Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Johan Bakkes gesels met Dana Snyman by die bekendstelling van Onder die radar: Stories uit ons land

Johan Bakkes en Dana Snyman

 
Onder die radarNeem twee “langpad”-skrywers, voeg by drie koppies gaste, ’n reuse lagbui en ’n klomp boeke. Meng dit alles saam in ’n boekwinkel en wat kry jy dan? Vermaak.

Op Saterdag 9 November het C Johan Bakkes by Protea Boekwinkel op Stellenbosch in gesprek getree met Dana Snyman. Hulle het gesels oor Snyman se jongste boek, Onder die radar: Stories uit ons land. Hierin neem Dana die leser saam met hom op sy reis langs die stofpaaie van ons land. Dit is ook ’n reis deur die verlede – hy skryf oor sy kinderdae, van nostalgie en van onthou.

“Al die goed in die boek is hartseer,” vertel Snyman die gehoor. “Ek weet nie hoekom ek deesdae so swaarmoedig voel nie.” Bakkes troos hom met die woorde: “Hoe ouer ’n mens raak, hoe hartseerder raak die wêreld.” En ’n gas in die gehoor beaam dit: “Al jou verhale het mos maar ’n traan in die oog.”

Daar is egter ook ligte oomblikke. Bakkes spot vir Snyman oor hy in een van sy verhale ’n sin van Marlene van Niekerk “gesteel” het. Hierop antwoord Snyman plegtig: “Ek het dit maar net gebruik om grand te klink en in te pas by die postmodernisme.”

Daar word geskaterlag toe Snyman die verhaal “Drie ertjies in ’n snuifblikkie” voorlees, want almal identifiseer met die wyse waarop die ouer generasie nooit iets gemors het nie. Alles is gebêre vir die volgende dag om nóg ’n keer te gebruik. Van spykers tot kerse tot ertjies.

Snyman vertel skryf is nie vir hom maklik nie: “Ek skryf oor en oor en ek sukkel. Ek skryf en ek skryf tot ek dié prentjie regkry.” Nadat hy die hartroerende verhaal “Daniëlskuil” voorgelees het, is die gaste in die gehoor dit almal eens: “Dana is die meester van die laaste sin.” “Sweepslag,” beaam ’n ander gas.

Toe die einde van die praatjie aangekondig word en Snyman en Bakkes die gehoor groet, soebat hulle dat Snyman asseblief net nog één van sy stories moet voorlees. Hy lees “Agterop” en belowe: “Vir my volgende boek sal ek happy stories skryf.”

Facebook-galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment