“Ek skryf al my boeke vir die leser in my” – Deon Meyer gesels oor Ikarus (Video)
Deon Meyer is sonder twyfel een van die gewildste Suid-Afrikaanse skrywers.
Indien jy na ‘n bewys vir hierdie stelling soek, kyk net na sy jongste prestasie: Wenner van die titel “Afrikaanse leesboek van die jaar” tydens vanjaar se Huisgenoot-Tempo-toekennings vir sy nuwe spanningsverhaal wat vroeër vanjaar verskyn het, Ikarus. Hy het verlede jaar die intreeprys in dié kategorie gewen vir Kobra.
LitNet het in April by die die Paarl-bekendstelling Meyer se gesprek met Isabeau Botha verfilm en op hul YouTube-kanaal gedeel. Gedurende die gesprek vertel die skrywer waar die titel en idee vir Ikarus vandaan kom, waarom hy nog altyd oor die wynbedryf en Stellenbosch wou skryf, hoe hy navorsing gedoen het vir hierdie verhaal en nog baie ander interessanthede oor sy skrywersbestaan en -proses.
“Ek skryf al my boeke vir die leser in my, want dit is die enigste leser wat ek ken. Mens kan nie ‘n boek skryf vir ‘n gesiglose, naamlose leser daar buite wie se smake en voorkeure jy nie ken nie. Alle skrywers skryf vir die leser binne hulself. Ons skryf boeke wat ons van sou gehou het om te lees, dan hoop ‘n mens maar net dat daar ander is wat jou smaak deel,” sê Meyer.
Kyk na die video om meer oor Ikarus en Meyer te wete te kom:

- Laai dit nie? Kyk op YouTube
Boekbesonderhede
- Ikarus deur Deon Meyer
Boek se tuisblad
EAN: 9780798169776
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Kobra deur Deon Meyer
Boek se tuisblad
EAN: 9780798165044
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment