Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Rooi Rose Kuierkos deur Vickie de Beer – want kuier is immers lekker (Plus: Twee heerlike resepte)

Rooi Rose KuierkosRooi Rose Kuierkos, saamgestel deur Vickie de Beer, is nou beskikbaar by Human & Rousseau:

In Kuierkos kuier ons saam met ons hartsmense – familie en vriende. Ons hou familiefeeste en vier Moedersdag en hou ‘n fyn tee vir ouma, want so word ons herinner aan waar ons vandaan kom. Kuier saam met vriende is ook hoog op die prioriteitslys te wees, want wat is nou lekkerder as om ‘n sop-opskop te hou, te braai of sommer net te gaan piekniek hou? Sluit ook die jaar op ‘n gepaste noot of: Hou Kersfees saam met oud en jonk. Want kuier is immers lekker.

Oor die samesteller

Vickie de Beer is die afgelope 13 jaar die kosredakteur van Rooi Rose, maar haar liefde vir kook kom van haar ma af.

 

* * * * * * * *

 
Probeer gerus die volgende twee resepte uit Kuierkos:

Pizza

Die lekkerste manier van kuier: Sit die pizza in die middel van die tafel en laat elkeen stukke afbreek en smul.

Genoeg vir 6

gekaramelliseerde uitjies
20 piekeluitjies geskil
10 salotte, geskil (of nog uitjies as jy nie kan kry nie)
2 knoffelbolle, punte afgesny sodat die huisies oop is
8 tiemietakkies
150 g botter, in blokkies gesny
45 ml olyfolie

basis
500 g meel
10 g kitsgis
5 ml sout
375 ml water
15 ml vinkelsaad
15 ml winterspeserymengsel, opsioneel (resep heel regs)
45 ml olyfolie
15 ml knoffel, fyngekap
60 ml dennepitte of sonneblomsaad, gerooster, vir opdiening
125 ml crème fraîche, vir opdiening
oreganumtakkies, vir opdiening tiemietakkies, vir opdiening

gekaramelliseerde uitjies
1. Voorverhit die oond tot 160 °C.
2. Sit die uie, knoffel, tiemie en botter in ’n oondpan. Besprinkel
met olyfolie en rooster vir 45 min. of
tot sag en gekaramelliseer.

basis
3. Meng die meel, gis en sout met die hand of met ’n spaan in die bak van ’n staanmenger. Voeg die water stadig by en meng vir 3-5 min. teen ’n stadige spoed tot die deeg bymekaarkom. Meng vir nog sowat 4 min.
4. Bedek met ’n vadoek en laat rus vir 30 min. of tot dit tot dubbel die grootte gerys het.
5. Verhoog die oond se temperatuur tot 210 °C en sit ’n bakplaat daarin om warm te word. Verdeel die deeg in 2, rol liggies uit en strooi vinkelsaad en die speserymengsel oor. Rol sodat die speserye in die deeg vassit en rol dan dun uit.
6. Meng die olyfolie en knoffel en verf aan die deeg.
7. Sit die deeg op die warm bakplaat en bak vir 15-20 minute tot goudbruin.
8. Druk die sagte knoffel uit die huisies en meng met die crème fraîche.
9. Rangskik die uitjies op die basis, gevolg deur die dennepitte, en skep groot eetlepels van die knoffel-crème fraîche daarop. Rangskik heel laaste oreganum- en tiemietakkies bo-op.

winterspesery- mengsel

Maak hierdie geurige speserymengsel en bêre dit in die yskas. Ek gebruik dit ook om bredies te geur.

Maak 250 ml

45 ml koljander
30 ml vinkel
15 ml komyn
15 ml mosterdsaad
6 kardemompeule
2 heel naeltjies
10 ml swartpeper
15 ml knoffel, fyngekap
1 brandrissie, vliesies en pitjies verwyder (opsioneel)
4 lourierblare, gekrummel
15 ml bruinsuiker

1. Rooster die koljander, vinkel, komyn, mosterdsaad, kardemompeule en naeltjies vir 3-4 min. oor hoë hitte in
’n braaipan.
2. Stamp fyn met ’n stamper en vysel.
3. Meng die swartpeper, knoffel, rissie, lourierblare en suiker in.
4. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas.

’n Lekker laaang bruschetta

Sit dié lang bruschettas voor met ’n verskeidenheid bolae, Parmaham en ander kouevleise sodat almal hulself kan help.

Genoeg vir 6

2 baguettes
2 knoffelhuisies, gekneus
80 ml olyfolie

1. Voorverhit die oond tot 220 °C.
2. Sny die baguettes in die lengte middeldeur, smeer met knoffel en verf olyfolie aan die binnekante.
3. Rooster vir 5-8 min. of tot goudbruin en bros.

gemarineerde dun groenboontjies

Genoeg vir 6

200 g dun groenboontjies
250 ml olyf- of avokado-olie
60 ml witwynasyn
15 ml Dijonmosterd
1 knoffelhuisie, fyngekap
5 ml heuning
2 hande vol pietersielie, fyngekap
60 ml dennepitte of sonneblomsaad, gerooster

1. Kook die groenbone vir 2-3 min. in soutwater.
2. Dreineer, dompel in yswater en dreineer weer. Skep in ’n skoon glasbak.
3. Meng die olie, witwynasyn, mosterd, knoffel, heuning, pietersielie en dennepitte en sprinkel oor die groenbone.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment