Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Lees ’n uittreksel uit Koukonap deur Johann Botha

KoukonapKoukonap deur Johann Botha verskyn eersdaags op Queillerie se rakke:

Dit is die middel van die twintigste eeu. Net soos die Vaalrivier in vloed die dorpie Koukonap bedreig, bly die Fourie-gesin se lewens ook nie onaangeraak deur groter kragte nie.

Lood en Lenie het hulle teësinnig hier kom vestig. Daar is hul seun Dries, gedurig in sy kano die rivier aan’t verken, en sy twee broers. Ênie Malmok en Japie Tarentaal van die Breipaal-lokasie. Oupa Sarel, wat dalk net ʼn regte, egte Boereheld was. Die Davels oorkant die draad. Dik Dawid Daneel en Mank Manie Wolmarans en neef Boet Viljoen wat doedelsak speel in die kroeg … die doen en late van gewone dog fassinerende mense, van die dorp se hoëlui tot die nagwadrywers, word met humor, begrip en soms snydende ironie ʼn werklikheid wat jou sal bybly.

Hierdie verrassende, veelkantige roman ontgin die Noord-Kaapse landskap en geskiedenis, en so ook die kringloop van die lewe. Koukonap rig aan die leser die uitdaging: Klim in die kano en roei saam. Maar wees gewaarsku – die stroom kan jou lei na ʼn maalkolk!

Oor die outeur

Johann Botha het op Douglas skoolgegaan en aan die US studeer. Hy werk daarna as joernalis, dosent en bemarkingshoof van Nasionale Parke. Hy sluit sy loopbaan af by Die Burger. Met Koukonap onderbreek hy ʼn skryfstilte van byna twee dekades. Sy vroeë bundel verhale, getiteld Groot vyf, is met die Eugène Maraisprys bekroon.

Lees ‘n uittreksel uit Koukonap:

Dries Fourie en Jason Malmok is min of meer portuurs en gaan in dieselfde jaar skool toe, maar nie na dieselfde skool nie. Jason gaan na die lokasieskool in Breipaal vir die distrik se bruin kinders, hoofsaaklik Griekwas. Dis ’n interessante versameling kleingoed, van herkoms Nama en Koranna met ’n bietjie Boesman en verdere bydraes uit Europa en Afrika. Sommige van die kleintjies is donkerder as die tipiese geelbruin; ander vertoon sproetjies, blou oë of ’n rooi skynsel in die hare.

Dries gaan na Koukonap Hoër, die dorpskool vir die omgewing se wit kinders. Hier is die mengsel grotendeels Europees van herkoms, die bruin meestal sonbruin. Daar is egter ook tekens van die groep se verblyf van meer as drie eeue in Afrika. Van die kleinspan neig van nature na die blas kant met hare wat krinkel.

Daarvan word nie gepraat nie. In elk geval nie openlik nie. Wel soms na skool op die speelterrein. Daar lei dit partykeer tot onderonsies. Dan is daar nog ’n derde skool. Bongani is die woonbuurt op die bult oorkant die stasie vir die omgewing se swart mense, veral Tswana en ’n bietjie Xhosa. Hoewel die swart eintlik skakerings van bruin is en bepaald nie uniform nie. Duidelik was ’n mengsel van genetiese invloede ook uit die ander twee groepe hier werksaam.

Die voertaal in al drie skole is Afrikaans. Koukonap is dalk die Afrikaansste dorp in die hele wêreld. Almal praat Afrikaans, selfs die dorp se Engelse. Die aard en gehalte van die onderwys verskil egter, omdat die skole onder drie verskillende departemente val.

Die Kaapse Onderwysdepartement sorg vir Koukonap Hoër. On derwys in Breipaal val onder Kleurlingsake. Bongani se kleintjies kry Bantoe-Onderwys.

Van hierdie ingewikkeldhede is Dries, en na hom Karel en Theunie, onbewus. Die dorp waarin hulle grootword, is ’n dorp waarin wit mense woon. Bruin mense en swart mense kom die dorp binne om in die huise en tuine en kantore te werk. Na werk verdwyn hulle op ’n doodnormale, vanselfsprekende manier. Nege-uur die aand lui daar ’n sirene. Dis die aandklok. Dan mag daar geen mens van kleur sonder ’n pas van die landdros meer in die dorp wees nie.

Teen die tyd dat hy skool toe gaan, aanvaar Dries dat die dorp se mense nie skroom om hul werkers kaffers en hotnots te noem en self as baas of miesies aangespreek te word nie. Dis maar hoe dit is. Sy onderonsie met Jason was vir hom dus ’n skok. Eintlik hou hy nogal van Jason. Dat Jason dalk nie ’n hotnot wil wees nie, of genoem wil wees nie, het nie vantevore by hom opgekom nie. Maak dit regtig saak as Jason nie vir hom kleinbaas wil sê nie?

Van een ding is hy vas oortuig, maak nie saak wie wat daarvan sê nie. Jason se ma, Ênie Malmok, die Fouries van Koukonap se Ênie Malmok, is beslis nie ’n hotnot nie. Nie Ênie nie.

Aan sulke kwessies dink Dries net in die verbygaan. Die lewe is vol veel belangriker dinge. Een van daardie dinge is die feit dat ’n mens moet skool toe gaan. Of dit ’n goeie of sukkelende skool is; of dit ’n bevoorregte wit skool is of bloot ’n tipiese plattelandse skool wat na die beste van sy vermoë sy gemeenskap probeer dien – dit alles val buite Dries se verwysingsveld. Skool is skool.

Volgens die dorp se persepsie is Koukonap Hoër ’n mekka van onderwys in die Noord-Kaap. Die skoolhoof spog met ’n BEd van Bloemfontein en die geskiedenis-onderwyser het ’n MA van Stellenbosch.

Dis ’n gekombineerde laer- en hoërskool wat leerlinge van sub A tot matriek huisves, in ’n baie goeie jaar dalk by die vyfhonderd kinders. Selfs die haasbekkies, vir wie Sus en Daan leer lees nog Grieks is, leer om Maandagoggend uit volle bors saam te sing as die saalbyeenkoms afgesluit word met die skoollied:

Ken jul reeds vir Kouk’nap Ho-ho-her
Langs die bos-omsoomde Vaal
Waar die do-ring-bo-me wagstaan …

Dries het uitgewerk hy het altesaam, van dag een tot hy twaalf jaar later die laaste vak van die eindeksamen afgelê het, meer as twaalfduisend uur op Koukonap se skoolbanke deurgebring. Op die keper beskou het min van daardie ure, terwyl die son buite oor die skool se dak beweeg en die peperbome op die speelterrein se lang skaduwees krimp en stadig weer begin rek, in sy herinnering bly steek.

Van sy vroeë skooljare onthou hy – wat? Hoe hy met ’n griffie, ’n lei en ’n klam lappie leer skryf het. Dat spelling belangrik en lees ’n openbaring was. Hoe mevrou Van Rheede somme met ’n liniaal oor die kneukels gekorrigeer en verseker het dat die maal-tafels uit die kop geleer word.

In die somer het die skool vroeër begin om die middag se ergste hitte vry te spring. Dan het die seuns net ’n hemp en kortbroek aangetrek en kaalvoet skool toe gegaan. Wintersoggende was die wêreld wit geryp en die emmer water onder die kraan by die agterdeur met ’n dik yslaag bedek. Op pad skool toe het jou asem wolkies in die lug geblaas en in die klaskamer moes jy eers jou stram vingers voor die swart stofie ontdooi voordat jy kon skryf.

Speeltyd het die kinders van die dorp hul kosblikkies of toebroodjies in waspapier saamgevat na die speelterrein. Van die arm kinders van Die Erwe het nooit skoolkos saamgebring nie, maar kon met hul blikbekers in die tou val by die groot ysterbalie waarin oom Koos Potgieter, bygenaamd oom Koos Pot, in die winter sop of melk warm gemaak het.

Dries het op ’n dag besef dat party kinders op ’n gegewe dag nie veel meer as dit te ete sou kry nie. Dit was die dag toe Faan Spengler, die klasboelie, vir Koenie Horn uit die sopry gestamp het.

“Moenie so ’n donnerse vraat wees nie,” het hy gesê. Nog ’n stamp. “Weg is jy. Ander wil ook hê.”

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment