Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Gestel nou maar net dit het gebeur?” – André Krüger gesels oor Komplot: Verwoerd moet dood

Corina van der Spoel en André Krüger

Ywerige lesers, skrywers, vriende en belangstellendes het verlede week by die Universiteit van Johannesburg byeen gekom om die bekendstelling van André Krüger se tweede roman, Komplot: Verwoerd moet dood, te vier. Krüger se debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek, is in 2013 bekroon met die UJ-prys vir die Beste Skeppende Debuutwerk.

Harry Kalmer en André KrügerKomplotCorina van der Spoel het met die skrywer gesels oor sy roman wat afspeel teen die agtergrond van die Spaanse Burgeroorlog. Komplot vertel die verhaal van Thomas Jacobs, ’n Suid-Afrikaanse anargis wat na die oorlog homself in Colesberg gaan vestig. Sy verlede haal hom egter in wanneer die Russiese intelligensiedienste hom werf om deel te wees van ‘n (onsuksesvolle) komplot om Hendrik Verwoerd te vermoor.

Thomas, wat dan Josep word in Spanje, is ‘n mynwerker in Suid-Afrika wat na Europa toe gaan om te veg teen fassisme en ‘n uitbuitende samelewing. Krüger het vertel dat die Spaanse Burgeroorlog twee ideologiese denkrigtings verteenwoordig, naamlik fassisme en kommunisme.

Al is die geskiedenis waarop alles rus dalk moeilik om te verstaan, is Komplot nie ‘n swaar boek om te lees nie. “Hy kry dit reg om ‘n klomp geskiedenis ligsaam te verweef,” het Van der Spoel aan die gehoor vertel. Die boek kom selfs met outeursnotas vir diegene wat na die lees daarvan meer wil uitvind oor daardie spesifieke tydperk. “Ek wil nooit my lesers se intelligensie onderskat nie, ‘n boek moet hul belangstelling prikkel,” het Krüger gesê.

Krüger hou daarvan om speletjies te speel en goed te plant wat die leser moet ontsyfer. Sy ouma se volle name is iewers in die boek versteek – “Ek wonder of iemand dit ooit gaan vind.”

Krüger het gevra of enigeiemand in die gehoor weet wie die joernalis in die boek, Eric Blair, eintlik is. Die naam George Orwell is dadelik uitgeroep, so asof hulle gewag het dat hy dit moes vra. Orwell het in 1936 in dieselfde oorlog geveg en later ‘n boek daaroor geskryf getiteld Homage to Catalonia. “Orwell was ‘n fenominale skrywer,” het Krüger gesê. “Hy het ideale gehad wat ek graag wil nastreef.” Een van hierdie ideale is om eenvoudig te skryf, het hy meegedeel.

Van der Spoel het die skrywer gepols oor die feit dat die leser vooraf alreeds weet dat die komplot teen Verwoerd nie suksesvol is nie. “Hoe bou ‘n skrywer spanning op as die uitkoms reeds bekend is?” Krüger hou daarvan om te vra, “Gestel nou maar net dit het gebeur?” Die boek lewer ook kommentaar oor die “morele en etiese relativering wat aan elke idealis vreet”. “‘n Ideologie kom nie van nêrens nie, dit kom êrens uit ‘n begeerte uit,” het hy gesê, “Josep begin nie as ‘n gewetenlose sluipmoordenaar nie.”

Spioene in die Koue Oorlog het almal geglo hulle doen die regte ding, het hy verduidelik. “Die mense in beheer gebruik die idealisme van die idealiste om goed te doen wat hulle nie eintlik sou doen nie.” Bykans al die karakters in sy boek verloor hul beginsels. “Ontgogeling is ‘n vreeslike ding vir ‘n idealis, dit verrig meer skade, verander jou meer.”

Van der Spoel wou weet wat die kraai op die voorblad simboliseer. Krüger het vertel dat hy by twee geleenthede kraaie teëgekom het en besef het dat hulle hoogs intelligente, mitologiese gediertes is. Hy het hierdie voëls op ‘n ander vlak ervaar, hulle was groot, intimiderend en glad nie bang vir ons nie. In drieduisend jaar se geskiedenis was kraaie nog altyd hier, het hy gesê.

Ten slotte het Krüger meer vertel oor die ruimte waarin die boek afspeel: “Colesberg was vir ‘n lang tyd die einde van beskawing – as jy nie van die wet en orde hou nie gaan jy oor die rivier.”

 

* * * * * * * *

Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die geleentheid met #livebooks getwiet:


 

Facebook galery

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment