Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Wilna Adriaanse se misdaadroman Dubbelspel by Casparus bekendgestel

 
DubbelspelDie veelsydige Wilna Adriaanse het weer ‘n genreskuif met haar nuutste book, Dubbelspel, gemaak.

Adriaanse, wat heelwat liefdes- en verhoudingsromans op haar kerfstok het, het verlede jaar lof ontvang vir haar literêre roman ‘n Klein lewe, wat op outobiografiese besonderhede gegrond is. Met Dubbelspel wend sy haar weer tot die misdaad- en spanningsroman.

“Mense dink ek het ‘n keuse van watter tipe boek ek gaan skryf, maar eintlik het ek nie veel van ‘n keuse nie. Die karakters kom net en dan loop ek maar agter hulle aan,” het Adriaanse verlede week by die bekendstelling van Dubbelspel by Casparus-restaurant op Stellenbosch gesê op haar gespreksmaat Etienne Bloemhof se vraag oor waarom sy juis dié genre aangepak het. Dubbelspel is die eerste van ‘n tweeluik. Die opvolgboek sal Eindspel heet en Adriaanse is reeds besig om dit af te rond.

Dit is die karakter Ellie McKenna wat Adriaanse hierdie keer aangespoor het om te skryf. Sy vertel hoe sy by ‘n vervelige kooroptrede skielik in haar geestesoog ‘n vrou by die orrel sien sit het. In die spieëltjie by die orrel het die vrou (Ellie) gesien hoe mans die gebou binnekom en sy het geweet dat hulle daar was om háár te kry…

Adriaanse moes heelwat navorsing doen oor die misdaadelemente in die boek en het ‘n informant in die speurdiens gehad wat haar gehelp het. Toe sy by hom wou hoor of die situasies wat sy skep nie te vergesog is nie, het hy gesê dat alles wat haar verbeelding kan uitdink waarskynlik al gebeur het.

“Ek moet sê dat ek ná die skryf van die boek baie meer bewus is van misdaad as voor my navorsing,” het Adriaanse erken. “Ons dink ons weet wat aangaan, maar eintlik weet ons nie.” Veral georgansieerde misdaad soos die Chinese triades tot die Russiese mafia figureer in haar verhaal.

Haar skryfwerk is gevoed deur werklike gebeure soos die saak teen Radovan Krejčíř, renosterstropery en die ontdekking van houers vol dwelms wat in Mosselbaai deur smokkelaars van skepe af gegooi is, met die doel dat hul makkers dit moet kom oplaai.

Adriaanse se navorsing het ook haar siening van die polisie beïnvloed. “Ek het besef daar is ongelooflike mense in die polisie wat hul werk toegewyd doen.” Dit is vir haar jammer dat baie talentvolle mense die diens verlaat.

Alhoewel Dubbelspel beslis ‘n misdaadroman is, beklemtoon Adriaanse dat die kern van dié verhaal – soos al haar ander boeke ook – verhoudings tussen mense is. Sy ondersoek byvoorbeeld die ma-en-dogter-verhouding tussen Ellie en haar ma. “Omdat ek nie self dogters het nie, fassineer dié verhouding my.” Bloemhof het Adriaanse ook geprys vir haar uitstekende uitbeelding van mans.

Ten slotte het Adriaanse die gehoor bedank dat hulle die bekendstelling van haar boek kom bywoon het, veral aangesien die skryfproses eensaam kan raak. “Jy sit daar by jou lessenaar en later is jy nie meer seker of die Wegraping dalk plaasgevind het nie.” Sy het die gaste uitgenooi om saam met haar fees te vier. “Dit is een van die grootste geskenke wat jy vir ‘n skrywer kan gee.”

Facebook-galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment