Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Nuwe digbundel deur Petra Müller: Gedigte rondom die gedagte van geel

Die gerekende digter Petra Müller se nuutste poësiebundel, Gedigte rondom die gedagte van geel verskyn in Maart. Dit word op 10 Maart, om 18:00, by Woordfees 2012 bekendgestel.

Gedigte rondom die gedagte van geelVan Petra Müller, een van die voorste digters in Afrikaans, kom hierdie baie ongewone bundel. Gedigte rondom die gedagte van geel is gewy aan die son, wat hier in die verskillende gele van aarde en hemel besing word as die bron van lewe. Dit begin met ‘n songeel landskapskildery waarop sewe telefoonpale voortstap, en waaier daarvandaan uit asof dit sewe aparte verhale uit die digter se lewe en reise op aarde vir die leser laat oopvou.

Aan die een kant skakeer die geel uit na wit – hoofsaaklik van die maan – en aan die ander kant na die rooi van vuur, lawa, orkane en tsoenami’s. Die deurlopende tema is lewe en verlies; verlies en lewe.

Die gedigte praat, soms met ontstellende direktheid, oor die ervaring van vroue op ver plekke – in antieke Griekeland, Afganistan, Meksiko, Tibet, Rusland en Malta – maar kom elke keer weer tuis by die graanwêreld van die Overberg waar die digter, soos sy self sê “in die geelte van graan gebore is, en weer daar sal gaan lê”.

Daar is hartstogtelike liriese gedigte, maar ook heelwat vertellende verse waarin ’n oombliklike insig in ’n ander mens se lewe oorvertel word. Dit is gedigte vol karakters – die gespreksgenoot Harald uit vorige bundels, die mal-Elsie wat in Müller se kortverhale te vinde is, die ontwykende Geliefde, vriende soos David en Martin, broers en ’n suster, en dan veral die alomteenwoordige ouers, die mooi Ma en die “woeste” Pa.

‘n Mens sou kon sê dat Müller se digwerk ‘n voortganende proses is, ‘n soort onderbroke verhaal, waarin hierdie bundel ‘n mylpaal is.

Oor die outeu

Petra Helena Müller is op 27 Julie 1935 op Botrivier in die Overberg gebore. Sy matrikuleer in 1951 op 16-jarige ouderdom op Swellendam, en sy verwerf ’n BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was daarna verslaggewer by Die Burger en later verhaleredakteur by Sarie.

In die 1980’s het sy as redakteur by Tafelberg-Uitgewers gewerk. Sedert 1989 is sy voltyds aan die skryf, maar werk nog as vryskutkeurder vir die uitgewers. Sy is veral bekend as digter en kortverhaalskrywer. Haar debuut digbundel, Obool, verskyn in 1977. Drie jaar later ontvang sy die Eugène Marais-prys vir haar bundel, Patria. In 2005 ontvang sy die Hertzogprys vir poësie vir Die aandag van jou oë. Van haar bekende kortverhaalbundels sluit in Die dwerg van Infanta en ander verhale en In die omtes van die hart.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment