Breyten Breytenbach se digbundel Katalekte met voordrag en musiek bekend gestel (Plus: Videos)
Die subtitel van Breyten Breytenbach se nuwe digbundel, Katalekte: artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan, verwys na “dinge wat vir jou plesier gee en wat jy stadig weer bekyk”.
Die titel van die bundel kon netsowel “Opdrifsels” geheet het, het Breytenbach Maandagaand by die bekendstelling van die boek by die Breytenbach Sentrum gesê. In Katalekte word twintig afbeeldings, onder meer van Breytenbach se eie kunswerke, as ‘n integrale deel van die teks aangebied. Daar is ook sekere bekende Breytenbach-motiewe soos “16 September” en pampoene wat weer hul verskyning maak. Dus is dié boek beslis iets om stadig en met groot plesier te bekyk.
In gesprek met Louis Viljoen het Breytenbach oor sy pampoen-motief gesels. Dit kom van die verhaal “Die fascistiese pampoen” in Breytenbach se eerste kortverhaalbundel, Katastrofes, en sedertdien het Breytenbach se geboortedatum, 16 September, en pampoene by sy lesers sinoniem geword. Selfs toe Breytenbach in die tronk was vir die ondermyning van die apartheidsregering, het mense ‘n manier gevind om hom op 16 September te herinner dat dit “pampoendag” is. Breytenbach het ook vertel dat Adriaan van Dis een keer by ‘n prysuitdeling in die buiteland ‘n pampoen agter die podium uitgehaal het toe hy Breytenbach moes bekendstel.
“Dit het vir my ‘n bygelowigheid geword om ‘n pampoen in my verjaarsdaggedigte te gebruik,” het Breytenbach erken. “Dit laat my dink dat ‘n mens regtig nie te lank moet lewe nie, want hoeveel keer kan jy nou ‘pampoen’ in ‘n gedig gebruik?”
Dié amusante opmerking het die gesprek in die rigting van die temas van dood en verganklikheid in die bundel gestuur. Breytenbach meen “doodsangs” het “doodsvangs” geword in sy digkuns. “Dit maak dit minder angswekkend.”
Met die versreël, “Jy kan nie dat ‘n dronk man jou vertel van sy dooie vriende nie,” word die onderwerp byvoorbeeld humoristies aangepak in een van Breytenbach se gedigte wat tydens die geleentheid deur Antoinette Kellerman voorgedra is.
Kellerman het lewe aan Breytenbach se woorde gegee terwyl Schalk Joubert haar op die kitaar begelei het. Breytenbach het die aand afgesluit deur self ook uit sy werk voor te lees en by te dra tot die musikale begeleiding met sy “klapklips”.

- Laai dit nie? Kyk op YouTube
Kellerman dra nog ‘n gedig uit Katalekte voor:

- Laai dit nie? Kyk op YouTube
Die gehoor was bevoorreg om te luister hoe Breytenbach self sy gedigte voorlees, begelei deur Joubert en Breytenbach se eie klipmusiek:

- Laai dit nie? Kyk op YouTube
Carolyn Meads (@CarolynMeads) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:
Antoinette Kellerman lees gedigte v Breyten Breytenbach voor by die bekendstelling v Katalekte #livebooks twitter.com/carolynmeads/s…
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Kellerman se voordrag v Breytenbach se gedigte word begelei deur Schalk Joubert #livebooks twitter.com/carolynmeads/s…
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Viljoen noem dat Die Windvanger, Die beginsel van stof & Katalekte ‘n drieluik genoem is. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach het aanvanklik nie gevoel dis drieluik nie. “Probeer heeltyd wegkom van patroonmatigheid, maar maak steeds patrone!” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach erken dat die formaat van hierdie 3 bundels ooreenstem en dat hulle in een periode van ongeveer 7 jaar geskryf is #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach verwys na die motief van die hand wat onafhanklik v die liggaam funksioneer. “Die singende hand” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Viljoen noem dat die hand die skakel is tussen Breytenbach se twee kreatiewe persoonlikhede – digter & kunstenaar #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Vir Breytenbach is daar nie veel verskil tussen gedig en verhaal nie. Hy verwys na ons intense behoefte aan die narratiewe. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Daar is heelwat narratiewe verse in Breytenbach se Katalekte. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Viljoen verwys na Breyetenbach se gebruik van “jy”, wanneer dit ‘n eerstepersoonsverteller is wat na self verwys. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach: Dis iemand om mee in gesprek te wees. Aktiveer deel v brein wat laat voel daar’s iemand by jou. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach: Jy ken jouself nie werklik nie, sal jouself nooit volledig ken nie. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breytenbach: Die gebruik van “jy” maak ook leser aandadig. Nie alleen. “Dan voel ‘n mens darem minder skuldig” #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Antoinette Kellerman en Schalk Joubert gaan nou voort met voordrag en musiek. #livebooks
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Breyten Breytenbach lees van sy gedigte voor, begelei deur Schalk Joubert #livebooks twitter.com/carolynmeads/s…
— Carolyn Meads (@carolynmeads) March 18, 2013
Facebook-galery
Boekbesonderhede
- Katalekte: artefakte vir die stadige gebruike van doodgaan deur Breyten Breytenbach
Boek se tuisblad
EAN: 9780798157926
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment