Books LIVE

February

23

Close it

NB

@ Books LIVE

Louis Jansen van Vuuren beleef ‘n wit winter in Frankryk

TempermesTerwyl ons ‘n bloedige somer in Suid-Afrika beleef, het die sneeu uitgesak in Frankryk, waar die digter en beeldende kunstenaar Louis Jansen van Vuuren hom tans bevind. Hy skryf in besonder poëtiese taal – soms “apokalipties”, soms “humoristies” – oor die seisoensverandering.

“Ek het die winterboomskelette in die onaardse lig agterdogtig bekyk en versigtig ‘n sigaartjie opgesteek. Toe begin dit sneeu,” skryf Jansen van Vuuren en haal dan gedigte van Johann de Lange, Petra Müller en Joan Hambidge aan om dié belewenis te beskryf.

Net na twaalf verlede Dinsdagmiddag het die hemel grou-bruin word. Ek was tussen die huis en my ateljee wat op die solder van die perdestalle is. Dis aardig as die lug verbruin. Apokalipties. Dit ontstem ‘n mens, die aweregse verandering in die natuur, want mens is geprogrammeer om die blou van die hemel as vanselfsprekend te neem. Enige afwyking van die kleurpatroon is ontstellend. Ek kry dieselfde kriewelende gevoel wanneer ʼn DVD op ‘n kritieke oomblik begin bokspring – sulke elektroniese piepgeluidjies begin maak. Dis ‘n gedempte, bonatuurlike geluid wat klink of dit uit ‘n nes vol nylon kuikens kom. Dit gebeur nou die aand op ʼn kritieke oomblik toe die beheksende Milla Jovovich in The Messenger luidkeels skrou: “Volg My!”. Piep, piep-pweem en pwong. Alles breek toe in blokkies op en die lug word bruin. In die ou dae het ek dieselfde gevoel van naderende onheil en benoudheid beleef wanneer my pa se Hewlard Packard Super Eight Home Movie Projector oorverhit en die dun selluloïde film opkook (dit het gewoonlik oor ‘n lasplek op die film vasgehaak en gebrand – want my pa het self sy tuisprente ‘gesplice’). Die verbrande film het dan sulke flikkerende bruin kolle op die wit muur weerkaats. Selfs die rooi beetkolle op die damastafeldoek van ons Sondagmiddagete het sepia geword in die gestolde projektorlig. Die reuk sal my ook altyd bybly. Soet en brak. Amper soos iets wat mens stilletjies in jou mond wil steek, maar later spyt oor gaan wees.

Die lug oor die wintertuin het voor my oë in dieselfde onheilspellende brandkolbruin verkleur. Genadiglik sonder die reuk van smeulende plastiek – én die geskreeu wat gewoonlik daarmee saamgegaan het. Inteendeel, dit was onverstaanbaar stil. Ek het die winterboomskelette in die onaardse lig agterdogtig bekyk en versigtig ‘n sigaartjie opgesteek. Toe begin dit sneeu.

Boekbesonderhede

Foto te danke aan Versindaba

 

Please register or log in to comment