Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Lees ’n uittreksel van Lloyd Zandberg se spitsvondige debuut kortverhaalbundel Per Ongeluk

Lloyd Zandberg is ‘n opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse satire.

Kyk één keer deur sy oë na die lewe, en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie versameling kortverhale bied ‘n histeriese kykie op alledaagse situasies: ‘n tango-les in die platteland; die tannie “so eenvoudig soos ‘n ses-stuk legkaart”; ‘n besoek aan ‘n tandarts en sy assistent met wie hy meer as net ‘n spreekkamer deel.

Zandberg se debuut is ‘n boek vol deernis en humor, met vriendelike gebruiksaanwysings vir mense wat nie so goed lees nie.

Uittreksel uit “Inkopies”, ’n kortverhaal wat verskyn in Lloyd Zandberg se debuutbundel, Per ongeluk (Tafelberg, 2017).

Ek het al in my lewe geskenke gekry wat my laat bloos het vir maande aaneen, sielkundige toe gestuur het of net lelik laat laster het. Een jaar het ek by ’n vriend van my ’n springtou en ’n aero- bics manual gekry. Ek weet presies wat hy wou sê, maar dit was onnodig, hoewel my eating disorder geen staatsgeheim was nie.

Ouma, aan die ander kant, was briljant met die koop van geskenke. Dit was asof sy jou met R50 kom opsom. Elkeen in die familie het altyd iets kleins gekry, maar dit was elke keer in die kol. Tot die honde, katte, budgies, rotte, hamsters en vissie kry geskenke. Sy het nooit gemors gekoop nie.

Deur die jaar het sy al idees bymekaar begin gooi, en vroeg in November het sy oorgegaan tot aksie. Die geskenkkoopses- sies was gewoonlik ’n hele dag se storie.

So loop ek en Ouma die winkelrakke deur terwyl Bles Bridges ons in die agtergrond vermaak met sy musiek. Ek sê nou maar musiek, want dit speel oor ’n speaker, maar ek weet nie of dit as musiek geklassifiseer kan word nie. Bles moes liewer kyk na ’n modeling career of professioneel dans, want sy nommers maak my ongemaklik. Maar ek en Ouma gee Bles die benefit of the doubt en gaan aan met ons soeke na elkeen se geskenke.

Op daardie stadium het ons al vier-en-sestig Krismis-crack- ers teen ’n onverbeterbare prys gekoop. Daar is net agtien van ons, maar Krismis-crackers hou mos.
’n Paar minute later is ons in die afdeling vir persoonlike higiëne en ons staan voor die rak met die shampoo en con- ditioners. My ouma trek ’n bottel bubblebath vir my ma van die rak af en lees die label agterop. Dit is toe dat ’n vrou met liggaamsdele waarvan sy nie weet nie naderstap en my op die skouer tik.

“Waar kry jy die crackers?” vra sy.

Ek skrik, want skielik sien ek ’n deel van haar waarvan sy blykbaar onbewus is. Party mense noem dit ’n suikerpens. Die vrou wys met so ’n vienna-vinger na my ouma, wat met die mid- night blue bubblebath staan.

“Is dit jou ma?” vra sy.

“Nee,” sê ek, “dit is my ouma. En sy is kwaai.”

Ouma het aanbeweeg, sy is nie hier vir geselsies maak nie. “Sjoe,” sê die vrou, “sy is so jonk. Mevrou, jy is pragtig.” “Dankie en geseënde Kersfees vir jou,” sê Ouma, haar aan-
dag nou afgetrek deur ’n nuwe ekseemroom wat net vir my ouer broer se Kerskous bedoel kan wees.

Ek vra toe vir haar of sy bewus is van daai stuk wat so hang.

“Nee,” sê sy, “waarvan praat jy?”

“Daar hang iets onder jou bloes waarvan jy nie weet nie.” “O, my pensie,” sê sy en vat aan haar maag waar dit op die trollie rus.

“Dit is tannie se tupperware, my maag stoor alles daar wat te veel is,” lag sy asof sy in ’n advertensie vir haar maag speel. “As die oorlog kom, het ek genoeg rantsoen, my pens weet mos nie wat môre gebeur nie.”

My ouma loop ’n ent verder en ek bly staan en verkyk my aan die tannie wat sukkel om ’n koekie seep van die boonste rak af te haal. Dit is toe dat haar man om die draai kom met ’n slaapsak in sy regterhand en onder sy linkerarm knyp hy ’n kleinerige gasbottel vas, soos een wat wil steel. Ek kan sien hy het groot planne wat haar nie betrek nie. Sy weet dit net nog nie.

Ouma waai vir my dat ek moet kom. Sy wil weet of my suster se voete sal pas in die voetbadjie wat sy vashou. Ouma se trollie is al vol familie. Ek sien elkeen se gesig. Bles Bridges se “Reik na die sterre” begin speel.

Maar heeltyd hou ek vir Tupperware en Cadac dop. “My maggies, ons troulied!” sê Tupperware vir Cadac. “I’ll be damned,” sê ek.

“Moenie so staar nie,” sê Ouma.

Ek kan my oë nie glo nie. Die twee staan en langarm soos mense by ’n wildsfees – heel van ritme af en asof hulle gedwing word. Ek staan nader aan Ouma, want ek is bang. Nes Bles die chorus vir ’n tweede keer begin sing, skree iemand kliphard daar aan die ander kant van die winkel.

Ek dog nog daar is ’n special op brandewyn of Coke of iets en begin al Ouma se waentjie omdraai. Maar toe sien ek die man met die pistool. Hy sê op ’n dringende toon dat ons almal op die vloer moet lê. Dit lyk asof hy dit bedoel. Hy het daai uitdrukking op sy gesig van iemand wat nou ’n toilet nodig het.

’n Mens glo mos maar eerder so ’n persoon.

Ek gryp Ouma se hand en vra haar of hulle ernstig is. Sy kyk my net aan en ons albei besef dis nie speletjies nie. Ek en sy val soos slap kak op die vloer, maar Tupperware en die man gaan aan asof hulle van niks weet nie. Hulle dans so dat dit amper vir my mooi is.

ek reik na die sterre niks is ooit vir my te ver nie liefde
in my lewe laat my ook op plekke swewe iets om na te
strewe want dit is my hele lewe
ek wil aan jou vertel, maar ek dink tog jy weet dit wel jy is
my lewe


“Julle moet loop lê!” sis ek.

“Net op ons anniversary,” sê Tupperware.

“Jammer om te hoor, maar hulle gaan ons skiet,” sê ek.

“Ek was in die army,” sê Cadac. “Julle moet kalm bly, hierdie amateurs het nie ’n kans nie.”

“Jy was ’n week daar,” sê Tupperware. “Jy is ’n onderwyser, wat weet jy?”

“Ons gaan vrek,” sê ek.

Oral om ons lê almal tjoepstil soos kinders by ’n evangeliese kerkkamp terwyl party lyk asof hulle dalk in tale mag begin praat. Ouma lê langs my, maar sy is min gepla. Sy kon net so- wel op Hentiesbaai se strand lê.

“Ek sal op my rug moet lê,” sê ek, “my maag druk my ribbes dat ek nie asem kry nie.”

“Doen wat jy wil,” sê Ouma, “dit mag dalk jou laaste kans wees.”

“Moenie so sê nie, dit laat my nog meer sukkel vir asem,” sê ek. Toe ek omdraai om op my rug te lê, kyk ek op en sien die verskriklike hoë rakke wat hoog bo ons uittroon, asof ek in die middel van die pad in 5th Avenue in New York lê. Wolkekrab- bers vol shampoo en body wash.

“As hulle hier begin skiet, is dit ’n moerse skuimbad,” sê ek. Ek praat gewoonlik kak as ek nervous is.

Ons lê vir ’n verdere sewe minute. Intussen het Bles oorge- skakel na “Ruiter van die windjie” en ek sien hoe Tupperware se voet klop-klop saam met die chorus:

ruiter van die windjie wil ek bly vryer
as die voëltjies rondom my van verre
lande vertel ek
goue strande en die see, oho hoo

Die man met die pistool sien ek nie weer nie, maar ek pak intussen die R37,50 uit my beursie langs my selfoon as hy dalk sou belangstel. Van waar ek lê, kan ek onder die rak deur kyk na waar ’n tannie in ’n pastelkleurige kaftan lê en bid.

Skielik gaan daar ’n alarm af. Ek skrik my spoeg weg. Ek het geweet dit is die einde.

“Is ons dood?” vra ek vir Ouma.

“Nee, man,” sê sy, “dis Bles se jodelliedjie, ken jy dit nie?”

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment