Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Willem Anker vang legendariese trekboer Coenraad Buys se lewe vas in Buys – ’n Grensroman

Buys - 'n GrensromanWillem Anker se hoogsverwagte roman, Buys – ‘n Grensroman, verskyn eersdaags by Kwela:

Coenraad de Buys was die gevaarlikste man in die Kolonie.

Op agtjarige ouderdom het hy sy eerste grens oorgesteek en sy ouerhuis agtergelaat. Huis-uit, Kaap-uit, beskawing-uit. Uiteindelik wêrelduit.

Van die Langkloof swerf Buys – oftewel Khula, Koning van die Basters, veelwywer, rampokker, swendelaar, voëlvry-verklaarde, uitvaagsel, pes van die regering, reus − deur die onrustige landskap van die laat sewentienhonderds. Hy bly anderkant die Vis by Xhosa-opperhoof Ngqika, wat soos sy seun is. Hy bly by die Tamboekies; in die republiek van Graaff-Reinet; op die trekpad. Oral trek hy saam met en sonder Maria, Nombini, Elizabeth en ander vroue. Oral verwek hy kinders; oral sluit ander rowers en weglopers by hom aan – ’n ganske Buysvolk. Hy dikteer self die reisiger-skrywer Lichtenstein se beskrywing van die legende Buys. Hy tolk tussen Brit en Xhosa en praat deurgaans net sy eie woorde.

En oral op sy drosterpad is daar die honde, altyd die honde en die af-oor gedierte wat Buys se jeukvoete op die pad gesit het. Op Buys se spoor, in sy kop, om sy kampvuur draai die kwylende bekke rond.

Hy word gebore in die Langkloof. Hy sterf teen die oewer van die Limpopo. Maar Buys is nie dood nie.

Buys is ’n roman oor grense en oor grond. Dit vertel waar ons vandaan kom.

Oor die outeur

Willem Anker is op 3 Februarie 1979 op Citrusdal gebore. Hy matrikuleer in 1996 aan Hugenote Hoërskool op Wellington. Hy het al gewerk as kroegman, wewer, sekuriteitswag en vir twee dae by ’n verhuisingsbesigheid, maar tans doseer hy kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Anker het in 2007 sy D.Litt aan dieselfde universiteit behaal. In 2004 skryf hy die teks vir die ruimtelike teaterstuk Skroothonde wat by Aardklop die “Aartvarkprys vir innoverende werk” wen. In 2006 skryf hy saam met Tertius Kapp die teks vir Sielsiek, ook ‘n ruimtelike teaterproduksie, wat by Aardklop opgevoer word. Siegfried , wat in 2007 by Kwela gepubliseer is, is sy eerste roman.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment