Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Wenners van Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 bekendgemaak: Ingrid Winterbach kry eerste prys!

Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach het gisteraand die eerste prys ter waarde van R200 000 by die swierige prysuitdeling van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2012 ontvang. Winterbach het met haar manuskrip, Die aanspraak van lewende wesens, gedugte teenstanders op die kortlys soos Chris Karsten, Jaco Fouché, Harry Kalmer en Eben Venter uitgestof om met die louere weg te stap.

Winterbach was heeltemal oorbluf toe sy die prys by The Bay Hotel in Kampsbaai in ontvangs geneem het. “Ek het dit wraggies, waaragtig nie verwag nie,” het sy gesê.

Willie Burger, wat saam met Louise Viljoen en Linda Rode die manuskripte beoordeel het, het gesê dat Die aanspraak van lewende wesens nie net ‘n groot bydrae tot Winterbach se oeuvre sal lewer nie, maar ook tot die romankuns in geheel.

Carie Maas Jaco Fouche

Die tweede prys ter waarde van R70 000 is aan Chris Karsten toegeken vir sy manuskrip ‘n Man van min belang. Die skrywer van onder meer die spannende Abel-trilogie (waarvan die laaste boek vanjaar verskyn), het blykbaar nog ‘n besonderse spanningsverhaal geskryf, wat volgens Rode die konvensies van die genre uitdaag. Karsten kon nie die prysuitdeling bywoon nie, maar sy uitgewer, Janita Holtzhausen het die prys namens hom in ontvangs geneem.

Jaco Fouché se manuskrip, Liefste Lena, is met die derde prys van R40 000 bekroon. Uit die commendatio wat deur Viljoen voorgelees het, blyk dit dat Fouché op sekere temas van sy vorige roman, Die grysland-verblyf, voortbou.

Carié Maas se manuskrip, Koljander, en Madeleine Volschenk se Konteks het om die debuutprys ter waarde van R40 000 meegeding. Dit is aan Maas toegeken, wat vir die eerste keer haar hand aan fiksie gewaag het, ná die sukses van haar biografie Jannie Mouton: En toe fire hulle my.

Burger het beklemtoon dat dit baie moeilik is om romans te beoordeel, aangesien daar geen vaste reëls vir die genre bestaan nie en dit ‘n steeds ontwikkelende vorm is. Die beoordelaars het egter gesoek na tekstuurryke, boeiende tekste, waar die tema ‘n morele, etiese of filosofiese insig meebring, wat ook deur die struktuur en bepaalde invalshoek versterk word. Kompleksiteit was ook volgens Burger vir hulle ‘n oorweging. “Dit beteken nie noodwendig dat die roman duisende lae moet hê nie; kompleksiteit kan ook in eenvoud bestaan.” Laastens is daar ook gekyk na oorspronklike taalgebruik.

“Tog skep elke roman ook sy eie kriteria waarvolgens dit beoordeel moet word,” het Burger erken. “Heimlik het die beoordelaars gehoop op ‘n teks wat iets sal blootlê van die menslike bestaan, wat ons nog nie vantevore oorweeg het nie.”

En dít het hulle waarskynlik in die wenners gevind. Die verskyning van hierdie romans is beslis iets waarna elke leser kan uitsien.

* * * * * * * *

Carolyn Meads het regstreeks vanaf die geleentheid met #livebooks getwiet:

Persverklaring

Die wenners van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd is pas aangekondig. Die eindbeoordelaars was prof. Willie Burger, Linda Rode en prof. Louise Viljoen.

Die wenners in die kategorie vir gepubliseerde skrywers is:

Eerste prys: Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach, Human & Rousseau;
Tweede prys: ’n Man van min belang deur Chris Karsten, Human & Rousseau;
Derde prys: Liefste Lena deur Jaco Fouché, Kwela.

Die wenner in die debuutkategorie is:

Koljander deur Carié Maas, Human & Rousseau.

Oor die wenners skryf die beoordelaars:

Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach is ’n kunsstuk, iets wat die leser aanspoor en dwing om sy kennis uit te brei, ’n aanspraak op die intellek (en die spirituele sy) maak, en daar is momente in wat taal vleuels gee en kontraste tussen taalregisters opwerp wat mens verstom laat. Wat mens bybly van die roman is die uitreik na die boweaardse, die worsteling om nuwe dimensies van die gees. ’n Roman wat ’n durende verwysingspunt in die Afrikaanse letterkunde kan wees.

’n Man van min belang deur Chris Karsten: ’n Groot gedeelte van hierdie roman belig ’n skaars ontginde aspek (in fiksie) van ons politieke historie, dit lig die leser uit sy gemaksone en doen dit met ’n ruime mate van ironie. Dit voeg toe aan ons kommunale geheue, wat altyd neig om selektief te wees. Dis ’n manuskrip met hart. Wat dié verhaallyn betref wat op die politieke historie gegrond is, kan dit ’n verwysingspunt word in Afrikaanse fiksie.

Liefste Lena deur Jaco Fouché: ’n Reis deur die hoogs sensitiewe gees van die ewige buitestander wat beskouend (veral oor die sin van eie lewe) eerder as daadkragtig na alles kyk. Met onderbeklemtoonde, maar terselfdertyd uitsonderlike en nuwe, insigte in so ’n wankele psige. ’n Besonderse, nog lank nie volledig gekaarte veld word hier gedek.

Met ’n eerste prys van R200 000 is dit die grootste Afrikaanse literêre prys. Die tweede prys is R70 000, die derde R40 000 en die debuutprys R40 000. Altesaam 129 inskrywings is ontvang. Die wenners is op Maandagaand 12 Maart 2012 by ’n private funksie by The Bay Hotel in Kampsbaai aangekondig.

Einde

Facebook galery

Die benederykAbel se lotDie Grysland-verblyfSanta GamkaEn die lekkerste deel van dood weesJannie Mouton: En toe fire hulle my

Boekbesonderhede


 

Please register or log in to comment