Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Ek geniet dit verskriklik om ’n raaisel aanmekaar te sit” – Irma Venter by die bekendstelling van Skarlaken

Irma Venter

 
SkarlakenMens se oë wys dat jy dood is. Dat jy weg is. Die kleur syfer weg. Dis asof die vensters leeggestroop en toe is, die voordeur op knip getrek en gesluit, soos wanneer jy alles oppak en trek.

Irma Venter het Donderdag, 1 Oktober haar jongste spanningsroman, Skarlaken, by Exclusive Books Brooklyn in Pretoria bekendgestel.

Die skrywer en joernalis Marida Fitzpatrick het die gesprek met Venter gelei. “Ek beskou myself as hoogs intelligent,” het sy ter inleiding vertel. “Maar ek kon nie uitwerk wie die moordenaar is nie. Jy bly raai tot aan die einde, die ontknoping is verstommend!”

Skarlaken is die vierde boek in Venter se reeks spanningsverhale wat met die letter S begin – Skoenlapper, Skrapnel en Sondebok. Vir Skarlaken het Venter twee karakters uit haar vorige boeke gebruik – Jaap Reyneke die afgetrede polisieman en Sarah Fourie die kuberkraker. Sarah het voorgekom in haar debuut, Skoenlapper, en sy het versigtig te werk gegaan om nie nog ‘n Stieg Larsson-karakter te skep nie. Sarah is eerder geïnspireer deur Angelina Jolie se karakter in die rolprent Hackers, het Venter vertel en terselfdertyd die ouderdom van die gehoor vasgestel.

Irma Venter en Marida Fitzpatrick“Die rede hoekom jy ‘n kuberkraker in ‘n boek bekendstel is omdat jy ‘n karakter het wat dit nie self kan doen nie,” het Venter verder verduidelik. In Skarlaken span Jaap Sarah se hulp in om die dood van sy niggie op te los. Janien Steyn, ‘n belowende kunstenaar, is drie jaar vantevore op geheimsinnige wyse oorlede en almal behalwe Jaap is oortuig dat sy óf selfmoord gepleeg het, óf deur ‘n dwelmverslaafde vreemdeling vermoor is.

Sarah vind egter dat Janien haar geheime goed weg gesteek het, en al is haar rekenaar se geheue skoon gevee kry sy dit reg om die ander Janien via haar elektroniese kommunikasie te leer ken.

Venter het vertel dat Jaap en Sarah perfek by mekaar pas – sy is “jonk en eiewys” en meng haar taal; hy is oud en “leef op ‘n ander vlak”. Dit sorg vir ‘n interessante interaksie tussen die twee karakters wat ook afwisselend as vertellers optree.

Fitzpatrick het die skrywer gepols oor die groot temas in die boek – tegnologie en kuns. Skarlaken speel af teen die agtergrond van die oprigting van die SKA-teleskoop in Carnavon in die Noord-Kaap, en die foto’s van Janien se dood herhinner Jaap aan ‘n kunswerk wat hy net nie kan plaas nie. Dan is daar ook ‘n kunstenaar wat maskers maak van mense se DNS.

Venter skryf gereeld oor tegnologie vir haar werk by Engineering News en het ook ‘n groot belangstelling in kuns. Skarlaken is geïnspireer deur die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se installasiekuns wat sy een jaar op Aardklop beleef het – ‘n rooi pen wat merke maak oor ‘n kaart van Afrika. Net daar en dan het die storie vorm aangeneem in haar kop.

So wat het die kleur rooi, ‘n radioteleskoopprojek, DNS-maskers en kuns met Janien se dood te doen? Lees Skarlaken en vind self uit!

“Ek geniet dit verskriklik om ‘n raaisel aanmekaar te sit,” het Venter vertel. Sy hou daarvan om te probeer verstaan hoe haar karakters se koppe werk en hoekom skynbaar gewone mense tot bose dade in staat is. “Daar is altyd iets wat ons wegsteek wat ons nie wil hê mense moet weet nie. Wat as daai iets lei tot moord?”

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het vanaf die bekendstelling met die hutshekkie, #livebooks, getwiet:


 

 

* * * * * * * *

 
Facebook galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment