Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Vaarwel Ena Murray, die mees gelese skrywer in Afrikaans (1936 – 2015)

 

Ena Murray Omnibus 30Ena Murray Omnibus 27Omnibus 24Ena Murray Omnibus 22Ena Murray Omnibus 26Ena Murray Omnibus 21Ena Murray Omnibus 29
Ena Murray Omnibus 28Ena Murray Omnibus 20Ena Murray Omnibus 25Ena Murray Omnibus 23

 
Die bekende en geliefde skrywer, Ena Helena Murray (Mostert), is vanoggend omstreeks 04:00 op Mosselbaai oorlede. NB-Uitgewers vereer haar vir die groot werk wat sy gedoen het en vir haar nalatenskap.

Murray is op 27 Desember 1936 op Loxton in die Karoo gebore, die tweede van drie dogters van die plaaslike geneesheer, dr Mans. Sy het op Loxton skoolgegaan en het reeds in die laerskool begin skryf. Sy het aan die Hoërskool Victoria-Wes gematrikuleer.

Ná skool gaan verpleeg Ena in Bloemfontein en in 1959 is sy met Boet Murray getroud. Sy is na 20 jaar geskei en het haar in die Wildernis gaan vestig. In 1981 is sy met Jacques Mostert getroud. In 1991 het hulle na Santos Haven-aftree-oord in Mosselbaai getrek.

Nadat Ena haar eerste twee verhale voltooi het, het sy een aan Rooi Rose gestuur en een aan Ela Spence. Die eerste is in Rooi Rose as vervolgverhaal gepubliseer en die ander een, Lisé, verskyn in 1960 by JP van der Walt-uitgewers.

Die publikasie van Lisé was die begin van Ena se lang loopbaan as een van die gewildste skrywers van Afrikaanse ontspanningsverhale.

Ena se resep vir haar sukses was selfdissipine en ’n streng skryfprogram. Haar 131 titels is meestal snags vanaf eenuur geskryf, en tussen dertien en vyftien uur per dag agter die tikmasjien was vir Ena niks snaaks nie.

George Louw, wat destyds verhaleredakteur by Huisgenoot was, het nooit een van haar verhale van die hand gewys nie. “Haar verhale het uitgestaan. Ek weet nie wat dit is wat haar so gewild gemaak het nie. ’n Mens sou dit seker ’n X-faktor kon noem.”

In 1996 het Ena haar tikmasjien weggepak, maar gelukkig vir haar lesers is haar verhale in 40 omnibusse gebundel.

Reënboog van koraal is vir skole voorgeskryf, terwyl twee van haar boeke, Vrou uit die nag en Plekkie in die son, verfilm is.

Oor hoe sy nederig bly ná al haar sukses, het Ena gesê: “Wanneer ek sien een van my boeke is bo-aan die topverkoperlys, sê ek vir myself: ‘Dis alles net genade’.”

Nèlleke de Jager, wat jare lank Ena se uitgewer was, sê: “Ena se boeiende vertelstem, humorsin, deernis en insig in mense verklaar haar sukses. Wat my altyd die meeste van haar werk opgeval het, is dat Ena gegló het in die liefde. En vandaar die oortuiging waarmee sy haar stories geskryf het.”

Etienne Bloemhof, die hoof van NB-Uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.”

Marga Stoffer, waarnemende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Ons is hartseer oor die heengaan van Ena Murray. Sy was ’n geliefde skrywer en ’n merkwaardige mens. Sy is vir lank beskou as ‘die mees gelese skrywer in Afrikaans’, en haar boeke word steeds heruitgegee. Mag sy in vrede rus.”

Bron:

Ena Murray (1936 –). ATKV-LitNet Afrikaanse Skrywersalbum
Roux, JB. 2009. “As jy voel jy wil skryf, het jy dit in jou om suksesvol te wees” Die Burger, 16 Maart

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment