Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for April 10th, 2018

“Daardie aand was die leeus nie ’n gerieflike kilometer ver nie, maar op ons stoep.” Lees ’n uittreksel van Annelize Slabbert se ’n Luiperd in my bed

'n Luiperd in my bed“Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asemhaal in die koelte van ’n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir ’n modderbad.”

Annelize Slabbert was ’n joernalis in Johannesburg en haar man, Gerard, ’n apteker. Doodgewone stedelinge. Toe word hulle moeg vir die lewe in die stad, die spitsverkeer en die gejaag, en verhuis sak en pak na Botswana. Hier, in die son en sand van die Sentraal-Kalahari, gaan hulle ’n luukse vierster-lodge bestuur.

Min het hulle geweet wat wag.

Tussen die luiperdwyfie in die slaapkamer, die dansende Russe en “wilde diere” in die swembad, sal ’n Luiperd in my bed jou laat lê van die lag . . . en jou twee keer laat dink voor jy jou eie landelike idille aandurf.

Leeus op die stoep en luiperds in my bed

DIS al ná vyf in die middag en nog lank nie somer nie, maar die sand stuur steeds warm lug op. Die blare aan die matjarras voor ons huis is steeds dig, maar vaal van die wit Kalaharisand, deur die bronstige wind verwaai. By die watergat minder as tien tree van waar ek sit en lees, staan vyf kameelperde.

Met sy sierlike nek styf vorentoe gebuig, sak die karamelkleurige mannetjie se kop na die water. Hy plant sy voorbene beurtelings wyer uit mekaar tot sy kop laag genoeg is om te kan drink. Ritmies suig hy met diep teue, om dan met ’n slinger van sy lang nek sy kop omhoog te ruk terwyl waterdruppels die lug in spat.

Die rustige toneel by die watergat volg op ’n grillerige ondervinding in die middel van die middag.

Augustus het gekom met al sy nare wind en ook met temperature diep in die dertig. Saam met die hitte kom die somerslange, pas ontwaak ná ’n kortstondige winterslaap. Hul spore word oral in die droë veld gesien. Gisteroggend het Kapokkie, terwyl sy ons huis skoonmaak, sleepmerke op die werf opgemerk. Die spore het in die rigting van die agterdeur beweeg.

Gerard en die Boemans was gou by om die slang in die huis te soek. Met ’n klein katjie en twee honde, om nie eens van die skrikkerige bewoners van die huis te praat nie, is die aanwesigheid van ’n giftige reptiel allermins wenslik. Die soektog het niks opgelewer nie.

“Die slang is seker weer by die deur uit buitentoe,” verseker Gerard my.

Verdiep in my boek sit ek op die warm middaguur in die slaapkamer en lees toe ek ’n geritsel hoor. Ek kyk verskrik op en daar! Agter ’n prent teen my muur hang ’n lang loodgrys stert, ongeveer twee sentimeter dik.

“Dis ’n mamba! Gaan kry die manne,” beveel Gerard en ek laat nie op my wag nie.

’n Mamba-byt is dodelik. Maar dis steeds ontstellend om te dink die stomme dier word oral met soveel weersin en geweld hanteer. Gewapen met knopkieries en ’n spesiale haak word die arme slang grond toe gebring en genadeloos met die kieries aangerand, tot hy na die mening van die hele vergadering geen fut meer oorhet nie, al trek sy spiere steeds krampagtig saam.

Ná soveel jare in die bos bly dit steeds nodig om jouself voortdurend daaraan te herinner dat die wildernis aan die wild behoort en nie aan die mens wat glo hy is die heerser nie.

Aanvanklik was ek baie versigtig om al die deure en vensters toe te hou. Vroegoggend en ná skemer word die diere ingebring en die deure toegemaak. Maar soos die winterdae langer rek en tyd maak vir soel someraande is die behoefte aan ’n briesie te groot. Die groot houtraam-skuifvensters van ons huis is so wyd moontlik oopgetrek tot die somerson rondom die middaguur die sand en die stoep tot kookpunt gebak het en die huis so dig moontlik gesluit word.

Op een so ’n laat-lenteoggend kom Gerard en ek tuis vir ’n toebroodjie en tee. Met die eerste oopmaak van die sogenaamde Jolie-deure wat op die stoep uitgaan, voel ek iemand se teenwoordigheid in die huis aan. Gouelokkies se drie beertjies het waarskynlik dieselfde gewaarwording gehad toe hulle ná hul stappie in die bos tuisgekom het.

“En wie het op my bed gelê? Wie het my drafskoene rondgegooi? En wie het hulle STUKKEND GEBYT?”

Ons storm deur die slaapkamer na die aangrensende badkamer van waar ons die stort hoor ruis. Ons badhanddoeke tref ons in flarde aan die haak langs die stort aan. Die badkamervenster is nog wyer oopgedruk as toe ons daardie oggend in die stort was.

Buite los Gerard die raaisel op.

’n Fraai jong luiperdwyfie, wat ek Leila gedoop het, is die week tevore gereeld by die hooflodge en in die omgewing opgemerk. ’n Mens kan jou net verbeel dat Leila, soos die prinsessie wat sy was, daardie oggend behoefte aan ’n ruskansie in die hemelbed, gevolg deur ’n weelderige stort gehad het.

Die prosaïese verduideliking was dat sy bloot wou speel, die skoene en kussings na hartelus rondgegooi het, en toe ondersoek in die badkamer gaan instel het. Die nuwerwetse krane in die oop stort word nie gedraai nie, maar met een veeg opgeklap. Hoe die kleine Leila haar onder die strale water geniet het, kon ek net raai. Dalk was sy ergerlik oor die onverwagse bui reën en was dit waarom sy met haar skerp naels die handdoeke bygekom het. Ons het haar moontlik verras waar sy nog met haar toilet besig was – vandaar die oopgedrukte venster, haar ontsnaproete.

Op die stoep, wat oor die lengte van ons huis skadu op warm somermiddae gee, is gestoffeerde leunstoele waarin ’n mens met ’n boek kan opkrul. Dié lekkerte is eintlik vir die bewoners van die huis bedoel, maar in die ongetemde wêreld waar ons ons stadsgeriewe in stand wil hou, is daar te veel weerstand uit wildgeledere. Twee families leeus bewoon die plaas, een groep aan die westekant, ’n paar kilometer van die lodge, en die ander aan die oostekant, sommer digby ons.

Kort ná ons intrek in die Kalahari Manor, die koloniale plaashuis wat Gerard eintlik vir gaste gebou het, word ons een aand deur die angswekkende gebrul van ’n groep leeus wakker gemaak.

Die MGM-leeu se brul is ’n power namaaksel van die dawerende keel van ’n Kalahari-leeu. En daardie aand was die leeus nie ’n gerieflike kilometer ver nie, maar op ons stoep.

Bewend van skrik het ek met my flits op die Jolie-deur se glas gelig, reg teen die neus van ’n tiener-vuilbaard met net die ruit tussen ons. Langs en agter hom was nog vier jong lede van die bende moeilikheidmakers. In een se bek was ’n stoepkussing. In sy oë, verbeel ek my, ’n uitdaging.

Ek doen alles wat Gerard my vertel het hoe om koelkop in ’n leeukrisis te bly. Ek klap my hande. Dan hou ek my arms bo my kop in ’n poging om so groot en intimiderend as moontlik te lyk.

Maar die maaifoedies kyk my verveeld aan en nog een gryp ’n ander stoepkussing terwyl die ander een sy kussing met groot genot rondskud. Binne oomblikke bars die nate oop en warrel handevol kapok die naglug in.

Nou is die groepie in hul element.

Nóg kussings warrel deur die lug. Dit lyk soos sneeu in die Kalahari.

My kwaai vermanings val op dowe ore. Vanselfsprekend, want watter jong leeu sal hom laat rondsê deur ’n indringer mens in pajamas? Tot in daardie stadium was ek vies maar veilig. Maar die volgende oomblik stamp die voorbok, oftewel die voorleeu, met sy skouer teen die glasdeur, wat natuurlik nie gesluit was nie. Wie sluit jou deur in die bos? Daar is in elk geval geen sleutels vir die deure nie. Maar daardie deure het die nare geneigdheid om vanself oop te gaan wanneer iemand teen hulle stamp. Die gespierde katte aan die ander kant van die deur het heel anders gelyk as die singende leeugesin ’n Walt Disney se Lion King. Dié leeus was nie daar vir ’n pajamapartytjie nie.

Gelukkig het die kussingdiewe soos kwajongens met verbode vrugte besluit om die loop te neem met die kapok al warrelend om hul koppe. Die volgende oggend het ons kapok en stroke geblomde Sanderson ver en wyd opgetel en vir baie lank daarna het die Boesmans nog stukkies lap met roosmotiewe in die veld opgespoor.

My eerste belewenis van ’n familie leeus van naderby was in die modder-en-mis-huisie waar ons in die eerste jare van ons verblyf op die plaas gewoon het. Die woonplek het uit ’n kombuis-cum-leefvertrek bestaan, met twee houtvertrekke in ’n U-vorm langsaan – twee slaapkamers met aangrensende badkamers. Met net die dun houtmuur tussen die koppenent van die bed en ’n watergat waarin ons stortwater uitgeloop het, kon ek snags besoekers wat hul dors kom les dadelik hoor: Die bruin hiëna wat drink soos ’n hond, die koedoes wat suig.

En toe daardie eerste keer, agt leeus, op hul voorpote gekniel, hul koppe styf teen mekaar om die watergat. In die maanlig kon ek hulle goed sien en duidelik hoor hoe hulle met sagte “oemffs” met mekaar praat. Dors geles, het hulle vyf meter van my venster (oop, natuurlik) in die sand gaan lê en saggies gesels.

Daar is min wat ’n stadsjapie kan voorberei op hoe bevoorreg ’n mens voel wanneer sulke besoekers by jou hul dors kom les. Eintlik is dit heel verkeerd om hulle “besoekers” te noem, want dis ons, die mense, wat besoekers aan hul wêreld is, ’n plek van verwondering gereël deur natuurwette.

Boekbesonderhede


» read article