Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Die geheime wat ons hou haal ons altyd in” – Irma Venter gesels oor Skarlaken

Irma Venter

 
SkarlakenAs jy eers begin het om Irma Venter se jongste spanningsroman Skarlaken te lees, sal jy dit nie weer kan neersit nie.

Die storie begin op ‘n plaas in Carnarvon in die Noord-Kaap, waar ‘n jong kunstenaar Janien Steyn een aand spoorloos verdwyn en op geheimsinnige wyse sterf. Janien se oom, Jaap Reyneke, is ‘n afgetrede polisieman wat elke jaar terug keer na die plaas om weer die saak te probeer oplos. Drie jaar later ontbied hy die hulp van Sarah Fourie, ‘n kuberkraker wat Venter reeds in haar debuut Skoenlapper aan lesers bekendgestel het.

Sarah kry dit reg om van Janien se diepste geheime op te spoor en vind ‘n ander wêreld waarvan haar familie nooit bewus was nie.

Skarlaken bewys net weer: Irma Venter is wêreldklas,” het Deon Meyer gesê oor die vierde boek in Venter se reeks wat met die letter S begin.
 

SondebokSkrapnelSkoenlapper

 
Lees Books LIVE se onderhoud met die skrywer oor dié opwindende roman:

* * * * * * * *

 
Waar het die idee vir Skarlaken vandaan gekom?

Ek was by die Aardklop kunstefees en het die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se uitstalling bygewoon. Dit was regtig uitsonderlik. Daar was hierdie een installasie waar – as ek reg onthou – ‘n rooi pen strepe oor ‘n kaart getrek het, aangedryf deur die wind. En dis waar Skarlaken gebore is.

My volgende boek moes eintlik aan een van my ander karakters, Adriana, behoort het, maar die idee vir Skarlaken het hardkoppig bly klou en toe gee ek maar in.

Wat beteken die twee motto’s voor in die boek?

Dance, when you’re broken open.
Dance, if you’ve torn the bandage off.
Dance in the middle of the fighting.
Dance in your blood.
Dance when you’re perfectly free.

- Rumi, vertaal deur Coleman Barks met John Moyne

Here at the frontier there are falling leaves.
Although my neighbors are all barbarians,
And you, you are a thousand miles away,
There are always two cups at my table.

- Tang-gesegde

Die motto’s in my boeke is elke keer ‘n aanduiding van die vonk wat die storie dryf. Dit verwys meestal na een van die koofkarakters se innerlike krisis. In hierdie geval is dit Janien. Ek dink altyd aan die slagoffer as een van die hoofkarakters. Die ganse boek is tog eintlik ‘n in-diepte kykie na hulle lewe, nie waar nie? Die motto’s in Skarlaken spreek van Janien se begeerte om haarself te wees. Dit kommunikeer ‘n behoefte wat sy nog nie self kan uitspreek nie.

Hoe het jy besluit watter dele word deur Jaap en watter dele word deur Sarah vertel?

Sarah en Jaap het elkeen hulle eie manier van dinge doen. Sarah is menssku, jonk en goed met rekenaars en Jaap is ouer, beter met mense, deegliker en meer sorgsaam.

Ek dink mens kan baie plesier daar uit put om ‘n storie te lees van ‘n buitestaander wat in kyk en vertel hoe hulle die omgewing of gebeure ervaar. Dit breek ook die situasie oop en maak dat mens nuut daarna kan kyk – wat nogal belangrik is as jy oor ‘n ou polisiesaak skryf. Ek het byvoorbeeld vir stadsjapie Sarah toegelaat om die plaaslewe waar te neem en vir Jaap om te kyk hoe Sarah met mense werk. Dit het ook vermaaklikheidswaarde. Soms kon ek so skryf dat Jaap en Sarah elk vanuit hulle eie hoek na dieselfde situasie kyk, wat die leser toelaat om te besluit met watter uiteenlopende standpunt hulle sou assosieer.

Ek wou Jaap en Sarah ook toelaat om met hulle sterkpunte te spog, sodat mens ten minste aan een van hulle verknog kan raak. Ek wil hê lesers moet iets voel vir my karakters – apatie is ontoelaatbaar.

Natuurlik wissel ek die vertellers ook af om spanning te skep.

Hoe het jy jou navorsing aangepak, veral met betrekking tot DNS-toetsing in Suid-Afrika en die internasionale kunswêreld?

Ek het as joernalis al verskeie artikels oor DNS geskryf. Ek skryf gereeld artikels oor die wetenskap, tegnologie en industriele ekonomie.

Die artikels wat my in Skarlaken geinspireer het was oor The DNA Project, wat poog om ‘n omvattende DNS-databasis daar te stel vir die SAPD.

Die artikel oor DNS-kuns het ek toevallig raakgelees, en toe kon ek nie die versoeking weerstaan om kuns en tegnologie so knus teenmekaar te stel nie, om Jaap en Sarah se koue saak met altwee van hierdie aspekte aan te por nie.

Ek besef al hoe meer dat skrywers wyd en baie moet lees – beslis nie net boeke in hulle genre nie. Ek weet bittermin van kuns, maar vind dit baie interessant, veral beeldhouwerk. Dis heerlik om te sien hoe talentvolle mense na die wereld kyk, so ek besoek gereeld kunsuitstallings.

Teen bladsy 113 is almal ’n verdagte, en daar is heelwat leidrade in die boek wat die leser om die bos lei. Hoe skep jy ’n goeie raaisel?

Ek probeer om drie verdagtes te skep, elk met ’n goeie motief. Ek weet self baie keer nie wie die skuldige is nie, tot so om en by die laaste 50 bladsye. En as ek nie weet nie, gaan die leser nie weet nie.

Wat is die een kerngedagte waarom die storie draai?

Soos Sarah se: Die geheime wat ons hou haal ons altyd in, en elkeen van ons het ten minste een geheim.

Wanneer skryf jy? Hoe lyk jou roetine?

Ek skryf baie vroeg in die oggende, aangesien ek voltyds werk. Ek skryf so 500 tot 800 woorde ‘n dag, al is ek soms nie lus nie. Die storie raak naderhand so groot dit draf op sy eie. En as mens 40 000 woorde geskryf het kan jy net so wel klaarmaak.

Die eerste skryf is heerlik, die eerste herskryf baie harde werk.

Sondae rus ek gewoonlik.

Ek skryf ook gereeld op lughawens, busse en treine. Wagtyd het skryftyd geword.

Deon Meyer noem jou “wêreldklas” – hoe voel jy daaroor?

Deon ken my van geen kant af nie, so dit was werklik gaaf van hom om Skarlaken te lees en daai wonderlike kommentaar te gee. Ek is baie dankbaar dat hy die tyd neem om skrywers op hierdie manier te ondersteun. Ek kon nie vir ‘n beter aanhaling gevra het nie. Baie dankie, Deon!

Wanneer gaan jy jou boeke laat vertaal en aan ’n internasionale gehoor voorlê?

Elsa Silke het sopas ‘n uitstekende Engelse vertaling van Skoenlapper, my eerste boek, afgehandel. NB Uitgewers is nou op soek na ‘n uitgewer wat sou belangstel om die boek te publiseer. Vra my weer oor ‘n jaar. Dalk het daar dan ‘n wonderwerk gebeur of gaan klop ek self aan ‘n paar deure.

 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment