Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Nuwe keur uit André Brink se reisverhale: Mediterreense herinneringe

Mediterreense herinneringeDié nuwe bundel, Mediterreense herinneringe, sluit aan by André P Brink se 2012 keur uit sy reissketse uit die sestigerjare, Herinneringe aan Parys, en bevat die beste stories uit die boeke oor sy reise deur die Mediterreense lande – Italië, Spanje en die suide van Frankryk: Sempre diritto (1963), Olé (1965) en Midi (1969).

Hierdie is baie leesbare verhale wat steeds iets weerspieël van daardie “eerste vroeë opgetoëndheid oor ’n wêreld wat nog gelê en wag het om in Afrikaans ontdek te word”, soos Brink dit gestel het. Sy vertellinge wissel tussen humor en erns, is speels en ook indringend.

Oor die outeur

André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg en gaan studeer BA op Potchefstroom. Hy behaal beide sy MA-graad in Engels (1958) en Afrikaans (1959) cum laude. Hy vertrek hierna na Parys in Frankryk, waar hy vergelykende literatuur aan die Universiteit van die Sorbonne studeer.

In 1961 word hy aangestel as lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes op Grahamstad. In 1962 verskyn Lobola vir die lewe wat as sy eintlike debuut beskou word. Hy was saam met Breyten Breytenbach een van die sleutelfigure in die Sestiger-beweging. Hy was van 1980-1990 die hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes. Daarna word hy by die Departement Engels aan die Universiteit van Kaapstad aangestel, en tans is hy emeritus-professor in Engels aan dieselfde universiteit.

André P. Brink is een van die mees veelsydige figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal, insluitend Serbo-Kroaties, Japannees, isiXhosa en Vietnamees. Hy is reeds twee keer met die Hertzogprys bekroon (2000 en 2001).

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment