Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

NB

@ Books LIVE

Nuwe digbundel deur Marlene van Niekerk, Kaar, verskyn in November

KaarNB-Uitgewers stel met trots Marlene van Niekerk se nuwe digbundel, Kaar, bekend:

Hierdie omvangryke digbundel, Marlene van Niekerk se eerste digbundel in 30 jaar, sluit gedigte in wat wissel tussen pragtig liries en aangrypend menslik tot sterk satiriese protes- en politieke gedigte. ’n Groot aantal temas word dikwels in fyn besonderhede aangebied – die natuur, voëls, diere, die liefde, die vader, sosiale vraagstukke – en getuig van hierdie digter se veelsydige inslag. Afrikaans word in al sy fasette ingespan en die spel met taal en woorde is telkens verbluffend.

Sowel die inhoud as die gebruik van taal getuig van ’n meesterlike skrywerskap. Ondersoekende denke, sensitiewe waarneming en uitsonderlike uitdrukkingsvermoë bied die leser van Kaar ’n avontuurlike ontdekkingreis deur die wêrelde van mense en diere.

Oor die outeur

Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon gebore. Sy gaan skool op Riviersonderend en Stellenbosch en matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof. Sy studeer filosofie, tale en letterkunde aan die Universiteite van Stellenbosch, Amsterdam en die Witwatersrand.

Sy debuteer in 1977 met die digbundel, Sprokkelster, waarvoor sy die Eugène Marais- en die Ingrid Jonkerprys ontvang. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995 en word onder meer met die Noma-prys vir die beste publikasie uit Afrika bekroon. Tien jaar later verskyn Agaat wat ses toekennings, onder meer die Hertzogprys vir prosa (2004), ontvang. Die vertaling van Agaat is ook met die Sunday Times Literary Award bekroon.

Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment