Jaco Botha gesels met Odette Schoeman oor Swartskaap
Seksuele misbruik en armoede is volgens Odette Schoeman van die grootste stuikelblokke wat vandag se jong meisies in die gesig staar.
Schoeman het in ‘n Facebook-onderhoud aan Jaco Botha vertel dat dit die rede is waarom sy die storie van Claudie, haar debuutroman Swartskaap, geskryf het. “Ek wil hê Claudie moet hulle inspireer. Dit kan gedoen word!”
Alhoewel Schoeman sekere gegewens uit haar eie lewe geneem het, het sy nie al Claudie se ervaringe self deurgemaak nie. “As skrywer gebruik mens fiksie om ’n verskeidenheid redes: om jouself te beskerm en soms om ander mense te beskerm – al verdien hulle dit nie altyd nie.”
Odette Schoeman is ’n literêre maagd. Sy het geen letterkundige opleiding nie, sy ken skaars die name van die groot Afrikaanse skrywers?kanonne en sy lees meestal net nie-fiksie. Sy werk in ’n prokureurskantoor in Vanderbijlpark en haar papegaai se naam is Raka. Hy’s “genoem na Koos Kombuis se boek”, wat sy baie geniet het. Maar wanneer jy haar debuutroman, Swartskaap, begin lees, besef jy baie gou hier’s ’n aangrypende verhaal van leef en oorleef deur iemand wat wéét hoe die ABC van storiemaak werk. In Swartskaap vertel Claudie Thompson van haar eie grootwordjare. Dis ’n storie van armoede, ouers wat soms waansinnig en liefdeloos optree, seksuele misbruik, huise sonder meubels, koshuise, pleegsorg, wegloop, “plekke van veiligheid’’. Dis ook ’n verhaal deurspin van humor en deernis oor al die snaakse goed wat met kinders gebeur wat van kleins af maar na hulself moet omsien. Ek het Schoeman op Facebook uitgevra oor haar uitsonderlike debuut:
Jaco Botha
Swartskaap lees soos ’n helder, eerlike outobiografie. Almal gaan dit vra, so kom ons kry dit uit die pad: is jy Claudie?
Odette Schoeman
Ja, en nee. Ja, ek het self baie dele van die boek geleef en plekke en mense ervaar wat ook in Claudie se storie voorkom. Haar verhaal is een wat daagliks gebeur en ek voel dis belangrik om dit te vertel. Ek en Claudie deel dieselfde grootword-dorpe en in sommige gevalle dieselfde drome en vrese, maar sy is baie dapperder en baie meer streetwise as ek.
Nee, ek is ook nié Claudie nie, want nie al die ervarings waaroor ek geskryf het, was my eie nie. Ek het baie daarvan geleen by goeie vriendinne wat oor my pad gekom het. As skrywer gebruik mens fiksie om ’n verskeidenheid redes: om jouself te beskerm en soms om ander mense te beskerm – al verdien hulle dit nie altyd nie. En soms gebruik jy fiksie sommer maar net om die verskillende stories bymekaar te bring.
Dit was moeilik, maar nodig, om Claudie se storie te vertel.
Book details
- Swartskaap by Odette Schoeman
Book homepage
EAN: 9780795702853
Find this book with BOOK Finder!
» read article







