Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

NB

@ Sunday Times Books LIVE

“Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool.” Lees ’n uittreksel van Jeremy Vearey se Jeremy vannie Elsies

Van laaitie tot politieke kryger, bandiet tot generaal-majoor, ondergrondse operateur tot presidensiële lyfwag…

Van sy kleintyd in Elsiesrivier neem Jeremy Vearey se lewe talle onvoorspelbare wendings.

Sy eiesoortige vertelling sluit die ouere manne van sy jeug in, die ooms by die damstafel, kerkjeugkampe en die Kommuniste-manifes, skoolhou en ondergrondse werk vir MK, en sy aanhouding op Robbeneiland. As Mandela se lyfwag help hy ’n opstand in die Karoo ontlont, voor hy deel word van die nuwe SAPD, waar hy saam met die gewese vyand terrorisme en Kaapse bendes takel.

En onder alles loop ’n donker stroom.

Hier volg ‘n uittreksel van Jeremy se merkwaardige verhaal:

In Junie 1976 het ek begin kwaad word vir die wêreld, maar dit het min met die politieke onstuimigheid van daardie maand te doen gehad. Was dit die ontnugterende sameloop van te veel grond wat te vinnig onder my dertienjarige voete geskuif het? Daar was die skielike trek na ouma Galant se nuwe, eiesoortige huis in ’n eenvormige Uitsig waar die betekenis van die pleknaam niks met ’n vallei van hemel en aarde in gemeen gehad het nie. Miskien was die skielike aanslag van geraas en straatlewe op die Kaapse Vlakte net te veel. Om my onsekerheid te hanteer het ek begin optree op die enigste manier wat die straat my geleer het. Ek het begin baklei.

*

Ek was terug in Elsies, nog net so onvoorspelbaar soos altyd en slaggereed om enige vyand op die strate van Bishop Lavis, Elsiesrivier, Tiervlei en Uitsig te trotseer. My tweede vyand was die steilhaarleier van ’n bende Holy Trinity Laerskool-leerlinge wie byna elke middag wanneer ek en Merle van skool af huis toe loop, my op die Bishop Lavis-Elsiesrivier-brug in Haltweg geteister het. Ek kon seker die sypaadjie aan die teenoorgestelde kant van die pad gebruik maar het ek verkies om direk deur die klomp Holy Trinityleerlinge te stap. Hierdie uitdaging het gewoonlik gepaardgegaan met vuishoue en skoppe van alle kante terwyl ek vergeefs terugveg en vloekend wegloop onder hulle gespot en gelag.

Dis nou tot ek eendag met ’n passer en vulpen my weg deur hulle gesteek het. Die volgende dag het van hulle ouers by die skoolhoof meneer Majoos gekla maar hierdie keer was daar ’n les saam met die gewone ses-van-die-bestes. Die trant van sy les was oor hoe die braafste ding wat ’n man kan doen, is om ’n geveg te vermy tot hy ’n ander manier vind om die konflik sonder geweld op te los.

Maar toe kom 16 Junie 1976, en ek leer eerstehands hoe onvanpas daardie les is as jou teenstander nie ook daarin glo nie.

Dit was my oudste neef Louis wie my aan die politiek van 16 Junie voorgestel het. Louis het nooit gewerk nie maar elke dag sy suiwer daggaslowboat gerook. Hy was ’n beginselvaste man wie gereeld ons jonger newe vermaan het om nooit eendag bottelkop of witpyp soos skollies te rook nie want hulle bemors die dagga deur dit met sigarette en buttons te meng.

Eendag in Junie 1976 toe Elsiesrivier en Tiervlei se strate woes aan die brand is onder verlate busse en afleweringstrokke met gebreekte vensters, terwyl polisie se Land Rovers en Ford-vangwaens tevergeefs die onskuldiges probeer vastrek, kom Louis met sakke vol brood by oupa Vearey se djaart in Tiervlei aan. Nadat hy dit aan al die anties en die bure uitgedeel het, kom staan hy om die ghellieblik by ons en rook sy Rizla Blackie-daggaslowboat.

Ná ’n lang, diep trek deur dungeperste lippe hou hy dit eers binne vir omtrent ’n minuut. Toe eers blaas hy dit beheers en egalig uit en verklaar in ’n piepstem, terwyl die daggawolke saam met die woorde uit sy mond seil: “Ôs hette Duens-broodlorrie by Tiekie-stage vedala. Djulle moet gesienit hoe al die voovensters tot daa by die driver se knieë sametime stukkend spat. Vêrre gryp die driver saam met ôs die brood en ôs brand saam die lorrie in sy moer.”

“Vi hoekom?” vra Ricky.

Louis trek nog ’n diep skyf van sy slowboat en antwoord: “Sien djy, djulle sal eendag wys raak dat daai Duens-lorrie behoot aanie Boere ennit gaan oo hulle wat ôs wil force om hulle Afrikaans te praat.”

“Ma ôs praat dan oek Afrikaans! Dêrrie en Ma oek allie pad,” stry ek.

“Issie dieselfde Afrikaans vannie Boere nie. Ôs Afrikaans is original. Djulle moet wys raak dat hulle force allie tyd hulle valse Afrikaans byrie skool,” verduidelik Louis.

Ma het ook ’n soortgelyke trant gevolg in haar pogings om Junie 1976 te verduidelik, met dié verskil dat sy gemeen het Afrikaans is deur die Boere van ons gesteel en in ’n vreemde apartheidstaal verander om ons te forseer om die wêreld deur hulle woorde te verstaan en aanvaar. Sy het ons manier van Afrikaans en Engels praat as ’n vorm van rebellie teen hierdie apartheidsafrikaans beskou. Dis met dié dat ek en ’n groep standerdvyfleerlinge eendag in Julie 1976 geweier het om ná tweede pouse na ons klasse terug te keer.

Nie eens die skoolhoof se pleidooie, bangmaakstories van die mees gevreesde onderwysers oor lyfstraf of dreigemente van polisieoptrede kon ons daai dag stuit nie en die skool het stert tussen die bene verdaag.

Maar die volgende dag, toe bring die skoolhoof hulle geheime wapen. Niemand anders nie as ons ou sub B-onderwyseres miss Biscombe nie. Nog voor die oggendklok kon lui, het sy ons op die skoolterrein toegespreek en verduidelik dat sy dit eens met ons is oor apartheidsopvoeding maar dat dit in die lang termyn oor meer as net die gebeure in Soweto gaan. Ons klasboikot was onvolhoubaar en sou niks in die langtermynvryheidsstryd bereik nie. En só is Junie 1976 se politieke rebellie van die standerdvyfklas by Greenlands Primêr summier gestuit. Miskien is dit ironies dat dit wel meneer Majoos se les was – om ’n geveg te vermy tot ’n vreedsame oplossing gevind kan word – wat ons hier op ’n slinkse wyse gepootjie het.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment