Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Bekendstelling: Piet van Rooyen gesels oor geheime agent op wie Rodriguez gebaseer is

Johan Bakkes en Piet van Rooyen

 
Iewers tussen die gaste wat gisteraand die bekendstelling van Piet van Rooyen se nuutste roman, Rodriguez, by die Breytenbach Sentrum in Wellington bygewoon het, was die voormalige geheime agent op wie se lewe die boek gebaseer is.

RodriguezHy het homself nie bekendgemaak nie, waarskynlik omdat die gebeure in Van Rooyen se roman grootendeels op die waarheid gegrond is. Sommige van die rolspelers in sy koverte operasie in Mosambiek, wat in die vorige bedeling hoë poste beklee het, word selfs in die boek op die naam genoem.

PJ Haasbroek het Rodriguez in ‘n resensie as ’n “soort satire van die operasies van Suid-Afrika se Nasionale Intelligensiediens in die dae van Niel Barnard” beskryf, omdat van die gebeure in die boek so absurd voorkom en die agent se handelinge in die bos bra futiel blyk te wees. Van Rooyen het gisteraand in gesprek met reisskrywer Johan Bakkes en uitgewer Etienne Bloemhof saamgestem dat Rodriguez só gelees kan word, maar ook beklemtoon dat die boek op die werklikheid gebaseer is. “Ek sou nie eens in my wildste drome van hierdie goed kon uitgedink het nie”.

Rodriguez vertel die verhaal van ene Skerf Malan wat in 1990 as agent Rodriguez namens die Nasionale Intelligensiediens die Renamo-beweging in Mosambiek moet infiltreer. Renamo was die politieke teenstander van die kommunistiese Frelimo, wat in 1974 aan bewind gekom het. “Sy lewe is elke dag in gevaar, want as die rebelle uitvind wie hy regtig is, sal hulle hom doodmaak”.

Van Rooyen beskryf in die boek hoe die rebelle Rodriguez toets deur hom byvoorbeeld op ‘n lang tog te stuur en uiteindelik vier Russe voor hom dood te skiet. Hulle stuur hom ook teen ‘n berg op om ‘n bekende sangoma, wat deur ‘n groep wit vroue versorg word, te gaan sien, sodat hy kan bepaal of Rodriguez betroubaar is.
 

Johan Bakkes, Piet van Rooyen en Etienne Bloemhof

 
Rodriguez word aanvaar, maar eintlik kry hy nie veel uitgerig tydens sy operasie nie. Sy nietigheid word beklemtoon deur die groot, digte woud waarin hy moet leef. “Die bos word byna nog ‘n karakter in die boek,” het Bloemhof gesê.

Van Rooyen, wat ‘n plaas in die Gobabis-distrik in Namibië besit, is baie bewus van die grootsheid van die natuur. “Mense dink ek skryf avontuurverhale,” het hy gesê, “Maar eintlik skryf ek oor die natuur”. Volgens Van Rooyen is die bos in Rodriguez ook ‘n simbool van die mens se donker onderbewuste.

Bakkes het daarop gewys dat daar heelwat ooreenkomste tussen Rodriguez en die karakter Kurtz in Joseph Conrad se Heart of Darkness is. Van Rooyen het dit beaam, want Rodriguez neem sy rol in Renamo later so ernstig op en hy word so behep met sy eie mag in die beweging, dat hy vergeet waarom hy eintlik daar is. “Hy word byna soos ‘n bosgod en dit lei tot sy ondergang, want die Nasionale Intelligensiediens besluit dat hulle van hom sal moet ontslae raak…”

Aan die einde van die bekendstelling wou Bakkes weet hoe die persoon op wie se lewe Rodriguez gebaseer is oor die boek voel. Van Rooyen het ‘n oog oor die gehoor gegooi voor hy geantwoord het. “Ek dink hy is tevrede met die manier waarop ek sy storie hanteer het…Jy weet, dis soos tandepasta…as jy dit eers uit die buisie uit gedruk het, kan jy dit nie weer terugkry nie. Maar dit is ook goed dat hierdie ou geheime uitkom. Soveel is in die verlede verswyg. Dit moet uitkom en ‘n mens moet dit kan verwerk.”

* * * * * * * *

Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:

* * * * * * * *

Facebook galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment