Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Die Anglo-Boereoorlog was almal se oorlog” – Fransjohan Pretorius bespreek die heruitgawe van Verskroeide Aarde

Die Britse beleid van “verskroeide aarde” en konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het bitter herinneringe en trauma veroorsaak wat dekades ná die oorlog steeds by Suid-Afrikaners spook.

In dié nuut opgedateerde uitgawe van ’n topverkoper gee vooraanstaande historici ’n vars en sober blik op hierdie hoogs omstrede aspek van die oorlog. Dié vokleurboek verken die perspektiewe wat ná meer as 100 jaar moontlik is, en bring nuwe insigte oor een van die mees omstrede aspekte van die oorlog. Die inleding as ook die slothoofstuk is ook heeltemal nuut.

Hier bespreek die redakteur van die heruitgawe en skrywer van die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde, Fransjohan Pretorius, die inhoud van die boek en nalatenskap van die oorlog.

Wat het jou aangespoor om ’n ‘nuwe’ weergawe van Verskroeide Aarde te skryf?

Belangstelling in die Anglo-Boereoorlog het sedert die 100-jarige herdenking daarvan en die verskyning van die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde in 2001 nie afgeneem nie, maar inderdaad toegeneem! Jy sien dit in die publikasie van talle historiese romans (waarvan PG du Plessis se Fees van die Ongenooides sekerlik die hoogtepunt is) en geskiedenisboeke oor die konsentrasiekampe (soos Die oorlog kom huis toe van Grundlingh en Nasson) en oor persoonlikhede (soos Elsabé Brits se boek oor Emily Hobhouse, Geliefde Verraaier). Verder het ek sedert die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde blitsvinnig uitverkoop is, oor die jare talle navrae van die publiek gekry oor waar hulle die boek in die hande kan kry. En natuurlik is daar nuwe temas wat aandag moes kry.

Boere in die Magersfontein-loopgrawe op die westerse front. Na aanloop van hierdie bekende stryd is die loopgrawe dieper gegrawe. Die skadutent het verligting gebied teen die somerhitte van 1899-1902.

 
 
Hoe het die navorsingsproses verskil met dié van die ‘oorspronklike’ Verskroeide Aarde?

Maryna Lamprecht, Tafelberg se redakteur van die boek, en ek het dankbaar van Etna Labuschagne van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein se hulp gebruik gemaak, en twee dae daar deurgebring om goeie en nuwe foto’s uit te kies. Daar is meer as 260 foto’s en illustrasies in die boek, waarvan bykans 160 nuut is of nie in die 2001-uitgawe was nie. Daarbenewens is daar oor die vyftig kleurfoto’s by, en saam met die pragtige uitleg en goeie gehalte papier, het ons hier ’n absolute wenner.

Ek het my as redakteur veroorloof om nuwe aspekte in kassies by te voeg, soos oor die kinders se doen en late in die konsentrasiekampe, ’n besinning oor Britse en Europese propaganda oor die kampe, soos die Lizzie van Zyl-geval, sterftegetalle van sowel wit mense as swart mense, en so meer.

Britese troepe onder beheer van Maj.- Gen. R.A.P. Clements marsjeer in Colesberg in op 28 Februarie 1900, na drie-en-’n-half maande van Boerebewind.

 

Die herbesinning van die sogenaamde Anglo-Boereoorlog speel deesdae ’n groot rol in ons verstaan van die oorlog en land se geskiedenis. Kan jy bietjie uitbrei oor die ‘hedendaagse’ kennis wat ons oor die oorlog het? (Onder meer die rol wat swart Suid-Afrikaners in die oorlog gespeel het.)

Dit wat in akademiese werke oor die Anglo-Boereoorlog verskyn, neem ’n tydjie om by die publiek inslag te vind. Wat vir een leser nuut is, is vir ’n ander leser reeds bekende geskiedenis. Omdat skoolsillabusse deesdae die struggle geskiedenis voorop stel, het jong lesers nie dieselfde verwysingsraamwerk oor die Anglo-Boereoorlog as hul ouers of grootouers nie. Hierdie boek kan daardie leemte hopelik help vul.

Historici skryf al meer as veertig jaar oor swart betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog, en nogtans is swart mense se rol in die oorlog by baie lesers nie bekend nie. In die eerste plek was dit ’n oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke, maar swart mense is net soveel soos wit mense (Afrikaners) deur die oorlog geraak, en was gewapende swart mans in die Britse leër en swart groepe wat in die guerrillafase op die plase rondgeswerf en geplunder het, ’n groot bedreiging vir die Boerekommando’s en die Boerevroue en hul kinders wat in die veld weggekruip het. Ons moet egter daarteen waak dat ons die pendulum nie volkome na die ander kant laat swaai en dit voorstel asof swart mense die enigstes wat by die oorlog betrokke was en as gevolg van die oorlog gely het nie.

Brittanje se besluit met die vredesvoorwaardes om nie die beperkte stemreg vir swart mans van die Kaapkolonie na die verslane republieke uit te brei nie, moet egter begryp word, want dit het ’n wesenlike invloed op die swart struggle geskiedenis van die 20ste eeu gehad.

’n Boer-woonhuis wat sopas opgeblaas en afgebrand is. Wat gaan deur die Britse soldaat se gedagtes soos hy sy perd van die toneel weglei?

 
 
Verwag jy dat die boek kritiek van ‘stoere Anglo-Boereoorlog-voorstanders’ gaan ontlok, of ’n bydrae gaan lewer tot die gesprek wat tans oor die werklike aard en die betrokke partye van die oorlog gevoer word?

Geen geskiedenisboek kan kritiek vryspring nie. As jy met ‘stoere Anglo-Boereoorlog-voorstanders’ bedoel mense wat slegs belangstel in wat met die Boere gebeur het, sal daar sekerlik kritiek wees. Maar ook vir sulke denkrigtings is daar hopelik genoeg waarmee hulle hul kan vereenselwig. Benewens die Boer-Brit-stryd wat aandag moet kry, moet ons egter besef die Anglo-Boereoorlog was almal in Suid-Afrika se oorlog, wat almal op een of ander manier geraak het. Ons het drie hoofstukke oor swart konsentrasiekampe en betrokkenheid en ervarings in die oorlog – neem jy dit weg, verskraal jy die geskiedenis van die oorlog.

Uiteraard vertrou ek dat die boek ’n bydrae tot die gesprek oor die werklike aard en die betrokke partye van die oorlog sal lewer. Moet net nie die Britte en die Boere uit die oorlog haal nie.

Dooie Britse soldate in die vlak loopgrafte wat haastig gegrawe is naby die kruin van Spioenkop net voor die stryd op die oggend van 24 Januarie 1900. Die lyke is daarna met wit klippe bedek wat vandag nog sigbaar is.

 
Hoort ons nog steeds na die oorlog as die ‘Anglo-Boereoorlog’ te verwys? Dink jy die ‘Suid-Afrikaanse oorlog’ sal ooit in ons woordeskat begin verskyn? (Hetsy deur middel van kinders wat dit op skool geleer word, of ’n groter gebruik daarvan in algemene diskoers/gesprekke?)

Shakespeare het gevra wat is in ’n naam, maar hy is nie heeltemal reg nie. Rondom die name Anglo-Boereoorlog, Tweede Vryheidsoorlog, Boereoorlog, Engelse Oorlog en Suid-Afrikaanse Oorlog, is daar baie emosie. Geen benaming is werklik bevredigend nie. Persoonlik gebruik ek meestal Anglo-Boereoorlog, want die stryd was amptelik tussen Brittanje en die Boererepublieke. Die probleem daarmee is egter dit dui slegs op ’n stryd tussen die Engelse en die Boere, terwyl daar Skotte, Iere, Walliesers, Australiërs, Nieu-Seelanders, Kanadese en swart mense aan Britse kant betrokke was. Boonop is swart burgerlikes deur die oorlog geraak. Die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog gee ’n aanduiding dat almal in Suid-Afrika betrokke was of daardeur geraak is, maar dit verwys nie na Brittanje nie – en feitlik alle historici stem saam dat Brittanje die grootste aandeel aan die oorsake van die oorlog gehad het (en in elk geval dat hulle hier geveg het!). Die Viëtnamese praat nie van die Viëtnamese Oorlog nie, waarom dan die Suid-Afrikaanse Oorlog? Maar, op skool is dit Suid-Afrikaanse Oorlog, en wie weet, oor ’n geslag of twee is die benaming Anglo-Boereoorlog dalk vergete. Dit hang af of die ouer garde hul boodskap by die jongeres gaan tuisbring. En dis waarvoor Verskroeide Aarde nuttig gaan wees.

Een van die mees roerende beelde van die oorlog. Die lyk van die drie-jarige Japie Berg van die Bloemfonteinkamp buite die tent waar hy dood is.

 
 
Verskroeide Aarde

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment