Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

Fiksie Vrydag: lees ’n uittreksel van André P Brink se Die rooikop en die redakteur en ander stories

Dekades voor hy beroemdheid verwerf het as internasionaal bekroonde skrywer van meer as 25 romans, het André P Brink gedurende die vyftigerjare sy brood en botter verdien met die skryf van stories vir gesinstydskrifte. In dié bloemlesing verskyn daar vir die eerste keer ooit ’n keur van die liefdesverhale wat hy as student in die destydse Die Brandwag en ook Die Huisgenoot gepubliseer het.

In dié dosyn verhale oor eertydse jintelmans en koppige heldinne wat nie huiwer om hul sê te sê nie, word dit gou duidelik hoe die vroeë Brink sy skrywerstem geslyp het, en andersyds kan ’n mens onmiddellik ’n kern van sy latere, volwasse skrywerstem bespeur. Die landskap van Parys, ’n boekeredakteurskantoor, die onmoontlikheid om tussen twee liefdes te moet kies: Leitmotifs wat jare later, hoewel meer vervorm, steeds sou weerklank vind in Brink se werk.

Die rooikop en die redakteur en ander stories kombineer Brink se eiesoortige humor met ’n tikkie nostalgie – perfek vir ’n ouer én nuwe geslag lesers. Dit is saamgestel deur Cecilia van Zyl, voormalige verhaleredakteur van Huisgenoot.

Die rooikop en die redakteur

’n Kortverhaalredakteur is ook maar ’n mens, en toe Jan Wentzel die vyfde agtereenvolgende verhaal in die mandjie met ’n dik blou kruis op die titelblad moet merk, is sy geduld gedaan. Dit is tyd dat hulle uitvind dat Die Voorpunt nie met enige snert gediend is nie. Gedorie! ’n Mens het darem beter dinge om te doen as om sulke kinderagtige brousels te lees.

Hy trek sy tikmasjien nader en skuif sy bril reg. (Dis nie dat sy oë juis veel makeer nie, maar die bril is die enigste manier om sy agt-en-twintig jaar ouer en waardiger te maak.)

Die skrywer? Hy soek die naam en adres met sy potlood. O, dis ’n vrou. Kon dit ook verwag het. Klein . . . – hy soek ’n woord – klein ditsedat! Marié Hurter; mooi naam, maar daaraan kan hy hom nie nou steur nie. Tien teen een is dit ’n oujongnooi wat haar eie stokkerige frustrasies op hierdie manier in ’n suikermengsel op papier uitstort. Sy vingers kletter oor die toetse.

DIE VOORPUNT
die tydskrif aan die spits in Suid-Afrika
Tel. 31-4151 Posbus 351 Johannesburg

Mej. M. Hurter
Posbus 2345
Johannesburg
Geagte mej. Hurter
Ek stuur u verhaal, “Blou maanskyn”, hiermee terug. Dit spyt my om te sê dat dit my nie spyt om hom af te keur nie. U behoort uit ons gepubliseerde verhale af te lei dat ons tydskrif lankal sy adolessente jeans afgeskud het. Die redaksie het baie werk en kan nie bekostig om hul kosbare tyd te verkwis met die lees van minderwaardige verhale soos hierdie nie.
U het dit seker goed bedoel, maar u kan dit gerus oorweeg om u goeie bedoelings op ’n minder onskadelike manier te uit as om die skryfkuns daaronder te versmoor.
Agtend
Die uwe
Jan Wentzel
Kortverhaalredakteur

“Sóó!” Jan draai die vel uit die masjien en sit dit in ’n koevert. “Dit sal die ellendeling leer!”

Hy dink ’n bietjie skuldig aan die vorige redaksievergadering toe die hoofredakteur hulle dit so op die hart gedruk het: “Mense, kyk, Die Voorpunt staan op die voorpunt. Maar moet nooit ’n medewerker afskrik nie. Aanmoediging en aandag kan dalk talent aan die lig bring wat anders vir die mensdom verlore sou gewees het.”

Hy troos hom daaraan dat meneer Keyter al verby vyftig trek en nie meer weet wat dit is om elke dag stringe snertverhale te keur en die paar korreltjies van die kaf te skei nie. Buitendien, as hy dié juffrou Hurter nie nou skrikmaak nie, gaan sy vir hulle dalk nog wie weet hoeveel ellende met haar simpel stories veroorsaak. Voorkoming is beter as genesing.

“Meneer Wentzel,” kom die sekretaresse kort voor halfeen die volgende dag by Jan se kantoor in, “daar’s ’n dame wat u wil spreek.”

Hy loer na sy horlosie. “Ons loop oor ’n kwartier. Ek is in die middel van ’n verhaal. Kan sy nie vanmiddag kom nie?”

Die sekretaresse skud haar kop. “Sy’s haastig.” Sy aarsel. “En as ek u raad verskuldig is, laat haar maar kom, anders is sy kapabel en rand een van ons aan.”

Hy haal sy bril af en beskou haar. “Juffrou Neethling?”

“En sy’s haastig ook,” sê die sekretaresse. “Sy wil nog ’n draai hier onder by die vroueredaktrise maak en dan moet sy jaag vir ’n afspraak of iets.”

“Toe, toe!” keer hy. Juffrou Neethling, pligsgetroue mens, probeer alle besonderhede gewoonlik so volledig as moontlik en in so ’n kort tydjie as moontlik verskaf.

“En sy staan op ’n verbode parkeerplek ook. ’n Klein groen motortjie.”

“Mylafstand?” hou hy hom ernstig.

Juffrou Neethling glimlag verleë. “Nee, dis ernstig, meneer. Sy het rooi hare.”

Hy haal sy skouers op. “Nou goed.”

Maar voor juffrou Neethling na haar eie kantoor kan teruggaan, spring die deur oop en sý kom in: die pragtigste elfmensie wat jy jou kan voorstel.

“Is jy Jan Wentzel?” vra sy. En Jan besef sonder meer dat sy veel meer vonk het as wat dit op die oog af mag lyk.

Hy staan op en beduie die sekretaresse om te verdwyn. “Tot u diens, juffrou.”

“Tot u diens se voet!”

Sy kom met driftige treë nader en haar groen oë blits.

“Het jy dié ding geskryf?” Sy sjoerr ’n vel papier op sy lessenaar neer.

Hy vat-vat dit ’n slag mis en lees dit onderstebo: “Geagte mejuffrou Hurter. Ek stuur u verhaal . . .”

“Het jy dit geskryf?” vra sy.

“Juffrou?” Hy sit sy bril op. “Juffrou, ek . . .”

“Moenie staan en juffrou nie!” Sy vat die brief by hom. “Het jy of het jy nie?”

“Sit ’n oomblik, juffrou Hurter. Ek sal die saak mooi uiteensit.”

“Ek staan lekker, dankie.” Sy vroetel-vroetel in haar handsak en haal ’n manuskrip uit. “En hier’s my storie, ‘Blou maanskyn’. Sê my nou baie mooi hoekom jy hom teruggestuur het. En ek wag nie lank nie.”

Jan vee oor sy voorkop. “Moenie so kwaad wees nie, juffrou.”

Dit lyk of sy hom gaan spoeg en hy skuif sy stoel ’n entjie agteruit.

“Kyk, meneer Jan Wentzel,” sê sy stadig en baie nadruklik. “Verstaan jy Afrikaans? Jy het my storie teruggestuur en jy het vir my ’n baie onbeskofte brief geskryf. Hoekom? Ek gee jou vyf minute om te antwoord.”

Moord in die redaksiekantoor, dink hy. Maar hy is nog gans te verward om iets te sê. Al wat hy weet is dat hy die pragtigste meisie in jare der jare hier voor hom het en dat sy hom wil verniel as sy hom net kan bykom. Hoe maak mens nou as dit so gaan, h’m?

“Toe, ek wil hoor hoekom –”

Hy vervies hom skielik. “Jy het dit nou al ’n paar maal gesê, juffrou. Ek is nie doof nie.”

Sy knip haar oë en skrik ’n bietjie. “Maar . . .” sê sy. “Maar . . . Dit was ’n mooi storie, ek weet. Hennie het ook so gesê.”

Sy moed sak. Hennie. Mag ’n ongedierte die man vang!

“Juffrou,” sê hy sukkel-sukkel. “Kyk, ek was gister ’n siek man. Amper dood ook. Dis ’n genade dat jy my nog hier sien staan. En toe lees ek vyf simp- . . . vyf swak stories in ’n ry. Dis meer as wat vlees en bloed kan dra. Dis nie dat jou storie buite hoop is nie, sien. Ons is net bietjie vol op die oomblik . . .”

“Vol se dinges!” wip sy die brief onder sy neus in. “Is dit hoe mens skryf as jou tydskrif te vol is? ‘. . . u goeie bedoelings op ’n minder onskadelike manier te uit as om die skryfkuns daaronder te versmoor.’ Verbeel jou. Verbéél jou! Jou onbeskofte, ellendige mansmens!” Sy wip om en loop deur toe. “Dink julle kan enige ding aanvang net omdat julle met ’n onskadelike, weerlose ou meisietjie te doen het!” Die deur ghwarrr agter haar toe.

Onskadelike, weerlose ou meisietjie, dink hy. Maar die eintlike probleem wat hom beethet, is dit: hoe gaan hy ooit, ooit daarin slaag om haar in die hande te kry? Want dit, en niks minder as dit nie, is wat hy besluit het toe sy vaneffe hier ingeborrel het. Dis presies wat mens nodig het op ’n koue wintersaand: so ’n stukkie lewe in die huis. Maar filosofeer gaan nie help nie. Hoe gaan hy haar ná dese tot enigiets oorreed? ’n Meisie kry nie gou ’n sagte plekkie in die hart vir die man wat sy as ’n boef en onbeskofte vent uitgeskel het nie.

Maar Jan Wentzel is darem ook nie verniet kortverhaalredakteur nie. Hy kan ’n moeilike situasie hanteer as dit moet. En as dit nog nooit gemoet het nie, dan moet dit nou.

Hy skarrel rond tussen die goed wat juffrou Neethling vertel het: die meisie – Marié Hurter (mooi naam) – moet nog by die vroueredaktrise ’n draai maak, dan jaag vir ’n afspraak (Hennie Blikslaer!). En die motor staan onwettig geparkeer. Groen goggamobiel. Hy is nog besig om te dink toe die gehoorbuis al teen sy oor lê.

“Juffrou Neethling? Skakel my deur na Hendrik Buys heel onder. En opskud!”

Hy hoor die telefoon onder brr-brr en dan kliek.

“Hendrik?”

“H’m.”

“Broer, nael met daardie lang bene van jou uit in die straat. Daar staan ’n groen goggamobiel êrens waar hy nie moet staan nie. Stel hom buite aksie. Diskonnekteer hom, betjoins hom – moet net nie skade aanrig nie – blaas ’n wiel af, enigiets. En as jy ’n rooikopmeisie met ’n groen rok sien aankom, maak dat jy wegkom en koes vir die klippe.”

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment