Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Bekendstelling: Andre Brink gesels oor die “olifantspaadjie” wat hy moes stap met die skryf van Philida

 
PhilidaNaas Steenkamp het Saterdagoggend lekker gesellig met sy jare lange vriend André Brink in gesprek getree oor dié se nuutste roman, Philida, wat vanjaar die langlys vir die Man Bookerprys gehaal het. Vanaf die eerste gespreksoomblikke was dit baie duidelik: Philida was ʼn verhaal wat eenvoudig vertel móés word.

Die invloed van verset en bevryding en die verhale van tientalle slawe het Brink nog altyd gefassineer. Brink het nog altyd ʼn diepgaande belangstelling in slawerny in Suid-Afrika gehad. Die invloed van verset en bevryding van die enkeling as slaaf is dus sterk teenwoordig in Brink se roman oor Philida, ‘n slavin wat werklik geleef het. Steenkamp het ook gewys op die kerntema van geborgenheid wat vervleg word met onderdrukking en die lang reis te voet.

Die tema van reis in die wêreldletterkunde – die geografiese en metafisiese reis van ’n enkeling – het Brink ook nog altyd geboei. Dit is veral die verhaal van een so ’n enkeling, Philida, en die geskiedkundige feite rondom die slaaf as enkeling, wat Brink geboei het.

“Dit was ʼn groot uitdaging om die boek te skryf. Beslis die moeilikste,” het Brink gesê. Maar Philida het op ʼn manier met hom gepraat. Hy moes luister, en bloot die storie vertel.

Steenkamp het op hierdie stelling gereageer en aan Brink genoem dat die verbluffendste ding in die roman vir hom beslis die treffendheid van stem, of stemme in sekere gevalle is. Hoe het Brink die stem van sy karakter Philida gevind?

“Dit was seker dié moeilikste uitdaging van die hele roman,” het Brink geantwoord. Hy moes vir Philida wag “om haar eie stem te laat hoor” en al wat hy kon doen was om aandagtig te luister. Háár storie is immers ook sý storie.

Toe Steenkamp oor die omstredenheid rondom die toekenning van die Jan Rabie en Marjorie Wallace-beurs aan Brink uitgevra het, het Brink sy hande komies in die lug gegooi en “skuldig op alle aanklagte” gepleit.

Brink, wat “nie te veel op persoonlike sake” wou uitbrei nie, het ietwat emosioneel, tog baie ernstig, vertel dat dit die beste ding was wat met hom gedurende daardie tyd kon gebeur het. Die feit dat hy die beurs ontvang het, was vir Brink ’n teken dat die verhaal van Philida vertel móét word. Hy moes, net soos sy slavin, dieselfde epiese reis op die “olifantspaadjie” onderneem. Só was die skryf van die roman vir hom.

Struikelblokke op sy pad was die feit dat hy die roman tegelykertyd in Afrikaans en Engels moes skryf. En, die feit dat niemand weet wat regtig met Philida gebeur het nie, alhoewel tientalle ander enkelinge se geskiedenisse wel iewers opgeteken is. Daarom is dit ’n seën om te kan verbeel, het Brink aan ’n belangstellende Steenkamp verduidelik.

Na hierdie uitdagende en moeilike skryf van die roman, is hy van plan om weer te skryf? Brink is vasbeslote dat die nie sy laaste roman is nie, want soos sy geliefde karakter Philida, is ʼn mens altyd op reis. Elke dag leer ʼn mens iets nuuts, laat Brink hoor… “Daar kom áltyd iets aan die lig”.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment