Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verander alles in Debora en seuns deur Helene de Kock

Debora en seunsHelene de Kock se nuwe roman, Debora en seuns, verskyn eersdaags op Human en Rousseau se rakke:

Deborah Schlagerfeldt en haar drie seuns se intrek op ’n dorpie in die Oos-Vrystaat bly in geheimenis gehul, jare nadat hulle gebak en snuisterye in hul winkel “Debora en seuns” begin verkoop. Dis slegs hul buurvrou Susan Scott en haar dogter Margot wat mettertyd die Schlagerfeldts leer ken. Debora versorg haar man, ’n invalide, met groot sorg, maar nie sy of die seuns rep ’n woord oor die oorsaak van sy toestand of die gebeure voor hul koms nie. Margot en Erik, die jongste seun, raak boesemvriende, en sy raak gou deel van die huishouding. Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verander alles. Debora se seuns moet leer dat liefde soms ook swaarkry bring. En Margot moet besluit of sy haar hart oor die oseaan moet volg, na Londen, reguit die oorlog in.

Oor die outeur

Helene de Kock is op 21 November 1943 op Sabie in die destydse Oos-Transvaal gebore, die oudste dogter van ds. Herman en mev. Sylvia van Schalkwyk. Sy word groot in Boksburg waar haar pa predikant van die NG Gemeente Boksburg-Wes was. Sy het ‘n suster, Sunet du Plessis.

Sy voltooi haar laerskooljare aan die Laerskool Hennie Basson en gaan na die Hoërskool Dr EG Jansen, waar sy by haar ma klas gehad het en later hoofmeisie word. Jare later gee Helene Engels aan dieselfde skool terwyl haar ma departementshoof daar is.

Na matriek gaan Helene na die Universiteit van Pretoria, waar sy haar BA-graad met Engels en Duits as hoofvakke behaal, asook haar onderwysdiploma. Sy neem verder sanglesse aan die Konservatorium, en dit word ’n groot belangstelling in haar lewe. Sy ontvang les by Xander Haagen, Nellie du Toit en later Rina Hugo en sy het dikwels as soliste opgetree.

By Tukkies dien sy vir twee jaar in die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby en jare later is sy ook ‘n ruk lank waarnemende redakteur van Vrystaat, ’n streekskoerant van die Oos-Vrystaat.

Helene gee twee jaar Engels en trou dan met Jos de Kock. Dr. Jos de Kock is later buitengewone professor in Plantkunde aan die Universiteit van Pretoria en was vroeër visepresident van die Landbounavorsingsraad. Hy dien nou al jare lank op die Proteïnnavorsingsraad. Drie kinders word uit die huwelik gebore: Jaco, Herman en Sylvia. Jaco is tien jaar gelede oorlede.

In 1968 gee Helene Engels aan die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland. Intussen gaan sy voort met sanglesse in Bloemfontein, waar sy later self ook sang doseer. In die laat tagtigerjare verhuis die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar hulle vir agt jaar woon. Hier gee sy drie jaar lank Geskiedenis aan die Hoërskool Voortrekker en tree sy ook op as soliste van die Cantus Choraliskoor. In 1990 word sy deur die Bethlehem Kultuurraad aangewys as Kultuurvrou van die Jaar.

Sy skryf haar eerste kortverhaal in haar tweede jaar op Tukkies. Huisgenoot aanvaar dit en “ek het toe gedink ek kan skryf, maar later uitgevind dat daar tog waarheid is in die spreekwoord een swaeltjie maak nie ’n somer nie, want daarna het elf verhale teruggekom”.

Helene begin weer skryf tydens haar kinders se babajare en na tien jaar word haar volgende verhaal gepubliseer. Vervolgverhale verskyn in Huisgenoot en Sarie, asook heelwat kortverhale en novelles, en in 1978 word Die soete dwaling deur PJ de Villiers Uitgewers gepubliseer. Daarna sien Koos Human, destyds van Human & Rousseau, Helene se werk raak en publiseer byna al haar romans. Helene publiseer verder ook romans, kortverhale en geestelike werk by CUM, LAPA, Tafelberg Uitgewers, Litera en Aktuapers. Kortverhale van Helene is in bundels opgeneem wat saamgestel is deur T.T. Cloete, Jeanette Ferreira en Daniel Hugo.

Helene het in 2008 haar Meestersgraad cum laude in Skeppende Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit behaal en haar roman Dieper water is ’n gevolg van hierdie kursus. Sy kry vir hierdie tesis ‘n toekenning as beste Meestersgraad-student in Afrikaans.

In 2014 verwerf sy haar PhD in Afrikaans en Nederlands met die klem op Skryfkuns. Die doktorsgraad is ook aan die Noordwes-Universiteit verwerf en dit onder die leiding van professore Franci Greyling en Hans du Plessis. Die roman Somersneeu was die verwysingspunt van haar proefskrif getiteld Die skep van ruimtelike dinamika in ‘n roman. Helene is ook onlangs verkies tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Helene en haar man woon in Midstream Estate naby Pretoria. In Junie 2004 is hul oudste seun Jaco in ’n motorongeluk oorlede en die boek As dood lewe word (uitgegee deur CUM en as e-boek deur Amazon asook Barnes& Noble), is die uitvloeisel van haar en haar gesin se ervaring van sy dood. Herman de Kock, die middelste seun, is ook ’n NG predikant en het al vir CUM en LAPA Uitgewers geskryf. Hy is ook ‘n bankier en is hoof van Nedbank Business Banking se Noordstreek. Hy preek dikwels en het lank sterwensbegeleiding gedoen. Sylvia de Kock, hulle dogter, werk ook in die bankwese en skryf vir Lux Verbi en CUM.

Helene skryf nou voltyds en gee sporadies lesings oor die skryfkuns by die ATKV-Skryfskool aan die Universiteit van Noordwes. Sy het ook op uitnodiging van dr. Annette Jordaan, lesings by die Universiteit van Pretoria aangebied. Sy spreek gereeld leeskringe toe en hou van reis, lees en musiek, maar skryf bly haar eerste liefde. Kuiertyd saam met haar man en kinders is vir haar baie kosbaar.
Helene se skryfwerk dek ’n wye verskeidenheid genres. Sy doen steeds soms joernalistieke werk en skryf resensies vir Literator. Sy skryf graag oor die liefde, maar lê ook klem op die werklikheid van die lewe en die eise wat die lewe aan verhoudings stel. Oor die genre van goeie gewilde romans laat sy haar in 1991 soos volg uit: “Tot sowat tien jaar terug is ’n mens oor die vingers geraps as jy ’n gewilde roman geskryf het. Ontspanningsromans moet goedgeskrewe, egte verhale wees wat reg aan dié genre laat geskied. ’n Mens boet nie noodwendig aan die estetiese in as jy jou boek op die kommersiële mark rig nie.”

Helene de Kock beplan DV om nog vele ontspanningsromans te skryf.

In 1988 is Kronkelpad na Vergenoeg benoem vir die ATKV-prys vir goeie, gewilde prosa en so ook ’n Kind vir Vier Oude Vrinde in 1989. Helene was die naaswenner in ATKV/Sarie se vervolgverhaalwedstryd met Sewende somer en met Windspoor. In 1988 is sy ook die naaswenner in Rooi Rose se kortverhaalwedstryd met ’n Laaste maal . Sy wen die derde prys in Sarie/Ou Mutual se kortverhaalwedstryd met Net nog ’n maal . In 2000 word Engel op die drumpel aangewys as naaswenner van CBSA se toekennings vir Christelike Publikasies in die kategorie Fiksie, en in 2003 word Omdat ek Ma liefhet wat deur Helene saamgestel is, aangewys as wenner van CBSA se toekennings vir Christelike Publikasies in die kategorie Beste Geskenkboek. Haar nuutste roman, Somersneeu, was ‘n finalis vir die ATKV Woordveertjies (2010) in die kategorie Liefdesverhale.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment