Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Aletta Lintvelt gesels met Maggie Marx oor Weg! Naweekkos (Plus: Boeklokprent)

Go! Weekend FoodWeg! NaweekkosWeg! se kosredakteur, Aletta Lintvelt, het onlangs Weg! Naweekkos saamgestel. Dié resepteboek bevat meer as 130 heerlike resepte vanuit die gewilde reistydskrif. Waar jy jou ook al bevind, hetsy ver van enige vorm van samelewing af of om ’n geselligge kampvuur, in dié versameling resepte is daar iets wat in jou smaak sal val.

Maggie Marx van Books LIVE het meer gaan uitvind oor Lintvelt se pad met kos en hoe sy in die kosskryf-bedryf beland het. Lintvelt vertel nie net van ’n vreemde wending wat haar loopbaan aanvanklik geneem het nie, maar gee ook waardevolle raad vir beginners in die kombuis.

Kyk hier die boeklokprent vir Weg! Naweekkos en Go! Weekend Food en lees ook die onderhoud wat na die video volg:

YouTube Preview Image
* * * * * * * *

Maggie Marx gesels met Aletta Lintvelt:

Wat het jou op kos as loopbaan laat besluit?

Kos het my gekies. Al wat ek ooit wou doen is om in ’n dakwoonstel in Parys te bly en roompoffertjies te eet en boeke te skryf. Na my studies (in die tale aan die Kaapse Technikon) is ek oorsee en my werkagentskap het my CV met iemand anders s’n omgeruil en my geplaas as kok. Ek het die eerste nag niks geslaap nie en moes baie vinnig leer. Maar gelukkig kan enigiemand kook as hulle kan lees en proe. Ek was reeds lief vir eet, maar toe het ek ook lief geraak vir kook. Terug in Suid-Afrika het ek as joernalis gewerk en toe later myself by TASTE, die kostydskrif, bevind waar ek werklik alles geleer het wat ek weet. Vandaar het ek my passie gevolg en ek is baie gelukkig om te kan skryf en kook as kosredakteur by die reistydskrif Weg! – en soms te reis – my ander passie! Ons maak regte kos vir regte mense, sonder fieterjasies en met ’n verassing hier en daar – soos ’n goeie vakansiereis.

Watter bestanddeel het jy altyd in jou yskas?

My yskas word meestal ingespan om die bottels en bottels souse, gepreserveerde groente en vrugte en allerhande gebottelde lekkertes, wat ek op kosmarkte raakloop en nooit opgebruik nie, te bewaar. Dis ’n siekte. Ek het ook maar altyd vars suurlemoen, vars knoffel en gemmer en rooi rissies byderhand. En ’n stuk parmesaankaas.

Waarsonder moet niemand ooit op vakansie gaan nie?

’n Goeie boek en ’n ordentlike kussing. Wat kosmaak betref, pak ek altyd olyfolie, sojasous, bruinsuiker, ’n goeie rissiesous en knoffel en suurlemoene in. Jy kan amper alles met kombinasies daarvan opjazz.

Waar kry jy idees vir resepte?

Kosmaak is maar soos speel. Jy onthou watse speletjie lekker was voorheen en dan kyk jy bietjie af by ander kinders op die speelgrond so van ver af en dan maak jy ’n nuwe speletjie. Ek kook maar volgens my gemoed, tyd en wat ek byderhand het. Ek sal liewer iets anders probeer as om winkel toe te ry agter ’n bestandeel aan. Behalwe as die bestanddeel chorizo-wors is – ek maak sommer hele resepte op rondom chorizo!

Wat is die beste vaardigheid wat ’n persoon in die kombuis kan hê?

Ek het so baie uit my foute geleer, ek maak sommer nog ’n paar! In die lewe en agter die kospotte sal daardie ingesteldheid jou ver bring.

Wat is die vreemdste dis wat jy al geëet het?

’n Sop van kaktusblare in Mexiko. Aaklig.

Is daar iets wat jy nooit sal eet nie?

KFC – hoender van enige kitskosplek laat my baie diep gril. Ek is ’n geroosterde vryloopplaashoender tipe van meisie.

Wat was jou eerste flater in die kombuis?

Ek het eenkeer toe ek op skool was meringues (skuimpies) gemaak vir ’n niksvermoedende seun wat kom kuier het. My avontuurlus het met my wegloop en die skuimpies was een groot groen plat taai landmassa. Wat hy wel moedig verorber het saam met baie Oros.

Wat is jou gunstelingdis?

Ordentlike warm roosterkoek met plaasbotter en appelkooskonfyt. En pampoenkoekies. En aartappel. Aartappels is die beste.

Enige raad vir beginners in die kombuis?

As jy begin kosmaak, is dit baie belangriker dat jy verstaan wat hitte aan die ding doen wat jy braai of kook as om te leer watse speserye om daarop te sit. Leer dus byvoorbeeld eers teen watter temperatuur jou aartappel bros gaan braai, jou vleis van die been gaan val en hoe om uie te karamelliseer en hou dit eenvoudig op die speseryfront. En leer brood bak. Vars brood is hemels en maklik om te maak.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment