Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Binnekort hier: Deon Meyer se nuutste misdaadroman Kobra

KobraKobra deur Deon Meyer verskyn in November by Human & Rousseau:

Bennie Griessel is eerste op die toneel: ’n bloedbad in ’n luukse gastehuis op ’n Franschhoek-wynplaas. Drie slagoffers van ’n geheimsinnige, blitsige, meedoënlose huurmoordenaar genaamd Die Kobra. Kan Griessel hom keer voordat hy weer toeslaan? Want daar was boonop ’n ontvoering . . . Ene Paul Anthony Morris, Britse burger met ’n splinternuwe paspoort. Maar wie is dié man werklik?

Voeg hierby ’n grypdief wat onwetend iets steel wat aan Die Kobra behoort, en ’n intelligensiediens wat hul neus in Griessel se sake wil steek. Spanning en intrige uit die boonste rakke, soos net Suid-Afrika se misdaadverhaal-koning dit kan skryf!

Oor die outeur

Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp. Hy studeer aan die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en Geskiedenis as hoofvakke. Hy behaal later ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat.

In die 1980’s het hy as joernalis by Die Volksblad gewerk, die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo en in 1989 begin hy by Sanlam in Kaapstad as reklame-kopieskrywer.

In 1991 word hy aangestel as bestuurder van Interne Kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se Reklame-afdeling. Hy begin later sy eie maatskappy wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet, en daarna was hy die bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling. Hy is op die oomblik ’n voltydse skrywer.

Deon Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans. Vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére 2003, vir Orion die Prix Mystère de la Critique 2004. Proteus verskyn op die langlys vir die IMPAC literêre toekenning en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment