Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Die respektabele Meneer Hartslief deur Chris Karsten by Waverley Biblioteek bekendgestel

Bekendstelling: Die respektabele Meneer Hartslief

 
Die respektabele Meneer HartsliefChris Karsten was onlangs in Suid-Afrika vir die bekendstelling van sy splinternuwe spanningsroman, Die respektabele Meneer Hartslief. Op 29 Oktober het die skrywer tydens ‘n intieme geleentheid by die Waverley Biblioteek in Pretoria met Thys Human gesels oor hierdie nuwe publikasie.

Karsten het verduidelik dat hy probeer wegkom van skryfresepte af. Die speurder in Die respektabele Meneer Hartslief kan byvoorbeeld hoog en laag vir Sherlock Holmes aanhaal, maar dis omtrent al. Karsten het gesê sy verhale neem nie die vorm van ’n whodunnit aan nie, want die moordenaars word vroeg bekendgemaak. Die spanning lê dus op ander terreine, byvoorbeeld deur die skep van eksentrieke karakters.

Human het gevra of sy speurverhale as betrokke letterkunde beskou kan word en of dit kritiek lewer op sosiale omstandighede. Karsten het gesê enige skrywer moet weet wat aangaan in die ruimte waarbinne hy skryf. Die skrywer, wat nou al vier jaar in Kanada woon, se oggendroetine sluit in die lees van Suid-Afrikaanse nuusberigte op die internet. Karsten het gesê jy kan nie oor Suid-Afrika skryf sonder om ietwat krities daaroor te wees nie. Die speurder in Die respektabele Meneer Hartslief is byvoorbeeld oorgewig en verkies om eerder agteroor te sit as om leidrade na te volg. “Ek hoop nie dit reflekteer oor die algemeen op Suid-Afrikaanse polisie nie, maar daar is tog sulke polisiemanne.”

Human het opgelet na die sterk gevoel van plek in Die respektabele Meneer Hartslief en het gevra oor die herskepping van Brixton en Melville vir die teks. “Ek het vyf en twintig jaar in Melville en Randburg gebly, ek ken die omgewing, ek hou daarvan om te skryf oor plekke wat ek ken.” Karsten het vertel hoe Skandinawiese skrywers straatkaarte voor in hul boeke plaas om plek aan te dui. “Dis belangrik vir die leser – hy vereenselwig hom onmiddelik.”

Karsten het vertel hoe hy heel eerste sy karakters ontwikkel. Hy het die booswig in Die respektabele Meneer Hartslief oor ’n paar nagte bedink en toe met die loodgieter-karakter vorendag gekom. Toe het Karsten homself afgevra, “Hoe kan ek hom kontrasteer?” Die disfunksionele Brixton-familie was die antwoord. Die derde element, die boewebaas, is ’n “Vlad the Impaler“-tipe figuur. Human het opgemerk dat daar ’n sterk “rooting for the underdog” in Karsten se boeke deurkom, veral met die nuwe gesin wat “vanweë omstandighede met sekere dinge in die lewe tevrede moet wees”.

“Ek het self van die verkeerde kant van die spoor afgekom,” het Karsten gesê, dus is hy simpatiek teenoor die familie in sy jongste boek. “Mense is te gou om te beoordeel en te veroordeel.” Aan die hoof van die Brixton-gesin staan die sopkombuis-matriarg, sy is die sout van die aarde. Elie is die bleeksiel wat ten spyte van sy omstandighede uitstyg al die pad tot in Sandton vanwaar hy probeer om die familie op te hef. Dit is Elie wat dan met die booswig moet meedoen.

Die huurmoordenaar is ’n vae karakter, sy naam is nie eens bekend nie, daar word slegs na hom verwys as die loodgieter. “Jare terug het iemand vir my gesê iemand wat vir diere lief is kan nie net boos wees nie. Lood speel die saksofoon vir sy mensvreter-honde.” Karsten het gesê die wisselwerking tussen Elie en die boewebaas skep verdere spanning – die leser weet dit gaan op ’n botsing afstuur – terwyl die sluipmoordenaar altyd in die agtergrond teenwoordig is.

Human het ook gevra oor die galgehumor wat in die boek voorkom: “Mag ek hieroor lag as iemand letterlik kop verloor?” Karsten het gesê sy boeke kan nie as lighartig beskou word nie, maar Die respektabele Meneer Hartslief is dalk minder somber as sy vorige romans. “Mens moet nooit die goed te ernstig opvat nie, hierdie is maar net ’n sagtere blik in die spieël. In die werklike lewe gebeur daar grusame goed.”

Karsten en Human het die aand afgesluit met ‘n heerlike gesprek oor taal waarna die skrywer kopies van sy nuwe roman geteken het.

* * * * * * * *

Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:


 

Facebook galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment