Veels geluk! Abraham H de Vries word vandag 75
Abraham (Braam) de Vries, een van die meesters van die Afrikaanse kortverhaal, word vandag 75 jaar oud. Veels geluk!
De Vries pryk hierdie week op die voorblad van Rapport Boeke en LitNet het ‘n spesiale verjaarsdagblad met artikels oor dié skrywer uit hul argiewe saamgestel.
By Boekenbrug skryf Wium van Zyl oor De Vries se oeuvre en ‘n paar persoonlike staaltjies wat hy by De Vries se groot vriend Izak Bruwer gehoor het. Van Zyl meen die tyd is ryp vir die instel van ’n jaarlikse Abraham H. de Vries-prys vir die Afrikaanse kortverhaal.
“Ek het grootgeword met diewe en moordenaars wat ontsnap het en dan in vervalle murasies of in Swartberg se klowe tussen ruie bosse wegkruip. Gange waarin iemand afstap en dan skielik die reuk van die dood kry, vrouens wie se hare in een nag heeltemal grys word, gesmoorde gille, dig toe vertrekke waarin klippe of klonte vars bloed op mense val, dit het nie net in my nagmerries bestaan nie. Maar daar was ook dié stories wat jou gevoelens verwar het…”
So vat ’n fiktiewe skrywer in Abraham H. de Vries se Skaduwees tussen skaduwees (1997) die Kannalandse oerbronne saam waaruit sy verhaalkuns sou ontstaan het. Op abstrakter vlak verwys hy daarna as die onbegryplike, die verskriklike, die onverwagte en (soms) droefheid.
In Rapport Boeke skryf prof Hans Ester, van die Radboud-universiteit in Nijmegen, oor De Vries se werk en sy band met Nederland. Volgens Ester vind ‘n mens “waarneming, humor en ’n diep gevoeligheid vir ander mense se lewensverhale” in De Vries se boeke:
Of jy met Braam de Vries deur Kaapstad of deur Amsterdam loop, maak nie saak nie. Braam is ewe tuis in albei stede.
Amsterdam het hy in die 1960’s leer ken tydens sy studie van Nederlands en taalwetenskap aan die Universiteit van Amsterdam.
Wie sy boek van 1968 met die titel Joernaal uit ’n gragtehuis lees, kom onder die indruk van Braam se besonderse waarnemingsvermoë.
Boekbesonderhede
- Die behoue huis: ‘n Keur uit die kortverhale van Abraham H. de Vries deur Abraham H. de Vries
Boek se tuisblad
EAN: 9780798152792
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
» read article









