Christiaan en Johan Bakkes stel hul boeke Stoffel op safari en Oepse daisy bekend (Plus: Video)

Wat Vrydagaand by die US Woordfees begin het as ‘n gesamentlike bekendstelling van Christiaan Bakkes se boek Stoffel op safari en Johan Bakkes se Oepse daisy het gou in sommer net ‘n lekker kuiergeleentheid vir die broers en hul gaste ontaard.
Oepse daisy is eintlik al in Oktober verlede jaar bekendgestel en Johan het gesê dat hy nou al “gatvol” daarvoor is. Stoffel op safari het pas verskyn, maar Christiaan was ook nie juis gretig om oor die boek te gesels nie. “Alles wat ek wil sê, sê ek in die boek. Julle moet dit lees.”
Christiaan en sy vrou Emsie woon in ’n tent in Damaraland in die noordweste van Namibië. “Ek is nie altyd in ‘n posisie om met die buitewêreld te kommunikeer nie, daarom skryf ek dié stories. Dis my manier om met mense te kommunikeer.”
Alhoewel die meeste van die verhale op werklike gebeure gebaseer is, is alles nie noodwendig waar nie. Daarom laat hy dit met die karakter Stoffel gebeur. Sy eerste Stoffel-boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het in 1998 verskyn. Daar is nou al ses boeke in die reeks.
Al waaroor Johan wel sy broer aan die praat kon kry, is die verhale oor sy getroue hond wat in die bundel voorkom. Johan meen die verhouding tussen Christiaan en sy hond is soos dié tussen Percy Fitzpatrick en sy hond Jock, waaroor Fitzpatrick in die boek Jock of the Bushveld geskryf het.
Christiaan het dit beaam: “As ‘n mens in ‘n tent in die woestyn bly, is die kamaraadskap van ‘n hond van onskatbare waarde.” Sy hond sien glo vir enigiets kans. Hy is al talle kere deur wilde diere gebyt, maar hy is altyd gereed om hulle weer aan te vat. “Dan kyk hy so terug na my asof hy wil sê: ‘Wag net, ek gaan gou hierdie ding opf*k’.”
Christiaan het by die geleentheid ‘n storie uit Stoffel op safari voorgelees waarin hy na Jock of the Bushveld verwys. Kyk die video van sy voorlesing:
- Laai dit nie? Kyk op YouTube
Verder het die boeke vergete gebly terwyl Christiaan verkies het om bier in die hand oor sy verhouding met sy ouboet Johan te gesels. Hy het Robert W Service se gedig “The Men Who Don’t Fit In” voorgelees om hul gedeelde liefde vir avontuur te beskryf:
There’s a race of men that don’t fit in,
A race that can’t stay still;
So they break the hearts of kith and kin,
And they roam the world at will.
They range the field and they rove the flood,
And they climb the mountain’s crest;
Theirs is the curse of the gypsy blood,
And they don’t know how to rest.
Natuurlik was daar een vraag wat Christiaan nie kon ontduik nie, al moet hy dit byna daagliks beantwoord: ‘n Lid van die gehoor wou weet hoe hy sy arm verloor het. Heel rustig het Christiaan vertel hoe ‘n krokodil hom aan sy regterarm beetgepak het toe hy in ‘n dam geswem het. Sy vriende het van die wal af op die dier geskiet en dit het uiteindelik die stryd gewonne gegee. Maar net toe Christiaan uit die water wou klim, gryp ‘n tweede krokodil hom aan die linkerarm, “breek dit soos ‘n takkie af en gaan vreet dit op die oorkantste wal”.
Gelukkig het die grusame verhaal nie ‘n demper op die geleentheid geplaas nie. Christiaan het nog ‘n paar biere laat kom en Johan het sommer opgestaan om sy pyp te gaan rook. Die gaste het wyn geniet en nog lekker met die Bakkes-broers, hul helde, gekuier.
* * * * * * * *
Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #Woordfees getwiet:
Foto: Christiaan en Johan Bakkes tree in gesprek oor hul boeke #woordfees #livebooks yfrog.com/kkmueaoj
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Johan neem oudergewoonte foto’s v die gehoor “om vir sy vrou te wys hy het nie rondgeloop nie” #Woordfees #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Johan: Weet nie waar kom @NBPublishers aan die “formidabele” Bakkes-broers nie. Kom neer op f&$@en groot & lelik! #Woordfees #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Stoffel op safari is nog nie bekendgestel nie, mar Johan s’n is al in Oktober laas jaar bekendgestel & hy “is al gatvol daarvoor” #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan se hy wil nie oor sy boek praat nie, want wil he julle moet dit lees! Als wat wil se, se ek daardeur #livebooks #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan: Is nie altyd in ‘n posisie om buitewereld te kommunikeer nie, dus skryf #livebooks #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan: Als wat skryf is nie altyd waar nie. Dis hoekom dit met “Stoffel” gebeur #livebooks #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan gesels eerder oor verhouding met broer. Hul avontuurlus is wat hul in gemeen het, ook bron van ‘n bietjie wedywering #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan gesels oor verhouding met hond. “As mens in ‘n tent in Damaraland woon, is kamaraadskap van hond v onskatbare waarde #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Christiaan: Hond is al deur luiperd, ratel gebyt.Sien kans vir als.Kyk so om na my asof om te se “ek gan gou hierdie ding opf*k” #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Vrae word uit die gehoor geneem. Iemand vra Christiaan moet die storie vertel van hoe sy arm deur krokodil afgebyt is #Woordfees #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Krokodil van 11 voet gryp sy linkerarm toe gaan swem. Mense skiet. Krokodil los. Toe wou kom ander krokodil ook. Byt regterarm af #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Met daardie dramatiese vertelling kom die gesprek tot ‘n einde. Nou kan gaste met Bakkes-broers kuier. Johan het reeds gaan rook #Woordfees
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 9, 2012
Boekbesonderhede
- Stoffel op safari deur Christiaan Bakkes
Boek se tuisblad
EAN: 9780798156233
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Oepse daisy deur Johan Bakkes
Boek se tuisblad
EAN: 9780795800306
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!














Please register or log in to comment