Louise Viljoen gesels met Ingrid Winterbach by die bekendstelling van Die aanspraak van lewende wesens
In Ingrid Winterbach se nuutste roman, Die aanspraak van lewende wesens, loop die verhaallyn van Karl Hofmeyr wat sy broer Iggy met sy geestesongesteldheid moet help, parallel met dié van Maria Volschenk wat die dood haar suster probeer verwerk.
Albei onderneem ‘n reis en hul eindbestemming, ‘n plaas teen Seinheuwel in Kaapstad, is die punt waar die verhaallyne uiteindelik bymekaarkom.
“As ‘n mens sukkel met plot, help dit om met ‘n reis te werk,” het Winterbach gisteraand in gesprek met Louis Viljoen by die bekendstelling van Die aanspraak van lewende wesens by Protea Boekwinkel op Stellenbosch gese. Winterbach se romans is bekend daarvoor dat hulle deur veel meer as intrige voortgedryf word. Dit geld ook haar jongste, maar sy sê wel dat sy die afwisseling van die twee verhaallyne gebruik het om spanning op te bou. “As jy oor die een lees, wonder jy mos wat met die ander gebeur.”
Winterbach, wat die afgelope 21 jaar in Durban woon, het afgetrek Stellenbosch toe terwyl sy aan die boek gewerk het en haar eie reis het neerslag in die werk gevind. Viljoen het gewys op die kontrastering van verskillende ruimtes – onder meer Kaapstad en Durban – in Die aanspraak van lewende wesens.
Die reise wat die karakters in Die aanspraak van lewende wesens onderneem is ook ‘n soeke na begrip van die mistieke en ‘n konfrontasie met gestorwenes. “Die mistieke interesseer my,” het Winterbach gesê. “Seker omdat ek self so min tot so ‘n belewenis in staat is.” Winterbach het verskeie religieuse tekste bestudeer om oor die mistieke ervaring in Die aanspraak van lewende wesens te kan skryf.
‘n Worsteling met gestorwe geliefdes is ‘n tema wat al meermale in Winterbach se werk voorgekom het. “Die dood is die groot misterie. Die gestorwenes het daardie domein betree en die lewendes wil antwoorde by hulle hê.”
Winterbach wou nie te veel verklap oor waar die idee vir die vreemde stadsplaas, die eindbestemming van die twee reise, in die boek vandaan kom nie, maar sy het gesê dat dit op ‘n werklike plek gegrond is. “Ek het my verspieders uitgestuur en hulle het laat weet dat die plek werklik so waansinnig is soos wat ‘n mens dink!”
Die boek het volgens Winterbach eintlik met die idee van die plaas begin. Hier wou sy die hele spektrum van die huidige Suid-Afrikaanse samelewing uitbeeld. Sy sluit aan by die die tradisie van die plaasroman in Afrikaans, maar “die feit dat dit in die stad is, ondermyn die idee”.
Viljoen het verwys na ‘n onlangse resensie van Christell Stander waarin Winterbach se laaste drie boeke, Die boek van toeval en toeverlaat, Die benederyk en Die aanspraak van lewende wesens as ‘n drieluik voorgestel word. Winterbach gaan hiermee akkoord, en het gesê in haar oeuvre is daar ‘n paar boeke wat tematies saam hoort. Haar eerste drie boeke word byvoorbeeld deur die fynbostema gebind. “Nou dat ek weer op Stellenbosch gaan kom bly, keer ek miskien terug na die fynbos,” het Winterbach gelag.
Watter rigting sy ook al volgende inslaan, kan Winterbach se lesers verseker wees van verdere dig verweefde, intelligente romans uit hierdie skrywer se pen. In haar boeke word humor en melankolie soomloos vervleg. Die aanspraak van lewende wesens is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan. Viljoen beveel dit ten sterkste aan. Dit het nie verniet vanjaar NB-uitgewers se Groot Romanwedstryd gewen nie!
Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:
Louise Viljoen tree in gesprek met Ingrid Winterbach by die bekendstelling v Die aanspraak v lewende wesens #livebooks twitter.com/carolynmeads/s…
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach gesels oor die ontstaan v die roman, oorspronklik sou Maria saam met ‘n man gereis het. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Die man het ‘n baie mooi naam gehad, maar ek kan nie meer onthou nie. Op die trap het die man in Karl verander! #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach gesels oor die swerwer & hawelose karakters wat dikwels in werk voorkom. “Ek skryf vanuit ‘n middelklasperspektief” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach kyk dus na mense wat, anders as middelklas, niks het nie. “Maar dis ook iets waarna bv in mistieke gestreef word” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach bly in Durban maar hierdie boek meestal in Stellenbosch geskryf. Herontdek die temas v bv Klaaglied vir Koos #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Viljoen vra oor karakter se belangstelling in Heavy Metal. Stel Winterbach daarin belang? #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Karakter & heavy metal het net saamgegaan. Winterbach het glo na musiek geluister & CD omslae gekyk #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Ek het my navorsing (oor heavy metal) gedoen. ‘n Mens het jou informante. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Humor & melankolie is in die roman vervleg. ‘n Mens kan se iets is verskriklik snaak – verskriklik & snaaks #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Viljoen noem Winterbach se verwysing na The Big Lebowski in Die aanspraak v lewende wesens. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach kan absoluut assosieer met die Coen Brothers #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Viljoen: Al word derdepersoonsvertellers gebruik, word die taal aangetas deur die karakter uit wie se oogpunt gekyk word. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Erens probeer ek ook ‘n kern v suiwerheid gehou. Maar taal kan gebruik word om nabyheid met karakter te bewerk #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Viljoen vra waar Winterbach inspirasie kry vir die verskillende karakters se eiesoortige manier v praat. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Dis hoekom dit vir my moeilik was 21 jaar in Durban. Engels het nie soveel variasies soos Afrikaans nie. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Titel was eers “Die leegte” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Winterbach: Maria moet haarself oopstel vir die aanspraak van al die klein lewende wesens van die paling tot sprinkaan #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Viljoen raai almal aan om die boek dadelik te koop! So kom die bekendstelling tot ‘n einde. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) October 17, 2012
Facebook-galery
Boekbesonderhede
- Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach
Boek se tuisblad
EAN: 9780798157063
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
















Please register or log in to comment