen Stander se prosa en poësie, maar op ‘n vraag van Chris Chameleon uit die gehoor, het Stander erken dat sy ook ‘n kopskuif moes maak om ‘n roman te kon skryf. “Met digkuns is ‘n mens gewoonlik baie subtiel,” het Stander verduidelik. “Ek was aan die begin so subtiel met die skryf van Wildvreemd dat Francois, my redakteur, nie die helfde van die goed opgelet het wat ek met die storie probeer doen het nie! Ek moes leer om ‘n bietjie duideliker te skryf.”
Nog ‘n verskil tussen poësie en prosa, waarin Stander haar verlustig het, was dat ‘n mense vir die skryf van ‘n roman deeglike navorsing oor ‘n onderwerp kan doen en ekstensief daaroor kan skryf. “Met digkuns kan ‘n mens nie te veel oor dieselfde onderwerp skryf nie. Ek is altyd so spyt as ek baie navorsing gedoen het en net agt gedigte daarvan kan maak.”
Stander is egter nie net ‘n digter en romanskrywer nie, maar ook ‘n visuele kunstenaar. ‘n Tentoonstelling van haar kuns is saam met die boekbekendstelling by Lanzerac geopen en gaste kon na werke kyk wat deur die roman Wildvreemd geïnspireer is. Oor die wisselwerking tussen haar skryfwerk en visuele kuns sê Stander: “My prosa is baie visueel, terwyl my skilderkuns soms narratiewe elemente het.”
Stander het al die gaste hartlik bedank dat hulle gekom het om die geboorte van haar boek, waaraan sy 15 jaar lank gewerk het, en wat sy 20 keer herskryf het, te vier. Stander het die boek op 19-jarige ouderdom begin skryf, en sê sy is bly dat sy so vroeg begin het, omdat die jong karakters in haar boek nou baie geloofwaardig klink. Dit is ook volgens haar goed dat die boek nie voortydig gepubliseer is nie. “Dit is eers toe ek my 30′s bereik het dat ek my karakter ten volle verstaan het.”
As ‘n teken van haar dank het Stander ‘n verrassing vir haar gaste gereël: Hulle is buite met ‘n vuurdans vertoning bederf. Kyk ‘n video van die vertoning:
- Laai dit nie? Kyk op BOOKVideoSA TV
* * * * * * * *
Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet. Lees ‘n paar van haar twiets:
Ek is by die bekendstelling van Wildvreemd ( @NBPublishers ) deur Carina Stander by Lanzerac wynlandgoed #livebooks
Francois Smith tree met Carina Stander in gesprek by bekendstelling van Wildvreemd #livebooks http://t.co/9JlfOnf7
Carina Stander het op 19jarige ouderdom aan Wildvreemd begin skryf. Die storie het basies dieselfde gebly… #livebooks
Stander: Maar my 19jarige idee van mense wat óf skurke óf helde is, het verander. Karakters het meer geskakeerd geraak #livebooks
Stander: Bly het jonk begin skryf want daar’s 3 jong karakters wat nou geloofwaardig is, al het nie meer toegang tot denkwereld #livebooks
Stander: Maar ek het eers my hoofkarakter begin verstaan toe ek my 30′s bereik #livebooks
Stander: Aanvanklik was daar een verteller, maar het besluit om karakters hul eie stories te laat vertel #livebooks
Stander noem haar boek ‘n raaiselroman #livebooks
Oor 15 jaar het Stander die boek 20 keer herskryf. Nou bly dit was afgekeur, want sou voortydig verskyn #livebooks
Stander: Het begin skryf vir selfterapie. Toe werk dit, maar hou toe maar aan skryf om ander te heel #livebooks
Maar nou skryf Stander omdat sy met enige kreatiewe werk nie kan wag om die eindproduk te sien nie #livebooks
Stander skryf al langer digkuns as prosa. Van haar gunstelingprosaskrywers het ook digkuns geskryf bv Michael Ondaantje #livebooks
Daar gaan nou glo buite ‘n verrassing vir die gaste wees! #livebooks
Die gaste is deur ‘n vuurdanser vermaak by die bekendstelling van Wildvreemd #livebooks
Carina Stander se kunsuitstalling gaan nou geopen word #livebooks
* * * * * * * *
Facebook galery
Boekbesonderhede
- Wildvreemd deur Carina Stander
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053392
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!



















Please register or log in to comment