Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Eksklusief: Eunice Basson gesels oor die waarde van wyd lees en haar debuutbundel, Leiboom

Eunice Basson het vanjaar haar debuutdigbundel, Leiboom, voor ’n groot gehoor in Pretoria bekendgestel.

Books LIVE het met die kunshistorikus en digter gesels oor poësie as ontvlugtingsmeganisme, haar gunsteling skrywers en hoe haar kinderjare haar skrywershand gevorm het.

Die sogenaamde muse kan soos volg beskryf word: “toegewyde en deurlopende harde werk”. Daar is geen maklike uitweg nie. Dit is baie belangrik om die sleuteltekste oor poësie deur te werk. Ek dink kortliks aan twee belangrike bronne, daar is natuurlik nog baie meer, maar kyk gerus weer na AP Grové se Woord en Wonder: Inleidende Studie oor die Tegniek van Poësie (Tweede druk 1974) asook na Ottone M Riccio se The Intimate Art of Writing Poetry (2000). Lees en hou aan lees; kyk en luister na dit wat om jou aangaan; leef bewustelik/indagtig in jou wêreld.

 
Leiboom1. Jy het onlangs Leiboom in Pretoria bekendgestel. Hoe het dit gevoel om só ’n groot opkoms te kry? Het jy dit verwag?

Beste Annetjie, baie dankie vir die geleentheid om hierdie onderhoud met jou te voer. Eerstens, kortliks die volgende: die moontlikheid van ’n boekbekendstelling rondom Leiboom is in Oktober/November 2014 deur die bemarkingsafdeling van NB Uitgewers ondersoek en daar is besluit om dit te laat oorstaan tot vroeg in 2015. Graffiti Boekwinkel in Lynnwood, Pretoria is vir hierdie funksie geoormerk. Ek is deur NB Uitgewers in kennis gestel, maar ek het nie geweet wat om te verwag nie want dit was vir my ’n hele nuwe gebeurtenis en ervaring. Nie in my wildste drome het ek só ’n groot opkoms van poësieliefhebbers en belangstellendes by die funksie verwag nie. Dit het my onkant gevang en ja, ek was heel ontsenu.

2. Wou jy altyd geskryf het? Hoe het jy poësie ontdek?

In enige vakdissipline bly taal die medium van ontsluiting en as kunshistorikus het ek my ten doel gestel om onder meer vakterminologie en kunsteorie so duidelik en toeganklik moontlik in Afrikaans en Engels aan studente by Unisa oor te dra. Die dissipline om in twee tale te werk hou bepaald akademies doelgerigte maar ook kreatiewe moontlikhede in aangesien mens verby blote vertaling beweeg. Hierdie oefening het beslis tot kreatiewe aansporing gelei (ook soms tot ontvlugting tydens kantoorure) maar dan was daar ook van kleins af die blootstelling aan boeke en die belangrikheid van lees in my ouerhuis. My pa het graag vir my (en my ouer broers) in die aande dele uit Die Skatkis, Sangiro, Schoeman, die Hobson broers en dikwels sommer net gedigte voorgelees. Die gedagte om skeppend ‘te kan skryf’ het my elke nou en dan besig gehou, veral wanneer ek onder baie druk was en keerdatums op kantoor moes haal. ’n Fyn ontvlugtingsmeganisme.

3. Jy het in 1996 reeds gedigte in die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer. Waaroor het daardie gedigte gegaan en kan ons nog eggo’s daarvan hoor in Leiboom?

Die drie gedigte wat destyds in die Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is, het gehandel oor aspekte van die menslike “omstandigheid” (the human condition) asook die natuur, temas wat steeds sterk in Leiboom figureer.

4. Wie is jou gunsteling digter(s)? Watter vers bly jou altyd by?

Die net val wyd maar ek is nogal geneig om elke nou en dan terug te keer na die Groot Verseboek as wegspringplek om vir eers weer inleidend/ondersoekend te lees oor een of ander digter se werk voordat ek by individuele digbundels uitkom. Dieselfde geld vir die Nuwe Stemme-reeks. Kortliks, ek keer graag terug na die werk van Wilma Stockenström, Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk, Elizabeth Eybers, Johann Lodewyk Marais, Hennie Nortjé, en nog baie ander digters maar ek moet kwalifiseer dat my gemoedstemming nogal by tye my leeswerk rig. Wanneer die gemoed my pak, lees ek ook die Russiese digters van die draai van die vorige eeu, die groep om Mandelstam en die Oos-Europeërs onder meer Herbert. En Skoppensboer van Eugène Marais bly maar altyd iewers in die agtergrond.

5. Die motto’s in jou bundel handel oor kindwees en herinneringe. Wat is jou skerpste herinnering uit jou kinderdae?

Hierdie vraag slaan nogal baie wyd, maar kortliks: Ek onthou ’n kindertyd van baie ontdekkings, my pa se boekery, gesprekke met my ouers oor diverse aangeleenthede; daar was ook die vryheid om onafhanklik/selfstandig met maats “die wêreld” in die buurt te ontdek. In daardie jare is kinders wel gehoor, maar smiddae, naweke en in vakansietye het ons ouers ons byna nooit gesien nie want dan is ons deur ons verbeelding oorrompel en meegesleur op fantasiereise deur die rietbosse, karee- en witstinkhoutbome van die buurt. Daar was egter ook moeilike dae met ’n geliefde broer wat in sy puberteitsjare aan ’n sielstropende depressie begin ly het, ook ander klein verdriete, alles deel van die “grootword” prentjie.

6. Hoe het jou agtergrond as kunshistorikus jou verse beïnvloed?

Uit die aard van my blootstelling aan die visuele asook my opleiding as kunshistorikus, dink (en praat) ek binne ’n visuele konteks. Die blootstelling aan soveel kunswerke binne die Europese en Afrika-tradisie beïnvloed heel gereeld my hantering/benadering van ’n gedig. Ek “sien” heel dikwels ’n bepaalde scenario voor my wat uiteindelik in digvorm verwoord/ingekleur word. Film speel ook ’n rol.

7. Vertel my meer van die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns wat jy by die Universiteit van Pretoria behaal het. Wat het jou laat besluit om dit te doen en watter lesse het jy daar geleer?

In ’n vorige onderhoud elders het ek genoem hoe doseerwerk die neiging het om ’n mens geheel en al in te sluk, veral by ’n afstandonderrig-instansie soos Unisa waar daar soveel meer administratiewe verpligtinge is wat juis binne die akademiese departemente baie aandag verg. Die besluit om vir ’n graad in Kreatiewe Skryfkuns aansoek te doen, was juis om myself bewustelik voor ’n nuwe uitdaging te stel, om geroeste grense te verstel en om iets heeltemal nuut en anders, weg van my vakdissipline aan te pak. Elke tweede week moes elke student (ons was aanvanklik tien studente) ten minste twee nuwe gedigte vooraf aan die klas deurgee waarna dit dan om die tafel onder leiding van die dosent (Henning Pieterse) bespreek is. Die voorstelle van die mede-studente en die studieleier was uiters waardevol want mens is so geneig om jouself teen jou eie woorde/gedigte “vas” te lees. Elkeen van die mede-studente asook die studieleier kom met nuwe idees of met ’n nuwe invalshoek na die tafel, en daarin lê die werklike waarde. Een van die belangrikste aspekte van so ’n kursus is die blootstelling binne klasverband asook die terugvoer, dit hou mens se kop en kreatiewe impulse ondersoekend maar ook beskeie. Ek het weereens die waarde van wyd lees besef.

8. Henning Pieterse het by die bekendstelling van Leiboom gesê dat jou verse knap is en jou slotte pertinent goed. Hoe benader jy die skryf en skaaf van jou poësie?

Die ontstaan van ’n gedig het sy eie tyd en tempo en gaan lê heel dikwels vir ’n tyd lank in die onderbewussyn of in die onderste laai. ’n Gedig kan oor enige onderwerp/aspek tot stand kom soos wat WH Auden tereg opmerk: “Poetry makes nothing happen.” Ek dink dikwels aan ’n gedig as ’n legkaart wat blokkie vir blokkie bedink en gebou word om uiteindelik vorm aan te neem. Dit gebeur heel gereeld dat daardie “sleutelblokkie” vir baie maande net nie in plek (wil) val nie en dan begin mens wroeg en skaaf.

9. Jy skryf oor belangrike ekologiese en sosiale kwessies. Watter sake lê jou na aan die hart? As jy weer ’n bundel sou skryf, waaroor sou dit gaan?

Steeds die temas waarmee ek Leiboom bekendgestel het: die menslike “omstandigheid” soos wat dit daagliks voor ons almal in ons huishoudings, vriende- en kenniskring asook in die media uitspeel; menslike dwaasheid en vergissings oor die Self (ego); doodgewone, alledaagse klein bestaanswêrelde wat in toevallige gesprekke met verbygangers/onbekendes oorgedra word; die sikliese soos wat ek daagliks in my tuin ervaar, ensovoorts. Ek vermoed dat ’n volgende bundel in ’n mate ’n voortsetting van hierdie temas mag oplewer.

10. Watter digterlike raad het jy vir aspirantskrywers en digters? (Is daar iets wat jy wens mense vir jou aan die begin van jou loopbaan gesê het?)

Die sogenaamde muse kan soos volg beskryf word: “toegewyde en deurlopende harde werk”. Daar is geen maklike uitweg nie. Dit is baie belangrik om die sleuteltekste oor poësie deur te werk. Ek dink kortliks aan twee belangrike bronne, daar is natuurlik nog baie meer, maar kyk gerus weer na AP Grové se Woord en Wonder: Inleidende Studie oor die Tegniek van Poësie (Tweede druk 1974) asook na Ottone M Riccio se The Intimate Art of Writing Poetry (2000). Lees en hou aan lees; kyk en luister na dit wat om jou aangaan; leef bewustelik/indagtig in jou wêreld.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment