Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Vier besonderse romans om hierdie langnaweek te lees

‘n Vakansiedag beteken een ding vir lesers: die kans om heeldag met ‘n boek uit te span.

Die vierdae-lange langnaweek wat voorlê gun boekliefhebbers dus die wonderlike geleentheid om nie net een nie, maar víér boeke te kan verslind.

Die volgende vier romans hoort jou heel naweek besig te hou. Geniet.

AgaatAgaat
Marlene van Niekerk

Agaat speel af in die periode 1946 tot 1996 en handel oor die lotgevalle van vier mense op ’n plaas in die distrik van Swellendam. Die verhaal ontvou aan die hand van die verteller, Milla de Wet (née Redelinghuys), waar sy op haar sterfbed probeer sin maak van haar lewe as “oorsprong” van die lotgevalle op ’n familieplaas.
 

Milla, as een-en-twintigjarige erfgenaam van die plaas Grootmoedersdrif, is idealisties. Jak de Wet, aantreklik en spitsvondig, is die man wat sy as lewensgenoot kies om saam met haar ’n model van gemengde boerdery op haar erfgrond aan die Kliprivier onder die Langeberge tot stand te bring. Maar daar is ook Asgat: ’n gebreklike en mishandelde bruin dogtertjie van vyf jaar wat sy anderkant die Tradouw op haar ma se plaas “steel”, en wat sy met ’n streng en liefdevolle hand rehabiliteer en opvoed het by die lig wat sy het. Jakkie, haar eie seun, word sewe jaar ná die aanneem van Asgat gebore – die langverwagte erfgenaam van die familieplaas Grootmoedersdrift.

Die roman openbaar ’n reeks lewensbepalende verskuiwings van mag en nood tussen hierdie vier intiem verbonde mense: Milla, in wese ’n afhanklike, obsessiewe en melankoliese vrou, word op gruwelike wyse ontnugter in haar huwelik. Asgat word herdoop tot Agaat en op dertienjarige leeftyd met die geboorte van Jakkie gedemoveer tot kinderbediende, en in die buitekamer hervestig vanwaar sy die huishouding en die boerdery van Grootmoedersdrift op toenemend tiranieke wyse beheer. Jak herken homself oor die jare met stygende verontwaardiging as die slagoffer van niksontsiende manipulasie deur die twee vroue van die huis. Jakkie, aanvanklik meer Agaat se kind as sy ma s’n, en later meer sy pa se kind Agaat s’n, word ’n vegvlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag en verlaat uiteindelik die land as politieke vlugteling tydens die nadraai van die oorlog in Angola om in Kanada heenkome te soek en homself te herskool as etnomusikoloog.

Hierdie geskiedenis word onthul terwyl Milla – verlam en van spraak ontneem deur motorneuronsiekte – versorg word deur die diep bedroefde, maar ook wraaksugtige Agaat, nou in haar middeljare. Agaat is die een wat Milla se dagboeke opdiep en berekende seleksies aan die siek vrou voorlees. Sy word op die manier ’n belanghebbende middelaar van Milla se poging tot selfbegrip terwyl sy haar eie lewensloop as aangenome kind, later huisbediende en uiteindelik as sterwensbegeleider van haar “moeder” aan haarself repeteer.

Watter insigte verwerf hierdie twee vroue in mekaar se skuld en onskuld? Watter soort vergifnis en selfvergifnis kan hulle vir mekaar bied? Watter vreemde gedaantes kan die rou om verliese en die berou om oortredings van die verlede aanneem? Hoe moet daar afskeid geneem en gesterwe word? Deur watter soort genade? Wat is die ware aard van wat mens so maklik “liefde” en “sorg” noem? Hoeveel teerheid kan veroorloof en verdra word deur die steeds reeds geskonde self? Hoeseer is elke mens die skepping van die intieme naaste se verlangens? Dít is die vrae wat aan bod kom in hierdie ontstemmende plaasroman.

Dit is ’n boek wat die “treurwerk” en die poging tot verledetydsbemagtiging van ’n hele generasie van landelike Suid-Afrikaners onder woorde wil bring en in die proses ook indringende perspektiewe open sowel oor die verantwoordelikheid en die noodwendige feile van die geheue, as oor die prekêre en twyfelagtige aard van die skryfdaad ten opsigte van ’n beroerde verlede en ’n onsekere toekoms in hierdie land. Die leser word deur hierdie teks verlei tot ’n leesavontuur in die uiterste grensgebiede van intimiteit, liefde, geweld en dood.

Die Silberstein-trilogie

Die Silberstein-trilogie
Etienne Leroux

’n Welkome heruitgawe van Leroux se trilogie wat die romans Sewe dae by die Silbersteins (1962), Een vir Azazel (1964) en Die derde oog (1966) insluit. Dit is romans wat in Suid-Afrika en die buiteland hoog aangeslaan is. Nie net het die afsonderlike romans destyds in Brittanje en Amerika (en elders) aandag getrek nie, maar Penguin het ook in 1972 in hul Modern Classics-reeks die trilogie uitgegee onder die titel To a Dubious Salvation(’n heruitgawe het in 1985 gevolg).

Die eerste roman is ’n verslag van Henry van Eeden se weeklange besoek aan die Silbersteins se groot landgoed om Salome, sy toekomstige bruid, te ontmoet. Elke dag lewer bisarre ervarings op en dit word vir Henry ’n inisiasieproses: hy moet sy onskuld verloor en kennismaak met die verweefdheid van die goeie en die bose.

Op die oog af is Een vir Azazel ’n speurroman waar ’n moord opgelos moet word, maar dit gaan ook oor die mens se behoefte aan ’n sondebok: Die agterdog wat opbou en fokus op die Reus Adam Kadmon, ’n verstandelik vertraagde jongman, lei tot ’n tragedie – een van die aangrypendste tonele in die Afrikaanse letterkunde. In die laaste roman moet kaptein Demosthenes H de Goede die magnaat Boris Gudenov opspoor.

Die boek van toeval en toeverlaatDie Boek van Toeval en Toeverlaat
Ingrid Winterbach

Helena Verbloem, leksikograaf van beroep, gaan na Durban as projek-assistent van ’n man wat alle woorde byeen probeer bring wat in onbruik geraak het in Afrikaans. Dan word daar by haar tuinwoonstel ingebreek en haar geliefde skulpe word gesteel.

Die verhaal ontvou rondom die soektog na die gesteelde skulpe. Hierdie soeke raak verweef en verstrengel met die taalbewaringsprojek, die mense wat sy daar leer ken en met haar algemene besinning oor haar lewe – herinneringe aan haar familie, verlore minnaars en liefdes, verliese wat sy gely het. Ek weet wat ’n terapeut sal sê. Agter elke verlies lê ’n vroeër verlies.

Die verlies van my skulpe is ’n voorwendsel (’n jakkalsdraai, ’n verbloeming en bewimpeling) ’n poging van die geslepe psige om die vroeër, pynlike verlies te verdoesel. Dié woorde van die self-ironiserende verteller in hierdie fassinerende roman raak twee van die belangrikste temas aan: verlies en verbloeming.

DonkermaanDonkermaan
André P. Brink

Ruben Olivier se lewe is besig om uitmekaar te val. Sy vrou is dood. Die biblioteek wat die passie van sy lewe was, het hom ‘n pakket aangebied om plek te maak vir ‘n jong swart opvolger. Een van sy seuns het klaar die land verlaat en die tweede staan op vertrek. Sy beste vriend is sinneloos vermoor.

Sy hede word deur drie figure oorheers.

Daar is sy huishoudster, Magrieta, wat hom nie toelaat om te vergeet van die werklike wereld rondom sy soliede ou huis in Nuweland nie. Daar is Antje van Bengale, ‘n jong slawemeisie wat drie eeue gelede tereggestel is en nou nog in die huis bly spook. En dan is daar Tessa, wat een nag uit die reen opdaag op soek na blyplek en soos ‘n donker maan die landskap van sy lewe belig met die teenstrydige onthullinge uit haar verlede en die uitdaging van haar troebel seksualiteit.

Book details

 

 

 

 

Please register or log in to comment