Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Eksklusief: Maggie Marx gesels met Christien Neser oor Amper Einstein en outisme

thumbnailGewilde Afrikiaanse tienerboekskrywer Christien Neser se jongste boek, Amper Einstein, het pas by NB-Uitgewers verskyn. Dié boek spreek outisme en ook tienerkwessies aan. Books LIVE se Maggie Marx het Neser meer oor die boek uitgevra:

Waarom het jy besluit om Amper Einstein te skryf? Vertel ons meer van die boek.

Ek het ’n paar jaar gelede met ’n seuntjie in Gr R gewerk: hy is aangemeld as “weird”. En dit was hy beslis! Ek het vermoed hy is op die outisme spektrum, maar ons as terapeute mag geen diagnose maak nie. Hy en sy ouers is na baie wroeging na ’n neuropediater verwys. Daar is die vermoede bevestig. Hierdie kind en sy ouers het my egter aangegryp. Ek kon nie net die hele interessante menswees van daardie kind laat verbygaan nie. Want ongelukkig, sodra ’n diagnose gemaak is, word “weird” dadelik outisties en dit is die kind se etiket waarteen baie mense vaskyk. Ek het gehoop dat ’n jeugroman op ’n verhalende manier die stigma van outisme kan help verwyder. Een ding is egter seker: as jy vir ’n jongmens begin preek, het jy die wedstryd verloor. Die storie moes dus sterk genoeg wees om nie ’n outisme-handboek met ’n bietjie versiering aan te word nie.

Hoe het jy op die interessante karakters besluit?

Buiten Micha, wat gebaseer is op die seuntjie wat ek ken, is almal net pure fiksie. Ek was baie lus om opperste geeks as hoofkarakters te kies. Die mooi meisies en die rugbyspelers was nou al genoeg in die kollig. Ook maak dit baie sin om ’n nerderige, superslim karakter soos Leonard te gebruik: hy is slim genoeg om as verteller van sy boetie se bisarre gedrag op te tree. En, soos baie mense weet, is baie nerds tegnies ook op die outisme-light spektrum!

Jy is reeds ’n gevestigde jeugboekskrywer, maar ook ’n spraakterapeut. Hoe beïnvloed hierdie beroep jou skryfwerk?

Hoe beïnvloed my beroep my stokperdjie? Eerstens vreet my werk my skryftyd op. Ek kan slegs saans bietjie skryf. Tweedens is kinders my dag se brood. Ek is baie mal ook jong kinders se naiwiteit en jong volwassenes se skerpheid. Ek hoop dat my gereelde kontak met hierdie kinders my in voeling hou met hul leefwêreld. Derdens slaan my akademiese ingesteldheid seker maar heeltyd deur. Ek het al ’n hakkelaar, ’n outis en ’n man met Asperger’s in verhale gebruik. Hoe mense praat, die dialoog, is vir my baie interessant en ek probeer dus die dialoog in my stories so lewensgetrou as moontlik hou.

Outisme is ’n kwessie waarvan baie mense baie min weet, maar dit het egter ’n groot effek op ’n groot deel van enige samelewing. Wat is die belangrikste punte rondom dié siekte wat jy voel benadruk moet word?

Soos ek reeds gesê het, is ’n etiket om ’n persoon se nek, dikwels ’n lewenslange vonnis. Mense stigmatiseer verskriklik gou! Hulle sal byvoorbeeld na mev X as die Ma van die Outis verwys, eerder as Karien, die slim ontwerper wat toevallig ’n kind met outisme het. Aan die een kant wil ek begrip vir die probleem verhoog, aan die ander kant wil ek hê dat ons eers die mens moet raaksien en dan sy andersheid. Dit geld ook vir enige ander afwyking: doofheid, hakkel, depressie, wat ook al. Die invloed van outisme op die gemeenskap word al hoe groter. Dit is in die VSA bepaal dat 1 uit 88 lewende geboortes ’n kind op die outisme spektrum sal wees. Daar is in ons land bitter min skole en nasorg vir jong volwassenes met hierdie probleem. Outisme is op ’n glyskaal: ’n ernstig aangetaste persoon sal lewenslange versorging nodig hê. Minder ernstige gevalle sal onder toesig moet werk en woon. Asperger-mense moet met omsigtigheid in werk geplaas word. Ons land maak nie naastenby genoeg voorsiening hiervoor nie.

Amper Einstein lokprent:

YouTube Preview Image

Wat is die verband tussen Aspergersindroom en outisme?

Outisme is op ’n spektrum: in Engels, die ASD (autism spectrum disorder). Om as outisties gediagnoseer te word, moet die DSM4 protokol gevolg word: dit beteken dat die kind se gedrag, taal en sosialisering al drie aangetas is, in meerdere of mindere mate. Asperger’s is heel op die punt van die spektrum. Die taal van hierdie kinders is gewoonlik normaal tot uitstekend ontwikkel. Maar hulle praat dikwels formeel, soos klein grootmensies. Die intonasie is ook aangetas en hulle kan baie eentonig praat. Hulle het ook sekere fiksasies, en kan briljant wees in sekere velde. Hulle kan savante wees in velde soos wiskunde, musiek, tale of ontwerp. Sosiaal is hulle baie lomp: hulle maak moeilik maats, kan nie in ’n groep of span funksioneer nie en verstaan nie die kodes van vriendskappe nie. Hulle neem alles letterlik op, sodat sarkasme of humor dikwels oor hul koppe gaan. Die kind wat my boekie geïnspireer het, ontwerp tans vliegtuie op die internet, saam met ander volwasse ingenieurs. Tog kon hy nie graad 4 in hoofstroom voltooi nie, weens sy intoleransie vir geraas, wanorde en roetine wat verbreek word. Ook as gevolg van die sisteem wat hom nie kon (of dalk wou?) akkomodeer nie. Aspergers het in die ou dae sommer as verstrooide professors bekend gestaan!

Jy spreek ook baie tiener “issues” in die boek aan. Wat dink jy maak tiener-wees moeilik?

Tienerkwessies: om te behoort is seker ’n mens se diepste behoefte, vir tieners des te meer. Erikson, die befaamde sielkundige, het destyds gesê dat die fase van 11 tot 16 die tyd is wanneer ’n kind sy identiteit vestig. Hy huiwer heeltyd tussen twee pole: ’n sterk identiteit teenoor ’n gevoel van isolasie en verwarring. Die vraag is: wie is ek? Vir nerds om op hoërskool aan die “cool gang” te behoort, is omtrent onmoontlik. Dus maak hulle hul eie groepe. Leonard en sy brugbouspan is so ’n groepie. Daar voel hulle tuis. Ander kwessies, is die behoefte aan ’n meisie of ou; ja, selfs nerds droom romantiese drome oor meisies! Daar is ook die kwessie van jou ouers: is hulle cool of is hulle common? (Om Elsabe Aldrich aan te haal!) Dan het Leonard ook die eksperiment met die dagga probeer: vir hom ’n blote akademiese oefening, vir ’n ander outjie dalk die begin van ’n gewoonte.

Het jy enige snaakse skryfgewoontes?

Ek weet nie hoe ander mense skryf nie? Maar ek sit graag met Jan, ons Jack Russel, agter my rug en skryf. En ek drink potte tee uit om wakker te bly. So ek kry altyd raas by die mondhigiënis oor die teevlekke op my tande. Alles die skryfwerk se skuld.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment