Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Ek was as kind nogal ’n liegbek” – Schalk Schoombie by die bekendstelling van Boomkastele

Schalk Schoombie

 
Schalk Schoombie droom al van kleintyd af van sy eie boomhuis; so ’n majestieuse gebou wat net deur ’n kind se verbeelding opgetower kan word. “My maatjies het almal boomhuise gehad en ek wou ook een hê, maar ek was te onbeholpe.”

Schalk Schoombie en Ilse SalzwedelBoomkasteleSó het die Boomkastele: ’n Sprokie vir ’n stadsmens-outeur verlede week aan sy gespreksgenoot en ou vriendin, Ilse Salzwedel, vertel. Menige vriende, kollegas en belangstellendes het op Donderdag 28 Mei na Graffiti Lynnwood Bridge gestroom om die bekendstelling van Boomkastele met Schoombie te vier.

Schoombie het nóg ’n kinderherinnering opgeroep om die inspirasie vir die roman te verduidelik: ’n Buurman het destyds ’n pragtige boom afgesaag wat op sy familie-erf gegroei het, en die skrywer kon vir jare nie die saak verwerk nie. Sy hoofkarakter is dan juis ’n navorser wie se twee agterste bome afgekap word, en dit ontketen ’n burgeroorlog op klein skaal tussen die bure. Saam met die een storie loop nog ’n verhaallyn – dié van ’n misdaadverslaggewer wat veg teen haar alledaagse bestaan van bloedvergieting-stories deur die spoor van ’n fantastiese graffitikunstenaar na te volg.

“Schalk is ’n deurwinterde joernalis, akteur en nou ook romanskrywer,” het Salzwedel aan die gehoor vertel en vir die skrywer gevra, “Hoekom nou eers die boek?”

“Ek dink ek was te bang,” het die oud-De Kat-redakteur gedeel. “Ek wou nie nóg ’n gemiddelde boek skryf wat stof vergaar op ’n rak nie.” Schoombie word vanjaar 58 en noem homself ’n “late bloomer”. Hy het jare lank in die tydskrifwese gewerk en dra die hoed van fliekresensent, akteur, dramaturg, Beeld-joernalis en stigtersredakteur van Krit, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se jaarlike feeskoerant. “Dis makliker om ten brode te skryf,” het Schoombie met ’n skaam glimlag vertel.

Salzwedel wou weet wanneer Schoombie begin stories vertel het. “Ek dink ek was as kind nogal ’n liegbek.” Schoombie bly deesdae in Alberton, maar hy het in Pretoria grootgeword waar sy pa ’n teater-voorportaalbestuurder was. Schoombie het aan al sy maatjies vertel dat sy pa vir hulle kaartjies vir enige vertoning wat hulle wou sien kon kry, maar hulle sou baie deftig moes aantrek. Die volgende dag het hulle sowaar opgedaag in hul beste Sondagdrag. Sy pa het natuurlik niks hiervan geweet nie, en Schoombie kan vandag nog onthou hoe sy maatjies in hul mooi klere daar teen die heining gestaan en wag het vir hul kaartjies. Hy het nooit joernalistiek geswot nie, het hy meegedeel, maar sy taalvaardighede het hy in die praktyk opgetel.

Schalk Schoombie en Leon Ferreira“Ek is baie lief vir bome,” het die skrywer vertel oor die sentrale element in die boek – ’n monsterboom wat nie ophou groei nie. Die navorser ontbied die hulp van ’n boomfluisteraar; op wie hy dan natuurlik verlief raak. “Daar was baie van haar,” het Salzwedel die beskrywing van die aardse figuur voorgelees, “Sy het die hele buurt opgevrolik”. Nog ’n motief in die boek is anonimiteit in ’n tyd wat almal geken wil wees; die navorser is behep daarmee om naamloos te wees, en in die proses vergeet hy sy eie naam.

Boomkastele besin oor medemenslikheid en ons verhoudings met ons bure, hoe jy jouself sien teenoor buurlande en groot moonthede – die persepsies wat ons van mekaar vorm. Die boek maak die leser ook bewus van hoe ons in die stad ook na aan die natuur is. “Vandat ek die boek geskryf het kan ek nie meer bome miskyk nie.”

Teen die einde van die aand het almal nog aan die Woord en Wingerd-verversings gesmul en die skrywer het eksemplare van sy boek geteken terwyl Salzwedel se voorspelling in die lugrym ge-eggo het: “Die pers kan my maar op rekord sit, ek dink ons gaan Boomkastele volgende jaar op ’n paar kortlyste sien.”

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:

 

 

* * * * * * * *

Facebook galery

http://nb.bookslive.co.za/blog/

Posted by NB-Uitgewers on Friday, 5 June 2015

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment