Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Deon Meyer gesels met Karin Brynard by die bekendstelling van haar nuutste roman, Onse Vaders

Karin Brynard

 
Karin Brynard en Deon Meyer Onse vadersDie titel van Karin Brynard se tweede roman, Onse Vaders, kom van idees oor vaderskap, manlikheid en geweld in Suid-Afrika wat sy al lank oordink. Dié diep oorwegings het sy, volgens Deon Meyer, met hope aksie in ‘n lekker spannende misdaadroman verweef.

Meyer het gisteraand met Brynard by die bekendstelling van Onse Vaders by Exclusive Books in die Tygervallei-winkelsentrum in gesprek getree waar Brynard vertel het van die keer toe sy in 2005 ‘n onderhoud moes voer met die pa van ‘n man wat van sy vriendin se moord verdink is. Brynard het nie die naam genoem van die meisie, wat Matie-stundent was, nie, omdat sy nie sensasie wil uitlok nie, maar die gaste kon aflei van watter moordsaak sy praat. “Wat vir my in die onderhoud duidelik geword het, is dat dié pa by sy seun staan.”

Dit het haar laat nadink oor die belangrikheid van ‘n pa in ‘n gesin en die invloed wat ‘n pa op sy kinders kan hê. “Ons leer nie ons kinders deur dit wat ons sê nie, maar deur die voorbeeld wat ons stel. Wat gebeur as daardie goeie voorbeeld nie daar is nie? Families verbrokkel. Seuns word groot sonder pa’s. Waarop baseer hulle hul manlikheid?” Die gewelddadigheid van die Suid-Afrikaanse samelewing kan hiermee in verband gebring word.

Brynard meen ons het van een uiterste na ‘n ander gegaan: “Van ‘n patriargale stelsel na een waar ons deur ons vaders verlaat en in die steek gelaat word.” Dis nie net biologiese pa’s wat te kort skiet nie, maar ook die politici wat veronderstel is om die land te lei.

In haar nuutste boek maak Kaptein Albertus Markus Beeslaar weer sy verskyning. Hy het reeds met ‘n nuwe storie kom “aanklop” terwyl sy besig was met haar debuutroman, Plaasmoord. Laasgenoemde is in 2010 met die M-Net-filmprys bekroon vir die boek wat die beste in ‘n rolprent omskep kan word. Meyer wou weet of die druk van die bekroning veroorsaak het dat Brynard aan “tweede-roman-sindroom” gely het.

Brynard erken dat sy “aan iets gely het”, want skielik het die tweede Beeslaar-storie opgedroog. Haar uitgewer, Etienne Bloemhof, het haar aangeraai om eers iets heeltemal anders te skryf. Hiervoor het Brynard na Soweto gegaan waar sy, geklee in ‘n koeëlvaste baadjie, aan spannende opsporingsjaagtogte met die span van Tracker deelgeneem het. (Lees hier meer oor haar wedervaringe.) Sy het, tot die gaste by die boekbekendstelling se groot vermaak, vertel hoe sy verdwaal het oppad na haar eerste ontmoeting met die span sodat “selfs die GPS deurmekaar geklink het”. Toe sy uiteindelik daar opdaag en die manne haar ewe gaaf gerusstel, bars sy sommer in trane uit. “Dit het baie goed vir my gewerk,” vertel sy, want dis toe dat hulle haar op hul jaagtogte saamnooi.

Hierdie alternatiewe verhaal waaraan Brynard begin werk het, het haar kreatiwiteit weer geprikkel. Dit het ook nie verlore gegaan nie, want Bloemhof het voorstel dat dié verhaal in die nuutste Beeslaar-boek gekombineer word.

Brynard het grappenderwys gesê dis Meyer se skuld dat sy met verskillende verhaallyne moes sukkel, omdat Bloemhof die idee by Meyer se Spoor gekry het. Meyer wou egter niks van Brynard se kamstige gesukkel hoor nie: “Ek dink jy moet net aanvaar dat jy bleddie goed is”.

* * * * * * * *

Carolyn Meads het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:

* * * * * * * *

Facebook-galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment