NB-uitgewers se skrywers by Woordfees 2012
Van 2 tot 11 Maart vanjaar is dit weer tyd vir die US Woordfees op Stellenbosch, wenner van die Fiesta-toekenning vir die gewildste fees in Suid-Afrika. Eergister is die propvol program vir hierdie fees bekendgemaak.
NB-Uitgewers bied talle wonderlike gesprekke met al jou gunsteling skrywers by Woordfees 2012 aan, insluitend Fourie Botha (Donkerkamer), Nicole Jaekel-Strauss (Maal), Theo Kemp (Skool), Zain Eckleton (Die rolbalspeler), Naas Steenkamp (Op ‘n galop na Buckingham-paleis), Carina Stander (Wildvreemd), E. Kotze (Hoogty), Hermione Suttner (Bitter heuning), Murray la Vita (Gesprekke met merkwaardige mense), Maya Fowler (As jy ‘n ster sien verskiet), Sonja Loots (Sirkusboere), Antjie Krog (Mankepank en ander verse), Jan van Tonder (Roepman) en nog vele meer!
Die 91ste lewensjaar van Nerina Ferreira, Leon Rousseau se 81ste verjaarsdag en Marié Heese se 70 jare word met spesiale profiele gevier. Die immergroen ikoon, Jan Rabie, se lewe word ook bespreek.
Lesers kan ook uitsien na die bekendstelling van ‘n hele aantal nuwe boeke, insluitende Lot se vrou deur Joan Hambidge, Pirouette deur Aniel Botha, Marzanne Leroux-Van der Boon se Israel-reeks, Go’El Yisra’el, Die water wat verby is deur Johan en Ria Smuts, Getuienisverhale deur Benescke Janse van Rensburg, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles, sowel as Petra Müller se nuwe digbundel, Gedigte rondom die gedagte van geel.
En vir die smulpape is daar heerlike etes saam met skrywers soos André Brink, wat oor sy komende roman Philida sal gesels, Kerneels Breytenbach (Piekniek by Hangklip), Annelie Botes (Tabernakel), Jannie Mouton (Jannie Mouton: “En toe fire hulle my”), Louis Jansen van Vuuren (Tempermes), en die Bakkes-broers C Johan Bakkes (Oepse daisy) en Christiaan Bakkes (Stoffel op Safari).
Moenie hierdie wonderlike geleenthede misloop om die skrywers te ontmoet en miskien jou boeke te laat teken nie! Sien julle by die fees!
Meer inligting oor NB-uitgewers se aanbiedinge volg hieronder:
Vrydag, 2 Maart
JAN RABIE: IMMERGROEN
Tyd: 12:00
Plek: JS Gericke Biblioteek
Koste: R50
Abraham H. de Vries en Dave Pepler gesels oor die lewe en werk van een van Afrikaans se lieflingskrywers, Jan Rabie. Die uitsonderlike dokumente in die Jan Rabie-versameling van die Dokumentesentrum word belig in ’n fassinerende rondleiding.
Maandag, 5 Maart
ANDRE P BRINK
Tyd: 12:00
Plek: Towerbosch
Koste: R190
Die internasionaal gevierde André P. Brink gesels oor Philida, sy slaweroman wat later vanjaar verskyn. Dié roman speel af op die destydse plaas Zandvliet (vandag Delta) tussen Stellenbosch en Franschhoek. Kom sit aan vir ʼn heerlike maaltyd saam met een van Afrikaans se grootstes!
VAN GROENTJIE TOT SKRYWER
Tyd: 14:00
Plek: Erfurthuis
Koste: R40
In samewerking met LitNet. Met Fourie Botha, Nicole Jaekel-Strauss en Theo Kemp in gesprek met Bibi Slippers
Om te skryfskool of nie: ‘n gesprek oor die voor- en nadele van skryfskole aan universiteite. Die invloed van die mentor en die langtermyn impak van die skryfskool word bespreek. LitNet se Bibi Slippers stel vrae aan jong skrywers wat deur die meul is.
LEON ROUSSEAU 81
Tyd: 19:00
Plek: Boektent
Koste: R60
Dié veelsydige uitgewer en bekroonde skrywer het ‘n onuitwisbare indruk gelaat met o.m. Die groot verlange, sy seminale biografie oor Eugène Marais. As jeugboekskrywer het sy Fritz Deelman-reeks generasies jongmense aan die lees gehou, soos ook sy bekende Storieman-reeks met storieboeke en kassette. Leon se seun Chris klink ‘n glasie op sy vader wat op hierdie dag by die Woordfees 81 word, en Gerrit Brand lewer ‘n oorsig van Rousseau se bydrae tot Afrikaans. Kom hou partytjie saam met ons! Dorothea van Zyl is die aanbieder.
Dinsdag, 6 Maart
DIE ROLBALSPELER
Tyd: 10:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
Elize Parker gesels met Zain Eckleton oor sy debuutroman Die rolbalspeler, ‘n ontroerende verhaal van ‘n jong man wat vir die eerste keer in sy lewe sy voete vind. Sy gesiggestremdheid is dalk ‘n hindernis, maar niks skeel met sy verstand en met sy hart nie. Maak kennis met ʼn skrywer wie se werk jou uitsig op die lewe sal verander.
GROENTJIE IN LONDEN
Tyd: 12:00
Plek: Boektent
Koste: R40
In sy dae as junior diplomaat by Suid-Afrikahuis in Londen het Naas Steenkamp allerlei avonture beleef. Naas woelinge op die politieke front in die onstuimige laat 50’s en vroeë 60’s het hy ‘n verskeidenheid fassinerende uitdagings die hoof gebied. Kom luister na sy wedervaringe, soos opgeteken in Op ‘n galop na Buckingham-paleis.
THEO KEMP EN CARINA STANDER
Tyd: 14:00
Plek: Erfurthuis
Koste: R40
Twee talentvolle skrywers saam op een verhoog! Theo Kemp (voorheen Woordfeesprojekbestuurder) se Skool ondersoek die krisis wat heers in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. In Carina Stander se Wildvreemd laat agt ek-vertellers hul skuld én broosheid blyk. Kom luister hoe praat dié jong woordkunstenaars oor hul ambag.
VAN VELLERIF TOT LAMMMERSBAAI
Tyd: 16:00
Plek: Erfurthuis
Koste: Gratis
Met E. Kotze en Hermione Suttner. Twee Weskus-skrywers ontmoet! Sussie Kotze (E. Kotze) is die veteraan van hoogstaande kortverhaalbundels soos Halfkrone vir die Nagmaal en romans soos Toring se baai en Hoogty. Hermione Suttner is die nuweling met Bitter heuning. Hulle vertel meesleurend oor die see, die veld en “Vêllerif”, soos die Weskussers van die prentjiemooi rivierdorp praat. Suzette Kotzé-Myburgh en Linda Rode lei die gesprek.
Woensdag, 7 Maart
MARZANNE LEROUX-VAN DER BOON
Tyd: 11:00
Plek: Boektent
Koste: GRATIS
Lux Verbi stel die vyfde roman in Marzanne Leroux-Van der Boon se Israel-reeks, Go’El Yisra’el, bekend. Geliefde karakters soos Marc en Rivkah keer terug – lesers sal hulself opnuut verdiep in hul lief en leed. Die bekroonde skrywer vertel meer van die boeiende roman en van haar reise na Israel om die reeks getrou en geloofwaardig aan te pak.
PIROUETTE
Tyd: 14:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
In Aniel Botha se debuutdigbundel Pirouette word balletterminologie en die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind in ’n helder besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling. Joan Hambidge gesels met die digter oor dié bundel waarmee ’n bevrydende sprong na heling gegee word.
JOAN HAMBIDGE: LOT SE VROU
Tyd: 16:00
Plek: Boektent
Koste: R60
Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met Joan Hambidge, een van die bekendste literêre figure in Afrikaans. Lot se vrou is ʼn bundel ‘woordverse’ waarin die idee nie ondergeskik gestel word aan die woord nie. Selde nog het Hambidge die ‘gevaarlike woord’ so onverskrokke gehanteer soos in hierdie bundel, wat beskou word as van haar rykste werk tot op hede.
WERKSWINKEL: SANLAM-PRYS VIR JEUGLEKTUUR
Tyd: 16:00
Plek: Erfurthuis
Koste: R40
In Oktober 2012 word die wenners van die 2011-kompetisie bekroon en die boeke landswyd bekendgestel. Tafelberg bied hierdie slypskool aan om voornemende skrywers toe te rus met wenke en riglyne vir die skryf van ’n wenboek. Derick van der Walt, voorheen bekroon vir Lien se lankstaanskoene en Willem Poprok, is aan die woord saam met Susan Samuel, een van die vorige beoordelaars.
NUWE STEMME 5
Tyd: 18:00
Plek: Boektent
Koste: GRATIS
Die inskrywings vir Nuwe stemme 5 sluit binnekort. Kom luister na digters wat in dié bekende Tafelberg-reeks gedebuteer het, soos Melt Myburgh, Fourie Botha, Danie Marais, Toast Coetzer en Bibi Slippers. Heilna du Plooy en Loftus Marais, die samestellers van die nuwe bloemlesing, gesels ook oor die opwindende projek wat voorlê.
Donderdag, 8 Maart
MURRAY LA VITA
Tyd: 09:00
Plek: De Vette Mossel
Koste: R90
Murray La Vita het hom onderskei as een van die suksesvolste onderhoudvoerders van ons tyd. Hierdie Groot Sagmoedige Reus kry dit reg dat die belangrikste mense van ons tyd – politici, kunstenaars, aktiviste en meningsvormers – telkens hul siele vir hom ontbloot. Sy onderhoude lei tot merkwaardige, sensitiewe gesprekke wat ʼn onuitwisbare indruk op sy lesers laat. Maar hierdie keer word die onderhoudvoerder ondervra!
DIE WATER WAT VERBY IS
Tyd: 11:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
“Met die water wat verby is sal jou meule nooit weer maal,” het Langenhoven gesê. Wat verby is, is verby. Maar die verlede is nie onherroeplik nie. Die literatuur kan dit tot lewe wek en nuwe betekenis daaraan gee. Bekende Stellenbossers Johan en Ria Smuts gesels met Kerneels Breytenbach oor hul kortverhaalbundel Die water wat verby is.
GETUIENISVERHALE
Tyd: 14:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
Die kuns om ‘n getuienisverhaal geloofwaardig te skryf: Benescke Janse van Rensburg, skrywer van Ontdek God in die stories van mense en Wysheid – 31 oordenkings uit Spreuke, en Helana Olivier, skrywer van Ware verhale van geloof en Ware verhale van hoop, ruil gedagtes uit hoe om mense se geloofstories en geloofspaadjies getrou uit te beeld en hoe om met die sensitiewe gegewens te werk sodat dit aangrypend vir lesers oorvertel kan word.
DERICK, FANIE, FRANCOIS EN MAYA!
Tyd: 15:00
Plek: Boektent
Koste: R40
Johan Anker tree in gesprek met jeugskrywers van Human & Rousseau en Tafelberg oor hul jongste boeke: Derick van der Walt, Fanie Viljoen, François Bloemhof en Maya Fowler. Nuwe tendense in die Afrikaanse jeuglektuur, en die verskille en ooreenkomste tussen die skryf van jeug- en volwasse fiksie, word bespreek.
SIRKUSBOERE
Tyd: 16:00
Plek: Boektent
Koste: GRATIS
Sonja Loots se roman is die verhaal van oud-Boerestryders se deelname aan Fillis se sirkus – enersyds die verhaal van mense wat van hul ergste trauma ’n sirkus gemaak het; andersyds die verhaal van iemand wat weet hoe om die mens se aptyt vir skouspelagtige geweld uit te buit. Piet Croucamp gesels met die skrywer oor haar tweede roman.
MARIE HEESE 70
Tyd: 17:00
Plek: Boektent
Koste: R60
Die gevierde skrywer Marié Heese word vanjaar 70. Amanda Botha stel ‘n heildronk in op die lewe en werk van dié uitnemende woordkunstenaar wie se roman Die uurwerk kantel klassieke status bereik het. Heese lewer ‘n blik op ‘n skrywerslewe waarin sy ewe tuis in Afrikaans en Engels is. Aanbieder: Dorothea van Zyl.
KAAPSTAD KARMA-POLISIE
Tyd: 18:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
Louis de Villiers se adrenaliengedrewe, onthutsende debuutroman is vol drama, humor, satire, aksie en nogmaals aksie uit die boonste rakke, maar wees gewaarsku: Dié boek het ’n skop soos ’n omgesukkelde muil en is beslis nie vir sensitiewe lesers geskik nie. Pieter Redelinghuys gesels met dié rugbyjoernalis wat sy buiging as fiksieskrywer maak.
Vrydag, 9 Maart
LOUIS JANSEN VAN VUUREN
Tyd: 09:00
Plek: De Vette Mossel
Koste: R90
Louis Jansen van Vuuren is een van ons veelsydigste kunstenaars: ʼn skilder wat met sy verfkwas verhale vertel en skrywer wat met pen en potlood skilderye maak. Kom ontmoet hierdie flambojante persoonlikheid wat met sy vymskerp humorsin teater te skep uit die gewone!
SOETGOED
Tyd: 11:00
Plek: Erfurthuis
Koste: R40
Bekende kosskrywer en kosredakteur van Huisgenoot en You, Carmen Niehaus, gesels met Marlene van der Westhuizen oor haar jongste boek Soetgoed. Marlene is ook die skrywer van die topverkopers Delectable and Sumptuous. In Soetgoed bring sy bekende Kaapse staatmakers en heerlike ouwêreldse smake uit die Franse platteland bymekaar. Kom geniet koffie, tee en ’n kolwyntjie saam met Marlene.
WOORD EN WYN: BAKKES-BROERS
Tyd: 12:00
Plek: Kanonkop
Koste: R250
Johann Krige (mede-eienaar) en Abrie Beeslaar (keldermeester) van Kanonkop bederf gaste met ʼn vertikale wynproe en ʼn snoekbraai. Die gewilde skrywer-broers Johan en Christiaan Bakkes vertel stories dat dit gons en verskaf humoristiese geselskap uit die boonste rakke
WOORD EN WYN: ANNELIE BOTES
Tyd: 12:00
Plek: Morgenhof-landgoed
Koste: R250
Morgenhof se wynmaker spog met sy beste produkte terwyl die gewilde Annelie Botes gaste vermaak met guitige staaltjies. Kom klink ʼn paar glasies en smul aan ʼn middagete wat jy nie gou sal vergeet nie.
WOORD EN WYN: JANNIE MOUTON
Tyd: 12:00
Plek: Uitkyk
Koste: R250
Estelle Lourens, Uitkyk se wynmaker, verwelkom gaste met ʼn glasie in die hand. Sakereus Jannie Mouton, oor wie se lewe En toe fire hulle my onlangs verskyn het en groot opslae maak, hou Woordfeesgangers geselskap oor ʼn hartlike middagmaal.
WOORD EN WYN: KERNEELS BREYTENBACH
Tyd: 12:00
Plek: Muratie
Koste: R250
Muratie se eienaar, Rijk Melck, deel sy beste wyne terwyl skrywer en smulpaap Kerneels Breytenbach saam aansit vir ʼn heerlike middagete vol kwinkslae.
SA SE EERSTE ERFRIDDER
Tyd: 14:00
Plek: Erfurthuis
Koste: R40
Albert Grundlingh gesels met die skrywer Ebbe Dommisse en Sir David Graaff, die kleinseun van Sir David Pieter de Villiers Graaff, oor dié invloedryke politikus wat ’n hoogs suksesvolle sakeman was, asook ’n entrepreneur wat as die pionier van koelbewaring in Suid-Afrika ‘n fortuin uit bevrore vleis en voedsel opgebou het.
RYKIE VAN REENEN – ‘N LEWE
Tyd: 15:00
Plek: Boektent
Koste: R40
Rykie van Reenen was as joernalis superbekend en ’n allemansvriend met joie de vivre in oormaat, maar as persoon uiters privaat. Elmari Rautenbach, Media24 se boekeredakteur en ’n peetkind van Van Reenen, praat met Lizette Rabe, skrywer van Rykie – ’n Lewe met woorde, oor dié ikoniese joernalis en haar nalatenskap.
DIE BEGIN EN EINDE VAN ALLES?
Tyd: 16:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
By dié bekendstelling van God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles gesels Elna Boesak met die samestellers George Claassen, ’n uitgesproke ongelowige, en Frits Gaum, ’n oortuigde Christen, oor die kontroversiële vraag of God bestaan of nie, en wonder oor die sin van ons lewe op aarde. Bydraers Dave Pepler en Cecile Cilliers lewer ook ʼn bydrae tot die bespreking.
DIE FORMIDABELE BAKKES-BROERS
Tyd: 18:00
Plek: Boektent
Koste: R40
Die avonturier-skrywers en wêreldreisigers Christiaan en Johan Bakkes stel hul jongste boeke bekend. Christiaan se nuutste in die Stoffel-reeks, Stoffel op safari, omvat weer ’n veelheid fasette van sy lewe in die wildernis van die Kaokoveld en Damaraland. Oepse daisy van Johan is oudergewoonte heerlike, avontuurlustige vertellings oor ver én naby reise – propvol humor, maar nooit sonder deernis vir die medemens nie.
Saterdag, 10 Maart
ROEPMAN: JAN VAN TONDER
Tyd: 16:00
Plek: Boektent
Koste: R40
Die filmsukses van Jan van Tonder se Roepman het dié skrywer se loopbaan na nuwe wentelbane verplaas. Pasella-aanbieder Vicky Davis gesels met Jan oor Roepman se sukses as boek en film, asook oor sy jongste publikasie Anderkant Omdraai.
MANKEPANK EN ANDER VERSE
Tyd: 17:00
Plek: Boektent
Koste: R40
Hierdie allermooiste Tafelberg-produk is ’n keur van nuwe, sowel as voorheen gepubliseerde verse deur Antjie Krog. Sy vertel die storie van Mankepank, die pad wat die gedigte van 1985 tot nou geloop het, en lees verse voor. Soos net sy kan! Diek Grobler se illustrasies vir die boek word vertoon. Hy gesels oor sy benadering tot die projek, die uitdagings daaraan verbonde en die kunsvorme wat hy gebruik het.
GEDIGTE RONDOM DIE GEDAGTE VAN GEEL
Tyd: 18:00
Plek: Erfurthuis
Koste: GRATIS
Petra Müller, een van die voorste Afrikaanse digters, se nuwe ongewone bundel is gewy aan die son, wat in die verskillende gele van aarde en hemel besing word as die bron van lewe. Aan die een kant
skakeer die geel na wit – hoofsaaklik van die maan – en aan die ander kant na die rooi van vuur, lawa, orkane en tsoenami’s. Moenie dié grootse talent misloop nie!
Boekbesonderhede
- Die groot anders-maak deur Jan Rabie
EAN: 9780798144285
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- ‘n Vurk in die pad deur Andre Brink
Boek se tuisblad
EAN: 9780798149969
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Donkerkamer deur Fourie Botha
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800221
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Maal deur Nicole Jaekel Strauss
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800177
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Skool deur Theo Kemp
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053057
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Fritz Deelman en die groen dood deur Leon Rousseau
EAN: 9780798144117
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Die rolbalspeler deur Zain Eckleton
Boek se tuisblad
EAN: 9780795703225
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Op ‘n galop na Buckingham-paleis: Vertellings van ‘n verloopte diplomaat deur Naas Steenkamp
Boek se tuisblad
EAN: 9780798152815
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Wildvreemd deur Carina Stander
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053392
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Hoogty deur E Kotze
Boek se tuisblad
EAN: 9780795703140
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Bitter heuning deur Hermione Suttner, vertaal deur Linda Rode
Boek se tuisblad
EAN: 9780795703133
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Teferet Yisra’el: Die roem van Israel deur Marzanne Le Roux-Van der Boon
EAN: 9780796310736
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Pirouette deur Aniel Botha
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800320
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Lot se vrou deur Joan Hambidge
EAN: 9780798156875
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Willem Poprok deur Derick van der Walt
Boek se tuisblad
EAN: 9780624049166
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Nuwe Stemme 4 saamgestel deur Danie Marais, Ronel de Goede
Boek se tuisblad
EAN: 9780624048732
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Gesprekke met merkwaardige mense deur Murray la Vita
Boek se tuisblad
EAN: 9780624049661
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Grilbrigade deur Fanie Viljoen
Boek se tuisblad
EAN: 9780798156240
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Die speletjie deur Francois Bloemhof
Boek se tuisblad
EAN: 9780798155267
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- As jy ‘n ster sien verskiet deur Maya Fowler
Boek se tuisblad
EAN: 9780624052869
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Sirkusboere deur Sonja Loots
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053354
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Scribd.com book preview:
- Not loading? View in the Little White Bakkie e-books store
- The Colour of Power: A story of Theodora, Empress of Byzantium deur Marie Heese
Boek se tuisblad
EAN: 9780798152808
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Kaapstad se karma-polisie: Ontmoet die Bokke deur Louis de Villiers
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800252
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Tempermes deur Louis Jansen van Vuuren
EAN: 9780795800214
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Soetgoed deur Marlene van der Westhuizen
Boek se tuisblad
EAN: 9780798156066
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Oepse daisy deur Johan Bakkes
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800306
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Stoffel op safari deur Christiaan Bakkes
Boek se tuisblad
EAN: 9780798156233
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Roepman deur Jan van Tonder
Boek se tuisblad
EAN: 9780798155342
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Tabernakel deur Annelie Botes
Boek se tuisblad
EAN: 9780624049258
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Jannie Mouton: En toe fire hulle my deur Carie Maas
Boek se tuisblad
EAN: 9780624049319
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Piekniek by Hangklip deur Kerneels Breytenbach
Boek se tuisblad
EAN: 9780798156035
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Sir David Pieter de Villiers Graaff: Die erfridder van De Grendel deur Ebbe Dommisse
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053033
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Rykie: ‘n Lewe met woorde deur Lizette Rabe
Boek se tuisblad
EAN: 9780624052975
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles saamgestel deur George Claassen, Frits Gaum
EAN: 9780624054146
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Mankepank en ander verse deur Antjie Krog, illustrasies deur Diek Grobler
Boek se tuisblad
EAN: 9780624052562
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
» read article



































